Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die onselfsugtige en opofferende liefde van ’n ma vir haar kind het my nog altyd aangegryp. Die opwinding voor die geboorte en die voorbereiding … en dan die geboorte. Vreugde en trane. Maar hier hou dit nie op nie, want dit is jarelange en liefdevolle versorging op die pad na volwassenheid. Daar word in fisiese, geestelike, materiële, opvoedkundige en talle ander behoeftes voorsien. Die afgelope naweek het ek in ’n winkeltrollie gesien wat kos babakos en -doeke … ’n groot deel van ’n huishouding se begroting! En dit word met liefde gedoen.
Die opvoeding en onderrig bly nooit agterweë nie, want die baba moet ’n gebalanseerde volwassene word. Die leerproses word stappie vir stappie aangepak – van ABC tot ekstra wiskundeklasse, kleuterkategese tot belydenis van geloof, jeugaksies tot aktiewe lidmaat. En dan verdere studie, want hoe kan die jongeling sy of haar plek in die samelewing of ’n beroep volstaan sonder deeglike opleiding?
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2018/04/Paul-du-Plessis.jpg” caption=”Dr Paul du Plessis is voorsitter van die Algemene Kuratorium wat toesig hou oor die teologiese opleiding van die kerk.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
En dit is alles waar.
Dit is ook waar van teologiese opleiding in ons eie kerk. Die behoefte om leraars uit eie bodem vir die kerk op te lei het vir jare bestaan, gegroei en uiteindelik gerealiseer met die feestelike opening van die Teologiese Seminarium op 1 November 1859 op Stellenbosch. Die behoefte aan teologiese opleiding in die noorde van die land lei tot die Teologiese Fakulteite van Pretoria en Bloemfontein in die twintigste eeu. Vir baie jare het lidmate, gemeentes, ringe en sinodes gedroom, gebid, met ywer gewerk en die droom nagejaag omdat hulle besef het teologiese opleiding lê in die hart van die kerk. ’n Kerk word geken aan sy teologiese opleiding – dit raak die hele spektrum van die bediening van die Woord.
’n Kerk wat sy teologiese opleiding verwaarloos, is soos ’n ouer wat nie na ’n kind se opvoeding en onderrig omsien nie en dan verwag hy of sy moet hul plek in die samelewing kan volstaan – met rampspoedige gevolge.
Die eise aan teologiese opleiding en teologiese fakulteite het die afgelope jare drasties verander, want opleiding moet aan ’n veranderde konteks beantwoord om leraars op te lei om ware bedienaars van die Woord te wees. Die behoefte aan tweedeloopbaan-studente, diens- of hulpleraars, standplaasleraars met spesifieke bevoegdheid, ouderlinge met beperkte bevoegdheid word gereeld gehoor. Die Algemene Sinode het ook opdrag hieroor aan die Algemene Taakspan Teologiese Opleiding gegee.
Die drie fakulteite doen wonderlike werk om geroepe lidmate (namens die kerk) toe te rus vir die geweldige uitdagings van ons tyd. Talle gemeentes getuig van die nuwe energie en toewyding wat hulle in gemeentes bring. Maar daar is ook stemme van verdagmakery.
Die NG Kerk met al sy lidmate het steeds soos ’n moeder die verantwoordelikheid om die opleiding van sy leraars te koester met gebede, meelewing, liefde en toewyding. Maar ook finansieel, want ons aanvaar so maklik dit gebeur vanself.
As kerk mag ons nooit vergeet dat ons teologiese opleiding in die hart van ons kerk lê nie. Alles moet daar tot eer van ons Here geskied!
▶ Dr Paul du Plessis is voorsitter van die Algemene Kuratorium wat toesig hou oor die teologiese opleiding van die kerk.