Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Jesus diskrimineer nie. Die goeie nuus van die evangelie is juis dat Christus nié diskrimineer nie.
Wanneer Jesus kán diskrimineer – teen belastingontduikers soos Saggeus, of skeptici soos Thomas, of lafaards soos Petrus, of verraaiers soos Judas; teen siekes, teen kinders, teen vroue, teen vyande – diskrimineer Jesus nié. Wanneer die diskriminasie billik, verstaanbaar, of geregverdig sou wees – soos teenoor die vrou wat egbreuk pleeg, maar vir wie Jesus nie veroordeel nie – selfs dán diskrimineer Jesus nié. Hiérdie Jesus se genade word sonder enige diskriminasie geskenk. Dit is immers presies die definisie van genade. Genade word nie verdien nie. Genade kan slégs ontvang word.
Dit is daarom nie net vreemd nie, maar ook teologies uiters riskant om ’n saak uit te maak vir ’n gekwalifiseerde vorm van kerklike diskriminasie. Ons diskrimineer byvoorbeeld deur addisionele voorwaardes, soos selibaatskap, aan gay persone te stel vir toegang tot (een van) die ampte. Al mag daar ook ánder argumente daarvoor wees, is daar geen goeie teologiese argument vir “billike” diskriminasie nie. Wat veral kommerwekkend is, is om te lees dat sommiges hulle beroep op die uitverkiesingsleer ter regverdiging hiervan. Dit is nonsens.
In die NG Kerk is dit egter nie net nonsens nie. Dit is ook gevaarlik. Hiermee is ons terug by “die swakheid van sommiges”. Presies hierdie logika het die 1857-besluit oor “die swakheid van sommiges” onderskraag, toe die nagmaal afsonderlik aan (bruin) plaaswerkers en (wit) plaaseienaars bedien is. Daar is reeds by herhaling uitgewys dat hierdie besluit – wat deur pragmatiese liewer as teologiese oorwegings gemotiveer was, en wat ’n kompromisbesluit was wat later sou verhard tot apartheidsteologie – verreikende gevolge sou inhou.
Hier sit ons immers vandag nog in aparte gereformeerde kerke, en bly ons pogings om die NG Kerk en VGK te herenig, misluk. Ons het tot vandag toe nog nie die fout van 1857 kon regstel nie. Ons hoef nie ver te gaan soek om te sien waarheen die swakheid van sommiges ons bring nie. Diskriminasie van énige vorm – hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie – is gevaarlik in die NG Kerk. As ons nie leer uit ons verlede nie, sal ons die foute van ons verlede bly herhaal.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Nadia-Marais-swart.jpg” caption=”Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
In die debat oor selfdegeslagverhoudings behoort ons daarom teologies paraat te wees, want hier is daar nie net sprake van een vorm van diskriminasie nie, maar inderwaarheid dubbele diskriminasie. Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.
Maar daarmee saam is die tentatiewe teologiese argumente ten gunste van sogenaamd “billike” diskriminasie ook teleurstellend. In die kerk behoort ons nie te streef daarna om met soveel diskriminasie as moontlik weg te kom nie. Ook behoort ons onsself nie op die skouer te klop as ons besluite binne sekere parameters vir ’n minimum toelaatbare hoeveelheid diskriminasie val nie.
Die kerk is die gemeenskap van begenadigdes. Die basis vir ons saamwees is dat ons almal ewe min die genade verdien. So beskryf Friedrich Schleiermacher in sy dogmatiek hoe die kerk genade ontvang. Soos wat Adam die virus van sonde onder die mensdom versprei, so versprei Christus – die tweede Adam – die virus van genade, skryf hy. Niemand spring dit vry nie. In God se keuse vir Christus, in God se uitverkiesing van Christus, ontvang ook óns hierdie verkiesende genade.
Ons regverdiging van diskriminasie verraai ons verwronge greep op genade. Vir die kerk was genade nog altyd riskant. Genade kan egter nie gerantsoeneer word nie. Genade word nie op voorwaarde – selfs die voorwaardes van die kerk – geskenk nie. Genade is nie billik, of verstaanbaar, of voorspelbaar nie. Nie een van ons ontvang genade omdat ons goeie, vroom, ordentlike mense is nie. In God se verkiesende genade is almal begenadig. LGBTQI+ persone is nie mínder begenadig as heteroseksueles nie.
Indien enigiets buite-om God se verkiesende genade – wat Christus kies, in wie elkeen van ons ook gekies is – ons red, is ons terug by die oudste versoeking vir die kerk. Die berugte ketters in die kerk se geskiedenis – soos Pelagius, vir wie goeie werke ’n rol speel in ons verlossing; en Arminius, vir wie geloof ’n rol speel in ons verkiesing – het juis aangevoer dat ons ’n hand het in ons eie verlossing. Kerklike konsilies het van die vroegste sinodesittings af beslis dat sulke variasies op die verlossingsleer dwaalleer is. Die teologiese prioriteit vir genade is by die deurslaggewende kerklike vergaderings gehandhaaf.
Dit blyk ’n uitdaging te wees om hierdie selfde teologiese prioriteit vir Godgegewe genade te handhaaf binne die debatte van ons tyd. Genade laat nie ruimte vir diskriminasie nie.
Genade beteken géén diskriminasie.
▶ Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.