Maatskaplike werkers moes hulle tot die hooggeregshof in Pietermaritzburg wend om sowat 200 kinders – van babas tot tieners – terug in hul sorg te kry ná “dramatiese en traumatiese” ingryping deur die plaaslike regering in KwaZulu-Natal.
Daar hang steeds ’n wolk oor twee uit die ses kinderhuise van die NG Kerk se barmhartigheidsarm in KwaZulu-Natal na ’n omstrede “byna militêre” toetrede by Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en ’n baba-eenheid ook op Newcastle.

Sowat 200 inwoners is die naweek van 16 Februarie uit die sentrums verwyder ná ’n “fluitjieblaser” glo bewerings van onder meer rassisme en die gebruik van die k-woord aangemeld het, volgens Ncumisa Ndelu, ’n woordvoerder vir die Departement van maatskaplike ontwikkeling in dié provinsie.
Ds Gerhard Botha, hoof uitvoerende beampte van KwaZulu-Natal Maatskaplike Dienste, het aan Kerkbode gesê werknemers van die sorghuise sal hul volle samewerking gee in die ondersoek wat teen 18 Maart afgehandel moet wees, luidens ’n hofbevel wat enkele dae na die intervensie toegestaan is.

Botha het gesê indien die bewerings wat tot die optrede gelei het waar is, dit oopgevlek moet word. “Ons gaan niks onder die mat vee nie,” het hy op 21 Februarie aan Kerkbode gesê.
Botha het die departement intussen fel gekritiseer en hul optrede tydens die voorvalle as “absoluut skrikwekkend” beskryf. Die ontruiming van die kinders is volgens hom met “byna militêre presisie uitgevoer” ondanks die feit dat aantygings teen Môrester nie vroegtydig aan hom gewys is nie en hy “verras sou wees” indien dit waar is.

Dr Barry Tolmay, moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal, het oor die aantygings wat ondersoek word, gesê enige uitwas van rassisme of liefdeloosheid sal nie geduld word nie.
Hy het bygevoeg dat hy volle vertroue het in “die groot werk” wat Botha verrig by CMD. Hy het verduidelik dat dit ’n onafhanklike organisasie is wat “parallel tot die kerk” werk.
Tolmay het gesê die beweerde rassisme kom te midde van “goeie ekumeniese brûe” in dié provinsie.
Volgens Botha het gewapende polisielede die departementspan vergesel tydens die ontruiming, wat inwoners getraumatiseer het. Ndelu het in reaksie hierop gesê die polisie is slegs op Ladysmith ontbied toe daar nie samewerking gegee is met die ontruimingsproses nie.

Die 150 kinders van Ladysmith en sowat 50 van die twee instansies op Newcastle het vir meeste van die daaropvolgende week in ’n hoëvlak-toutrek tussen kerkorganisasie en plaaslike regering beland toe Botha se regspan suksesvol was met ’n dringende hofbevel wat bepaal het dat die kinders vir die duur van die ondersoek na hul blyplekke moet terugkeer. “Ons prys die Here dat die belange van ons kinders geseëvier het, ons bedank die gemeenskap en ander organisasies vir hul ondersteuning en gebede,” het Botha luidens ’n verklaring gesê.
Rassisme is teen die etos van die organisasie waar hy al vyf jaar aan die stuur is, aldus Botha. En die span is veelrassig, het hy bygevoeg.
Die volgende belangrike punt in die ondersoek sal 25 Maart wees wanneer die regter op sterkte van die uitslag van die ondersoek die lot van die kinders sal bepaal.
