Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe leef ek my geloof?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die NG Kerk se geskiedenis sal 2018 altyd aangeteken wees as die jaar waarin daar in die hof, pers en gesprekke in die sosiale media verskeie debatte gevoer is oor die verstaan van die Woord van God.

In ons gemeente het ons lidmate probeer begelei om in hulle nadenke, verstaan en soeke na die wil van God op drie vlakke na te dink. Ons stel dit met drie konsentriese sirkels voor.

Ons eerste, binneste sirkel noem ons kerngeloof. Hierdie sirkel omvat die kern van dit waarin alle gelowiges oor die wêreld glo soos geopenbaar in die Skrif. Oor hierdie kernwaarhede is daar weinig verskil tussen gelowiges. Hierdie kerngeloof word Sondag na Sondag deur gelowiges in kerke dwars­oor die wêreld bely.

Ons tweede sirkel omskryf ons as ons toegepaste geloof, of die kerklike tradisie waarin ons staan. Die sirkel beskryf hoe gelowiges hulleself deur die eeue saam gegroepeer het rondom hulle verstaan en interpretasie van die Woord van God ten opsigte van hul kerklike, gemeenskaps- en missionale lewe.

Dit het tot gevolg gehad dat daar verskeie verskillende kerklike tradisies ontstaan het. In elke tradisie ontwikkel eie geloofsgebruike en belydenisskrifte – byvoorbeeld Ortodoksie, Rooms-Katolisisme, Ge­re­formeerdheid, Metodisme, en die Evangeliese en Pinkstertradisies.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/03/Noorde-Dewyk-Ungerer-2.jpg” caption=”Dr Dewyk Ungerer is moderator van die Noordelike Sinode en aktuarius van die Algemene Sinode.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Vandag erken en bely ons dat God veel groter is as enige enkele tradisie en dat ons deur die verskillende tradisies saam sy volheid beter kan beleef. Ons behoort natuurlik aan die Gereformeerde tradisie omdat ons daarin die meeste tuis voel ten opsigte van gebruike en belydenisse.

Die derde of buitenste sirkel omskryf ons as ons persoonlike geloof. Hierdie buitenste sirkel omsluit my persoonlike geloofsverhouding met God waar ek aanvullend tot my kerngeloof en my toegepaste geloof ook in ’n eiesoortige persoonlike verhouding met God staan.

Binne hierdie persoonlike geloofservaring vind ek God deur sy Woord en Gees wat my verlig oor hoe ek as individu, voor en vir Hom moet lewe. ­Hierdie verhouding is egter persoonlik en wat vir my geld (of wat God aan my persoonlik sê), geld nie noodwendig vir die gelowige langs my op presies dieselfde wyse nie.

So kan God van my vra om selibaat te bly, of om nie drank te gebruik nie, of om sendingveld toe te gaan of my motor vir ’n goeie saak weg te gee. Dít wat God van my in my geloof vra, kan ek egter nie verwag dat my broeder en suster langs my ook net so moet nakom of leef nie – van hulle mag God dalk iets anders vra of verwag. Dit word deur God aan hulle persoonlik geopenbaar.

Daarom as ons Sondag ’n erediens bywoon, hoor en verstaan ons nie almal die boodskap dieselfde nie. God maak aan elkeen sy wil persoonlik en eiesoortig deur sy Gees bekend. Ek moet egter altyd waak dat ek nooit my persoonlike geloof en dit wat God aan my openbaar, verhef asof dit die kern van geloof is en almal dit net so moet hoor en verstaan nie.

Dr Dewyk Ungerer is moderator van die Noordelike Sinode en aktuarius van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top