NAAMDRAERS VAN JESUS – WELLINGTON SE DONKIES
Pieter Bingle (samesteller)
Uitgewer: Christelike Lektuurfonds, 2018
Resensie deur Sarah Jane Wessels
Dat ’n verruklike verrassing is hierdie boek oor die Sendinginstituut in Wellington nie! Ek kon my oë nie glo nie. As dogter van ’n sendelingpredikant het ek diep respek ontwikkel vir die eerwaardes.
“Donkies” is ’n erenaam wat na aanleiding van Christus wat op ’n nederige donkie Jerusalem binnegekom het, deur ds Andrew Murray toegeken is aan diegene wat by die Sendinginstituut opgelei is.
Die eerste gedeelte vertel van die eerste lesings wat vanaf 1903 in die vorige Drostdy-gebou in Worcester aangebied is. Die NG Kerk het dit in 1902 aangekoop. Ter wille van die krygsgevangenes wat wou sending-werk doen, is dit die “Boeren Zending School” genoem. Die Hugenote Kollege in Wellington is in 1872 deur Andrew Murray gestig. Die gebou, genoem Samuel (dis ook op die voorgewel aangebring), is in 1957 deur die NG Kerk se sinode tesame met die Sendinginstituut gesluit.
Samuel het diep in die studente se harte gekruip. By die laaste afsluiting was dr GBA Gerdener, vorige dosent, se teks 1 Samuel 25:1: “… en Samuel het gesterf”. ’n Totaal van 567 donkies het in Wellington afstudeer.
Dit is betreurenswaardig dat die “eerwaardes” nie dieselfde status as predikante geniet het nie. Dit het gesorg vir menige paternalistiese, hartseer verhale. Dit is ’n donker hoofstuk in die geskiedenis van die NG Kerk en het ook bygedra tot die formulering van die teologie van apartheid.
Die Sinode van Wes-Kaap het in 1961 wel aan “eerwaardes” dieselfde status as aan “dominees” toegeken.
Die tweede gedeelte is opwindende en boeiende outobiografieë, vanaf die eerste sendeling wat tot die sendingbediening toegelaat is en aan die sendelingsinstituut te Stellenbosch studeer het, tot die laaste in 1881, Hennie van Niekerk, wat in Worcester in 1962 gelegitimeer is.
Hier word ware verhale blootgelê van die roeping, studie, werk, rou hartseer en vreugdes van geroepe sendingwerkers.
’n Alfabetiese register sou ’n waardevolle en handige toevoeging tot ’n andersins puik publikasie gewees het.
As jy nie dadelik die boek lees nie, doen jy jouself ’n groot onreg aan.
▶ Ds Sarah Jane Wessels is ’n emeritus-leraar wat nog met vreugde aflos waar leraars afwesig is.