Die klok van die Metodistekerk in Kaapstad se oud-gotiese katedraal weeg 3,5 ton. Dit het in 1897 laas gelui, vertel ds Alan Storey tydens die jaarlikse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Die rede hiervoor,” verduidelik hy, “is omdat siviele ingenieurs bevind het dat wanneer die klok gelui word, dit die fondasies van Kaapstad skud. Dit skud letterlik die fondasies van die omliggende geboue. Dié beeld het ons gemotiveer om die klok spreekwoordelik te lui en met heldergeel baniere die fondasies van die stad op ’n stil, maar visuele manier te skud.”
Die verhaal van die geel baniere word ’n illustrasie van die tema van die Teologiese Dag: “Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: teologie, etiek en burgerlike moed”.
Dié Metodistekerk gebruik die baniere om die inwoners van Kaapstad bewus te maak van aktuele kwessies soos xenofobie, geweld teen vroue, gelyke opvoedingsregte vir almal, die treinvervoerkrisis en gelyke regte vir “queer” mense in Afrika.
Hulle beoog om op 3 Maart, Internasionale Sekswerkersdag, ’n banier teen die kerk se muur te plaas ter ondersteuning van die dekriminalisering van sekswerk. Die banier sal lui: “Jesus het eerste sekswerk gedekriminaliseer.”
Storey bieg dat die kerk in die meeste gevalle nie die liggaam is wat aktuele sake direk aanspreek nie, maar dat dit vanuit die burgerlike samelewing gebeur. “Die burgerlike samelewing leef die evangelie en herinner die kerk só aan die evangelie,” sê Storey.
Hy neem dit ’n stap verder: “Ons as kerk moet ophou om die probleem by ander te soek, aangesien veral Christenskap die bron van die probleem van die onderdrukking en van die sonde is.”
Storey daag kerke uit met vier kerngedagtes, wat ook die motivering agter elke boodskap op die geel baniere is:
“Eerstens moet kerke nie net Christus preek nie, maar hulle moet die gekruisigde Christus preek. Christus kan ’n motiveringspreker, ’n geneser of ’n wonderwerker wees. Die kwessie wat ons moet aanspreek is dat as die Christus wat ons vir mense aanbied nié die status quo uitdaag en onsself kruisig nie, het dié Christus niks met die evangelie te doen nie.
“Tweedens word die kerk nie geroep om te oorleef nie, maar eerder om sy lewe weg te gee. Ons word geroep om profete te wees wat die waarheid praat.
“Derdens moet ons glo dat die wêreld ons gemeente is en nie die gemeente ons wêreld nie. Ons moet na hierdie wêreld omsien en ons lidmate só uitdaag.
“Vierdens moet ons versigtig wees vir die struikelblok van vrees, want vrees verhoed dat ons die waarheid oor ons land praat.”
Storey sluit af met ’n gebed: “Here, help my om U lief te hê, help my om die skepping lief te hê en help my om ander lief genoeg lief te hê dat die liefde wat ek het genoeg is om die vrees te verdryf dat ek kan waag om die waarheid te praat, of dit onverskrokke is of nie.”
