Dr Gert Duursema het hom aan die werksaamhede van die algemene sinode onttrek. Hy het voorheen as verteenwoordiger van Noord-Kaapland opgetree.
“Om alle moontlike misverstand uit die weg te ruim: dit gaan geheel en al glad nie om “die gay-kwessie” óf om hetsy die 2015- of die 2016-besluite as sodanig nie. Dit gaan daaroor dat gesprek oor hierdie saak nie meer in die lig van die Woord van God gevoer kan word nie,” het hy per e-pos aan Kerkbode gesê.
“Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, het onderstaande gesirkuleer: ‘Die ASM het besluit om nie verder met regsprosesse voort te gaan en die uitspraak van die hoë hof van 8 Maart teen te staan nie. Die kerklike gesprek oor die selfdegeslagverhoudings sal voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak.’
“Na my mening staan of val die kerk as kerk op hierdie punt. As ons nie die godsdiensvryheid het om self te besluit wat ons hoor die Here in sy Woord vir ons sê nie, het ons ons bestaansreg as kerk verloor. Vir my gaan dit by oorweging van ’n appèl nié om selfdegeslagverhoudinge nie, maar om die Sola Scriptura; die reg om na die Skrif alleen te luister, die reg om teenoor die staat – en selfs teenoor die grondwet te staan en te sê: ‘So spreek die Here …’ Dit is veelseggend dat die sogenaamde ‘kerklike gesprek’ voortgesit word ‘met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die hofuitspraak’. Géén woord word gerep oor gesprek wat voortgesit word met respek en volle inagneming van die betekenis en implikasies van die Skrif nie. Die Skrif word hierdeur ondergeskik gestel aan die uitspraak van die hof. Daar is géén sprake meer dat die NG Kerk uniek, eiesoortig, sui generis, met Christus alleen as Hoof, Meester en Koning daarvan is nie.”
Oor die pad vorentoe sê Duursema: “Ek is ’n lidmaat van en bedienaar van die Woord van die NG gemeente Kimberley Bet-El – ’n klein gemeente bruin mense. Toe ek die kerkraad en die gemeente van my besluit ingelig het, wou hulle uiteraard weet hoe dit hulle raak. Ek het aangebied om hulle te bly bedien solank as wat hulle my daartoe roep. Hulle antwoord was: ‘Dominee, as jy loop, sal jy sien hoe toyi-toyi ons daar voor jou huis!’ Die kerkraad en gemeente steun my en ek sal die kudde van die Here nie in die steek laat nie.”
