Wat jy verwag van die Bybel, bepaal hoe jy dit lees. Die Bybel is nie ’n kookboek met ’n resep vir elke situasie nie. Dít is Pete Enns se opsomming van hoe Christene die Bybel behoort te benader. Enns is ’n professor in Bybelwetenskap en outeur van die boek The Bible tells me so: Why defending Scripture has made us unable to read it.
Hy stel voor dat ons moet “stoei” met moeilike Bybelse onderwerpe eerder as om maklike antwoorde daarvoor te soek. In elke hoofstuk stoei hy self met só ’n vraag: “Waarom gee God vir die Israeliete die opdrag om die Amalekiete aan te val en elke man, vrou, suigeling, bees, skaap en donkie dood te maak?” (1 Sam 15:2-3). Beteken dit Hy is ten gunste van volksmoord? Waarom is daar teenstellings, soms direk langs mekaar?
Die gesprek, wat Enns in boekformaat begin het, word voortgesit in oudio-formaat in die reeks The Bible for normal people: Serious talk about the sacred Book.
Enns nooi ander prominente outeurs en teoloë om hulle opinies en worstelinge met die Bybel te deel. Greg Boyd en Brian McLaren verduidelik hoe gevaarlik dit is om die Bybel as ’n wapen te gebruik (episode 28 en 35), Jen Hatmaker vertel in episode 34 van haar persoonlike uitdagings nadat sy haar standpunt oor sekere onderwerpe verander het. Begin met Richard Rohr se onderhoud (episode 40), oor die inspirasie van die Skrif, as jy ’n beter idee van die algemene inhoud wil kry.
Enns wil ook “gewone mense” help om ’n beter verstaan van Bybelboeke te kry. Daarom bespreek hy in sommige episodes die struktuur van Bybelboeke en -verhale: 5 dinge wat Jesus wil hê jy van Adam moet weet (22), 7 dinge wat jy moet weet oor hoe Spreuke werk (36) asook die 10 beginsels vir Romeine (45).
Sit dit aan en wees gereed om ’n nuwe waardering vir die kompleksiteit van hierdie antieke reisverhaal te kry.
Luister by thebiblefornormalpeople.podbean.com daarna.
▶ Ds Mynhardt van Zyl is ’n predikant by die NG gemeente Lorraine in Port Elizabeth.
