REFORMING MEMORY: ESSAYS ON SOUTH AFRICAN CHURCH AND THEOLOGICAL HISTORY
Deur Robert Vosloo
Uitgegee deur African Sun Media, 2017
Resensie deur Henco van der Westhuizen
In Reforming Memory beskryf Robert Vosloo, sistematiese teoloog aan die Universiteit Stellenbosch, hoe belangrik onthou is in ’n tyd van geheueverlies, van wil-vergeet en verwronge wyses van onthou wat ongeregtigheid laat voortduur.
Vandaar die titel – want dit is nie net van belang dát onthou word nie, maar hóé daar met die verlede omgegaan word. Wat ons onthou (en vergeet) vorm ons, ook vandag. Daarom moet ons herinner word aan die vorme wat ons (wetend of onwetend) aangeneem het en waar dit dalk vandaan kom. Vir Vosloo is die punt nie net dat die herinneringe hervorming voortbring nie. Onthou vra self ook om hervorming.
Hy vra in die eerste deel van die boek daarom vir ’n verantwoordelike historiese hermeneutiek, ’n manier van onthou wat met geregtigheid gepaardgaan – dat geregtigheid aan die verlede geskied en so geregtigheid láát geskied, ook vandag.
Vir Vosloo is dit egter nie so eenvoudig nie, want onthou is broos. Dat wié onthou, wát en wáárom dit onthou (en vergeet) word, belangrik is, is veral duidelik in die tweede deel van die boek, waar hy spesifieke episodes vanuit die NG Kerk se verlede herbesoek (die armoedevraagstuk, verstedeliking, verdeeldheid; verstaan-van-die-Bybel en verhoudinge tussen verskillende kerke). Nie net om die nodige hervorming van dit wat onthou word self nie, maar dat ons ook dáárdeur bly hervorm. Daarom dat sy afsluitende paragrawe vra watter uitdagings hierdie onthou by ons oproep. Hy plaas die gedeelte dalk juis in hierdie deel van die boek, want hy weet die verlede word nie met slotparagrawe herskryf nie.
Teenoor die episodes vanuit die verlede waar die NG Kerk haar dikwels van ’n verbondenheid met ander vervreem het, is die “engaging Reformed” (Calvyn, Naudé, Smit, De Gruchy), aan wie hy die derde deel van die boek wy.
Hy onthou juis hierdie denkers se gasvryheid, wat hom in die vierde deel weer herinner aan hervormende gebruike (die Nagmaal en universiteitsopleiding) en geskrifte (Heidelbergse Kategismus en Belhar).
Hy sê: “In situations where human beings seek for ways to affirm their identity and ensure their survival, which are playing out with increasing frequency in various forms in our … world today, the temptation looms large to compromise the grace of God’s embrace in the name of protecting identity, establishing security or ensuring survival. Amidst these temptations … the church (is reminded) to embody visibly God’s haunting hospitality” (253).
Vosloo se aanvoeling vir hermeneutiek en teologiese analise – ook van ons hedendaagse werklikhede – vra dat “Reforming Memory” deur ieder en elk bedink word.
▶ Dr Henco van der Westhuizen doseer sistematiese toelogie aan die Universiteit van die Vrystaat.
