In Engels lui die gesegde “it’s not official until it’s Facebook official”, en hierdie woorde was nog nooit so waar soos vandag nie. Ons skuif na ’n meer digitale wêreld, waarbinne sosiale media sentraal staan. Met meer as 26,8 miljoen aktiewe internetgebruikers in Suid-Afrika is dit duidelik dat hierdie aanlynwêreld verseker prominent staan. Hierdie wêreld is lankal nie meer net vir “millennials” nie.
Sosiale media is meer as net ’n inskrywing op Facebook. Enige media wat van tweerigtingkommunikasie gebruik maak, word as sosiale media beskou. Dit skep dialoog tussen spreker en gehoor en vra interaksie, goed of sleg. ’n Aktiewe e-posadres is reeds ’n vorm van sosiale media.
Dit is belangrik dat gemeentes hiervan kennis neem. Die kerk is immers konstant besig met kommunikasie. In ’n digitale wêreld is die manier waarop die boodskap oorgedra word, amper belangriker as die boodskap self.
In ’n postmoderne wêreld wat konstant verander, leef gelowiges dikwels ’n lewe los van die kerk. Tegnologie eerder as teologie is die norm en skep ’n gemeenskap wat onmiddellike resultate wil sien en eerder uitgooi as regmaak. Verhoudinge funksioneer eerder oor ’n afstand as van aangesig tot aangesig.
’n Balans tussen die eenvoud van ’n boodskap en die geleentheid vir nadenke moet behou word. Die inhoud van die evangelie kan gedeel word. Tog is daar meer. Daar bly steeds ’n deel van die evangelie wat ervaar en geleef moet word en verweef moet raak in die lewe van ’n gelowige. Die verantwoordelikheid lê dus in die oordrag, ’n balans tussen tegnologie en teologie.
Sosiale media is belangrik, nie ter wille van getalle nie, maar om in voeling te bly met wat in die wêreld aangaan. ’n Aanlyn teenwoordigheid skep die geleentheid vir dialoog. Dit skep die geleentheid vir ’n nuwe verhouding tussen die kerk en gemeenskap. Dis ’n geleentheid vir die kerk om die gemeenskap se hartklop te hoor. Sosiale media reflekteer wat in gebruikers se harte en gedagtes leef.
Vandag is die vraag nie of ’n kerk ’n aanlyn teenwoordigheid behoort te hê nie, maar eerder: Hoe lyk hierdie teenwoordigheid?
▶ Roné Vosloo is ’n MDiv-student aan die Universiteit van die Vrystaat.
