Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Oostelike Sinode het in die begin van hierdie jaar twee Voetsoolsinodes gehou om gemeentes te help om te beplan hoe om in die nuwe jaar meer missionaal kerk te wees. Dit was wonderlik om te hoor hoe sommige gemeentes reeds vir baie jare al besig is om uit te reik en te fokus op mense wat nog nie deel van die kerk is nie.
Die kerk se groot uitdaging is egter om missionale kerkwees deel te maak van elke gemeente se DNS. Party gemeentes is so vasgevang in ’n stryd om oorlewing, dat hulle niks anders raaksien nie as net hoe hulle geld kan inkry om te kan voortbestaan. As ’n mens in so ’n oorlewingstryd gewikkel is, word geld ook die verskoning waarom die gemeente nie kan fokus op missionaliteit nie.
Die praktyk het egter bewys dat as lidmate begin uitreik en betrokke raak by mense wat geestelike of fisiese nood het, kom daar ’n passie wat maak dat opoffering en om ekstra tyd en geld te gee, nie meer ’n probleem is nie.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/Van-der-Spuy-Dirkie5.jpg” caption=”Ds Dirkie van der Spuy is moderator van die Oostelike Sinode en ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Baie lidmate sal saamstem dat die hooftaak van die kerk is om met die liefde van Christus uit te reik na die wêreld. Hulle sal toegee dat elke lidmaat ’n lig moet wees wat nie onder ’n maatemmer nie, maar op ’n staander moet wees. In die praktyk is daar egter altyd soveel verskonings as dit kom by uitreike en die uitdra van die evangelie. Dis dan dat mense ontdek hulle het nie tyd en ook nie die gawes nie.
Die vraag is of die NG Kerk se kultuur nie verander het van ’n sendende kerk wat sendelinge oor Afrika uitgestuur het, na ’n kerk wat gemaksugtig geraak het en blind geraak het vir mense wat nog nie Christene is nie? Bid ons nog vir familie, vriende en mense om ons wat nie die Here ken nie? Is ons gewillig en toegerus om met mense oor ons geloof en ons verhouding met Christus te praat? Word ons prediking, ons afkondigings, ons kleingroeptemas en die kerk se begroting gekenmerk deur die liefde van Christus wat ons dring om uit te reik? Of het ons ’n missionale hart net in teorie? Wanneer laas het ons soos Jesus wat oor Jerusalem gekyk het, bewoë geraak oor mense wat nog nie dissipels van Jesus is nie? (Luk 13:34).
God het ons as mense in ons sonde gesien en ons so liefgehad dat Hy sy Seun gestuur het om vir ons sondes te betaal en aan die kruis te sterf. Jesus het aarde toe gekom om te soek en te red wat verlore is (Luk 19:10). Daarom het Hy uitgereik na ’n vrou by die put en ’n man in die boom wat in sonde vasgevang was en is Hy gespot as ’n Vriend van sondaars (Luk 15:2).
Toe Jesus hemel toe vertrek het, het Hy hierdie missionale taak aan sy volgelinge en die kerk oorgegee. “Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook” (Joh 20:21). Hierdie opdrag het die eerste Christene verstaan, want “sover as wat hulle gegaan het, het hulle die evangelie verkondig” (Hand 8:4).
Mag die Heilige Gees ons as kerk opnuut kom toerus en bekragtig sodat elke lidmaat ’n getuie vir Christus sal wees.
▶ Ds Dirkie van der Spuy is moderator van die Oostelike Sinode en ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.