Gays: sensitiewe saak

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Talbot Sadler van Kroonstad skryf:

Die brief van dr André Bartlett oor “die hofuitspraak: Wat nou nodig is” (Kerkbode, 3 Mei 2019) verwys.

Ek het baie simpatie met die stryd om gay-regte in die kerk wat deur André en sy medestryders gevoer word.

Ek is net bevrees dat as hulle dink dat die stryd nou met die hofuitspraak finaal besleg is, maak hulle ’n groot fout.

Toe die eerste sinodebesluit in 2015 geneem is, was daar ’n groot klomp lidmate en predikante wat ernstige besware daarteen gehad het. Daardie mense het nie in die tussentyd verdwyn nie. Hulle is nog daar en sal oortuig moet word om nou standpunt en gesindheid te ver­ander.

Die hoogste gesag in die kerk lê nie in sinodebesluite of hofuitsprake nie, maar alleen by die Bybel as Woord van God. Jesus is die Hoof van die kerk en Hy regeer sy kerk deur Woord en Gees. As sinodebesluite teenstrydig is met Bybelse uitsprake, is hulle per definisie ongeldig. As dit teenstrydig met prosedures wat in die kerk se kerkorde neergelê is, kan die hof dit ongeldig ver­klaar. Oor suiwer geestelike aange­leent­hede het howe geen jurisdiksie nie. In kerklike sake wat in die verlede voor howe gedien het, is hierdie beginsel streng gehandhaaf.

Natuurlik is die stryd oor gay-regte in die kerk ’n sensitiewe en veelkantige saak wat kerke die wêreld oor al vir baie jare besig hou.

Self meen ek egter dat die hele stryd tot twee grondoorwegings beperk kan word. Die eerste is dat as ’n mens kyk na wat Genesis 1:27-28 oor God se instelling van die huwelik sê en wat Jesus daaroor sê in Matteus 19, is die vraag of “gay-huwelike” soos nou gepropageer word en wat kerklik bevestig moet word, wel by die Bybelse beginsels vir die huwelik ingepas kan word, en of dit maar net spraakverwarring is. In die tweede plek word ons gekonfronteer met die feit dat Paulus “die beoefening van homoseksualiteit” in sy sondetabelle in 1 Korintiërs 6:9-10 en 1 Timoteus 1:10 opgeneem het. Watter goeie gron­de kan daar aangevoer word vir waarom ons vandag daaroor anders moet dink as wat Paulus daaroor gedink het?

Ek wou myself oortuig daarvan dat daar wel goeie Bybelse antwoorde op albei bogemelde sake is, wat vir almal aanneemlik kan wees. Na my oordeel is hierdie saak nog nooit werklik deurgrond nie. Om dit wel te doen is wat nou nodig is.