Dit was die Lausanne-konferensie wat jare gelede vorendag gekom het met die slagspreuk dat die hele kerk die hele evangelie na die hele wêreld moet bring.
Dié slagspreuk het ontstaan toe daar ’n sterk verdeling tussen verskillende kerklike strominge was. Aan die een kant was daar die evangeliese kerke wat klem gelê het op ’n boodskap van geestelike redding. Aan die ander kerk was daar die ekumeniese stroom wat klem gelê het op kwessies van geregtigheid.
By die laaste Lausanne-konferensie in 2010 in Kaapstad was daar duidelike tekens dat dié twee strome nader aan mekaar beweeg het. Nie een van die twee het die volle evangelie beetgehad nie. Sowel geestelike redding as kwessies soos geregtigheid vorm deel van die evangelie.
In die NG Kerk is dit ook vandag belangrik om te onthou dat die volle evangelie ’n rykdom van perspektiewe bied.
Een kant van die evangelie is die saak van sondeskuld, vergifnis en redding.
’n Ander kant is dié van verslawing of verdrukking en bevryding, soos ons in die Eksodusverhaal kry.
Nog ’n kant van die evangelie is die verhale van vervreemding en tuiskoms, soos ons dit in die ballingskapsverhaal lees.
Die evangelie het ook ’n kant van gebrokenheid en heling, soos gesien kan word in Jesus se genesings.
En dan kan die evangelie hom ook voordoen in verhale van dood en nuwe lewe, soos ons dit vind in Jesus se kruisiging en opstanding.
’n Mens sou seker ook op nog ander maniere oor die evangelie kan praat.
Soms oorvleuel dié metafore, sodat ’n mens in een spesifieke geval iets van verskillende van hierdie verhale kan sien. Maar soms is dit juis die een en nie die ander nie.
Dit is belangrik om die veelkantige rykdom van die evangelie te onthou. Om altyd net op een perspektief te fokus, sou ’n ernstige verskraling van God se blye boodskap wees.
