Elna Mouton: Nuwe rol by nuwe sentrum
Ná sy reeds in die 1970’s ’n diploma in Christelike dienswerk by die Hugenote Kollege voltooi het, is Elna Mouton terug op Wellington.
Die 67-jarige Mouton het vandeesmaand by die nuwe Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in die hart van dié Bolandse dorp ingeval, waar sy voorts die kapelmeester genoem sal word wanneer die sentrum amptelik op 24 Februarie geopen word.
Die posbeskrywing mag haar vir oningelyfdes soos ’n tipe heilige faktotum laat klink, maar dit verg stellig ’n Elna Mouton om dit sy volle betekenis te gee.
“Dit was vir my so deel van God se humorsin dat ek aan die einde van my formele lewe genooi word om hierdie baie belangrike rol in te neem. Die plek waar ek vertrou word met die begeleiding van leiers, van predikante, van lidmate –’n hele spektrum van mense. Alles waarmee ek besig was; al was dit nie formeel vir die kerk nie, besef ek nou hoe God besig was met ’n groter prentjie wat my voorberei vir dié pos.”
In die koelte van ’n seminaarkamer by Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie waar Mouton op haar dag dekaan was, het dié emeritusprofessor in Nuwe Testament onlangs op ’n warm somermiddag met Kerkbode gesels oor haar ‘tuiskoms’ na Wellington en die aard van haar nuwe werk.

“Ek beskou hierdie roeping as ongekwalifiseerde genade,” vertel Mouton. “Ek kan as ’n soort spilpunt my lewenservaring met verskillende kerke, verskillende bedieninge en die akademie éffektief in my nuwe pos gebruik. Die samewerking met baie verskillende kerke werk soos ’n collage mee tot die taak waarvoor die Here my nou roep. Die ongewone verhaal van my legitimasie begin nou sin maak,” voeg sy by met verwysing na die feit dat Mouton op relatief gevorderde leeftyd gelegitimeer is. Trouens, laasjaar eers.
Sy was jare lank, terwyl sy deel van die akademiese establishment op Stellenbosch was, versigtig daarvoor. “Ek wou myself identifiseer met diegene wat nie deel van die hoofdiskoers op Stellenbosch is nie,” aldus Mouton. “Toe kom die groot verrassing vir my aan die einde van 2018 waar die kuratorium vir my nader en vra of ek beskikbaar sal wees om gelegitimeer te word.”
Sy lê klem op die kuratorium se motivering vir dié stap: “Eerstens was dit om my rol in opleiding van teologiese studente te vier en tweedens as ’n regstelling teenoor vroue wat nie regmatige geleentheid gehad het om in die predikantebediening tot hulle reg te kom nie. My legitimasie beteken dat ek nou self oor ’n wyer veld beskikbaar kan wees in die bediening. Dit was in hierdie konteks vir my ’n aangename verrassing toe die verteenwoordigers van Sinodale Taakspan vir Toerusting vir my vra of ek beskikbaar sal wees om by Wellington hierdie nuwe sentrum as ’n gasvrou, kapelmeester en begeleier van geloofsvormende prosesse betrokke te raak.”

En nou dink die fiere prof met die verstandig-kort geknipte kapsel terug oor haar pad tot kapelmeesterskap op ’n spogperseel wat oor die Hawekwaberge uitkyk. Mouton is vroeg in haar lewe na die Transkei geroep en sy wou haar so goed as moontlik vir dié taak voorberei. “Ek wou kruiskultureel werk en dit het my toe op die ou einde by Wellington gebring. My tyd (hier) was ’n goeie verlengstuk van die BA-graad wat ek by die Universiteit van Stellenbosch gedoen het. Ek besef vandag dat my pad deur Stellenbosch, Wellington, die Transkei en deur ander Afrikalande soos Malawi, Zimbabwe, Mosambiek, Angola, Kenia, Ghana en Zambië vir my in ’n spiraal van denkwyses, drome, kritiese vrae en diskoerse gebring het waar ek nie anders kon as om ernstig na te dink oor die rol en relevansie van die kerk in Afrika nie,” vertel Mouton.

Sy sê die vier verskillende tersiêre instansies waar sy studeer het (Universiteit Stellenbosch, Hugenote Kollege, Universiteit van Port Elizabeth, Universiteit van die Wes-Kaap) is ’n sterk fondament vir haar nuwe rol. “Wanneer ek nou terugkyk op my lewe dan besef ek dat ek ’n karakter in ’n groter verhaal is,” meen Mouton. “God het die choreografie fyn beplan.”
