Oop vir die oomblik?

Die Sondag moes hy nog ’n diens lei vir ’n vriend wat gesterf het, vertel Strydom Bruwer. Die Maandag volg daar toe ’n voldagvergadering met die direksie van Bybel-Media, waar hy in Maart verlede jaar aan­ge­stel is as ontwikkelingsbestuurder: BM Fondse.

Omstreeks 17:25 stap die 58-jarige dominee na sy motor vir die rit huiswaarts – van Kerkstraat 69, Wellington tot in Somerset-Wes waar hy woon.

Maar tussen Windmeul en Klapmuts, versper ’n voertuig albei bane van die Agter-Paarlpad.

Strydom hou stil. “Daar was ’n doodse stilte daar,” vertel hy. Hy sien mans wat “lyk asof hulle hoenderkratte van ’n bakkie aflaai”. “Hoekom sou jy dit doen?” wonder hy waar hy in sy motor bly sit. Een man kom tot by sy venster. “Die volgende oomblik wys hy vir my sy rewolwer en hy rig dit op my. Wat toe deur my gedagtes gaan, is: dis my dag.”

Die man dwing Strydom toe uit sy motor. “Give me your keys, give me your cell phone”.

Strydom vertel stadig aan die volgende deel van die storie, waar hy enkele dae na die voorval terug op kantoor is. “Toe besef ek: nou is ek ’n lammetjie. Nou moet ek presies doen wat hy vir my sê.”

Dit blyk toe dat Strydom Bruwer, nog effens rou van Sondag se roudiens en effens moeg van Maandag se meetings, doodluiters op die toneel van ’n transito-rooftog beland het. Dit was twee dae voor ver­kiesingsdag en waar hy laatmiddag uit Wellington weg is, het hy 21:15 daardie aand ’n misdaadtoneel verlaat – waar hy ook tot ’n nuwe insig gekom het.

Hy vertel hoe die man met die wapen hom uit die kar beveel het: “‘Go! Run! I’m going to shoot you!’ Ek hardloop toe teen ’n wal uit om net weg te kom. Nou dink ek net hy gaan my skiet, en nou wonder ek waar. Gaan hy my in my kop skiet, in my lyf skiet? Gaan ek dit oorleef? Net so ’n flits het deur my kop gegaan – van die vorige dag se begrafnis wat ek gehad het en gesê: ‘Gister was dit (sy vriend). Vandag is dit ek’,” vertel Strydom.

Maar die rower het nie geskiet nie.

Strydom vat ’n sluk van die groot glas water wat voor hom op die tafel in sy hoekkantoor op die tweede verdieping van Bybel-Media se hoofkantoor staan. Hy vertel hy was toevallig aan ’t lees aan ’n boek deur Willem Nicol, Oop vir die oomblik – Nader aan die hier en nou met die Here. “Die boek maak vir my baie sin. Ons is so geneig om te dra aan die bagasie van die verlede. Of te ly onder die onsekerheid van die toekoms. Maar die enigste werklikheid is die nou van vandag.

As jou lewe afhang van iemand anders, besef jy die oomblik is báie kosbaar.” – Le Roux Schoeman.