Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Só kan jy jou kind se brein bedraad

’N GELUKKIGE KIND – BEMAGTIG JOU KIND OM POSITIEF TE DINK
Deur Pieter van Jaarsveld
Uitgegee deur Lux Verbi
Resensie deur Lynette van Wyk


Borrelende jong peuters ontaard te maklik in gekwelde jongmense wat alle hoop op geluk verloor. Hoe verhoed ons dat dit gebeur?

Hoe ontstellend is dit dat ’n negatiewe of gespanne persoon binne die bestek van 2-16 minute ’n invloed op ’n ander persoon se emosies kan hê? Die ouer-kind-verhouding verander nie net die kind se gedagtewêreld nie, maar ook die kind se brein. Jy as ouer kan bepaal of jy jou kind se brein kalm of stresvol bedraad. Hierdie bedrading bepaal uiteindelik die kind se benadering tot die lewe. As ’n mens verder die navorsing in ag neem dat stres 74-91% van alle siektes veroorsaak, asook die toenemend stygende persentasie selfdoodgevalle by jong kinders, is hierdie ’n uiters tydige boek.

Die neurale netwerke word in die eerste sewe jaar van jou kind se lewe gevorm. Met sy kennis van spieëlneurone en neuroplastisiteit moedig Van Jaarsveld ouers aan om hulle kinders se breinbedrading met tegnieke en vaardighede so te verander dat hul vlak van geluk kan styg. Wat vir jou soos ’n onbegonne taak lyk, word deur die skrywer, met ’n uitgebreide lys van wetenskaplik nagevorsde bronne, op ’n bevatlike wyse in gewone taal met oefeninge en speletjies aangebied. Sy verwysing na resente gevallestudies maak die boek oortuigend en toeganklik vir elke ouer, grootouer of opvoeder.

’n Gelukkige kind – bemagtig jou kind om positief te dink, volg op Gee jou kind selfvertroue, Hart van ’n wenner en Dink jouself gelukkig.

▶ Lynette van Wyk is ’n vroeëkinderontwikkelingkundige.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top