Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Foto: Le Roux Schoeman

Versoening: ‘Ek kan nie nié hierby betrokke raak nie’


’n Eenvoudig dog aangrypende getuienisvideo met die ontnugterings en lesse wat ’n groep jong NG leraars oor “witwerk” en versoening geleer het, het die meer as 600 mense in die raadsaal by Goudini tot doodse stilte gebring.

“Dit gaan daaroor dat ek ’n onvermoë het om sekere mense lief te hê. En ek moet dit erken,” sê ds Louis van der Riet, een van die dominees in die video wat op die grootskerms by die Wes-Kaapse sinodesitting gespeel is.

“Ek het besef ons moet nie aanhou vingers wys na ouer geslagte of die kerk nie. Ek moet eerder kyk na mý rol en hoe ek verandering kan bring,” was weer ds Tilana Meyer-Morkel se ervaring.

Geborg

Volgens ds Jaco Botha, leraar van die NG gemeente Bredasdorp, het Alan Storey en Wilhelm Verwoerd, wat hulle albei vir restitusie beywer, vir hulle die volgende raad gegee: “Jy kan mense net na plekke lei waarheen jy self bereid is om te gaan.”

So het ’n retraite in Noordhoek plaasgevind om hulle toe te rus.

“Wilhelm en Alan het ons gehelp om na ’n nuwe ruimte te beweeg waar ons eerlik met onsself was maar ook baie broos,” sê Botha.

Die groep predikante het “verrassende” ervarings gehad. Hulle het besef rassisme het hulle van talle dinge beroof, rassisme het ’n diep kloof tussen generasies geskeur en dat hulle nie ander kan genees voor hulle nie hulleself genees het nie.

“Hoe kan ek nou na my ontnugtering ’n verskil maak? My hele liggaam sê ek kan nie nié hierby betrokke raak nie,” het ds Scherlize Hayes van Ysterplaat Gemeenskapskerk gesê.

Die reis duur voort en is ’n “voortgaande proses”, het ds Lenois Stander van die NG gemeente Suider-Paarl gesê. “Witwerk” verwys volgens Stander na die versoeningswerk wat binne ons gebeur deur die vertel van ons verhale. “Wit mense doen witwerk onderling vóór daar aanvanklik gepoog word om gesamentlike versoeningswerk oor rasgrense heen te doen,” sê hy.

In 2019 het nog 15 predikante die versoeningsreis begin by ’n soortgelyke retraite en sal weer in 2020 plaasvind, het ds Helgard Pretorius, leraar van die NG gemeente Pinelands, gesê.

Geborg
  • Na afloop van die sessie oor versoening het ds Gielie Loubser die vergadering versoek om ’n punt oor geslag by die sinodewaardes te voeg: Dat ons sensitief en respekvol teenoor alle rasse en teenoor alle kulture sal wees.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand