Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vas en vier

Een van die ou kerklike gebruike wat herleef, is om ty­dens Lydenstyd van iets kleins te vas. Sjokolade of wyn of iets dergeliks. Dis iets simbolies.

Een aspek van dié soort vas is dat dit ’n herinnering is. Die tydelike prysgawe van ’n klein vreugdetjie herinner ons aan die groot prysgawe wat Jesus gedoen het. Hy het, lees ons in Filippense 2, nie aan sy Goddelikheid vasgehou nie, maar Homself verneder. Hy het soos ’n slaaf geword. Uiteindelik het Hy aan die kruis gesterf.

’n Klein stukkie “lyding”, die ontbering van ’n klein plesiertjie, word vir 40 dae lank ’n herinnering aan die lyding van Jesus Christus.

Maar van Aswoensdag tot Opstandingsondag is daar eintlik 46 dae. Die ses Sondae word nie as deel van Ly­denstyd gereken nie. Dit is omdat die Sondag die dag van die opstanding is. Dit is die dag van oorwinning. Van vreugde. Op die Sondag vas jy nie. Jy vier.

En so ontstaan daar in Lydenstyd ’n ritme van ses dae vas en een dag vier, ses dae vas, een dag vier. Ses dae van nadink oor die lyding. Een dag van viering van die opstanding. Ses dae van verootmoediging. Een dag van leef uit die oorwinning.

Dit is ’n ritme wat ’n diep betekenis vir die lewe van ’n ge­lowige dra. Want deur die hele jaar kom daar tye van swaarkry en tye van pyn. Hierdie ritme van Lydenstyd help ’n mens om dán die oorwinning te onthou.

As die spreekwoordelike vyebome nie bot nie en lan­de geen oes lewer nie, help dit ’n mens om soos die profeet Habakuk in die Here te bly jubel.

Want soos die 40 dae ’n mens aan Jesus se lyding her­inner, herinner die Sondag ’n mens aan die oorwinning. Elke Sondag. Reg deur die jaar.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top