Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vier reëls vir internetgebruik

Dit blyk dat Suid-Afrikaners nie net op die land se paaie sukkel om goeie maniere aan die dag te lê nie. Volgens Microsoft, wat onlangs hulle tweede “Digital Civility Index”-verslag bekend gestel het, is ons gedrag op die digitale hoofweg net so sleg.

Die navorsingsprojek het internetgebruikers in 23 lande oor sake soos hoflikheid, ongevraagde kontak, trollery, seksboodskappe en teistering uitgevra. Sowat 65 persent van die respondente het aangedui dat hulle slagoffers was van minstens een van die aanlynrisiko’s wat deur die studie ondersoek is.

Die DCI-verslag bied ’n skatkis van inligting oor die aard van die aanlynrisiko’s. Dit vergelyk onder meer die belewenisse van volwassenes met tieners, van mans met vrouens, en van die groter kultuurgroeperinge wêreldwyd.

Waar val Suid-Afrikaners op die hoflikheidsindeks? Die indeks werk soos ’n gholftelling: hoe laer die persentasie, hoe beter het ’n land gevaar. Uit die 23 lande blyk dat Suid-Afrikaners se digitale volwassenheid, met ’n indekstelling van 77%, naas Peru, die swakste in die wêreld is.

Volgens die 2017-studie word ongevraagde kontak aangedui as die grootste aanlynrisiko waarmee Suid-Afrikaners te doen kry. Ongevraagde kontak word omskryf as wanneer iemand jou kontak (telefonies of persoonlik) met inligting wat hulle op die internet verkry het, en sonder dat jy toestemming gegee het dat jou inligting gebruik mag word.

En in Suid-Afrika is die tweede grootste risiko internetbedrog (“hoaxes”) en, derdens, ongeskikte behandeling deur ander.

As uitvloeisel van hierdie navorsing het Microsoft ’n “Digital Civility Challenge” geloods. Om daaraan deel te neem, moet jy onderneem om daagliks vier goed te doen:

– Leef die goue reël van empatie, goedhartigheid en saggeaardheid uit in elke interaksie.

– Respekteer verskille en eerbiedig ander se sienings. As jy verskil, vermy persoonlike aanvalle en beledigings.

– Wag voor jy antwoord op iets waarvan jy verskil en vermy om enigiets te plaas wat ander mense te na kom.

– Staan op vir jouself en ander wanneer hulle aanlyn geteister word, deur die gedrag te rapporteer en die bewyse te stoor.

Meer inligting oor die Digital Civility Challenge kan, met ’n bietjie soek, by www.microsoft.com verkry word.

▶ Dr Guillaume Smit is predikant van die NG gemeente Brackenfell-Wes.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top