Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Praktiese gids vir dié wat kinders vorm

Kweek kinders met heel harte
Deur Hettie Brittz

Lux Verbi, 2018
Resensie deur Delmarie Viljoen


Kweek kinders met heel harte is ’n praktiese en insiggewende boek vir elke ouer of rolspe­ler wat kinders wil help vorm volgens God se wil. Die skrywer bespreek op ’n informele wyse en met ’n gemaklike skryfstyl ’n klomp vrae waarmee moderne ouers worstel. Selfs geloofswaarhede wat dikwels vir volwassenes moeilik is om te verstaan en dikwels nóg moeiliker is om verstaanbaar vir kinders te verduidelik, word in eenvou­dige spreektaal en met praktiese voorbeelde aangebied. Deurlopend is dit opvallend dat ouers betrokke moet wees by kinders se algehele en geloofsvorming. Dit is die voorbeeld wat ouers as opregte en deurleefde Christene stel, wat die beste leerskool vorm vir die vestiging van geloofswaarhede.

Selfs ouers se tekortkomings en foute, wat hulle dikwels in ’n penarie laat wanneer hulle ’n geloofwaardige voorbeeld vir hulle kinders wil wees, word ook aangewend vir geestelike opbou. Oor kwessies soos die invloed van die wêreldkultuur deur onder andere sosiale media, internet en flieks, bied die skrywer proaktiewe raad waarby ouers kan baat.

Die versorging van kinders se harte en menswees word ook bespreek. Sake soos eiewaarde, selfbeeld, verwerping en emosionele intelligensie word bespreek om ouers te help verstaan wat in hulle kinders se hart aangaan. Goeie en doelgerigte kommunikasie en betrokkenheid vorm die sleutel om kinders se harte te versorg en te vorm. Rolspe­lers wat die kinders in hulle sorg wil help om te verstaan en te word wie hulle in God se oë is, sal veral die tweede gedeelte in die boek sinvol vind.

Die derde afdeling fokus op die vorming van kinders se karakter, soos ons dink dit by gelowiges pas. Kinders se karakter en identiteit word gevorm deur hulle gedagtes, wat hulle besluite en optrede beïnvloed. Daarom word daar ver­al gefokus op hoe om kinders te help dink oor praktiese karaktereienskappe en dit ook uit te leef, deur verskeie posi­tiewe eienskappe teenoor die negatiewe eienskappe te stel.

Die boek vra dat ouers en rolspelers aktief – en dalk ook anders – moet begin dink oor die invloed en vorming wat húlle op hulle kinders het. In ’n wêreld waarin tyd saam met mekaar só kosbaar raak, is dit belangrik dat die tyd wat ons saam kan spandeer en die invloed wat ons in daardie tyd kan hê, sinvol en deurdag sal wees. Hiermee sal die boek jou verseker help.

▶ Ds Delmarie Viljoen is predikant by die NG gemeente Queenstown.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top