Onthou om te onthou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Elke liewe Pinkster onthou ons dat ons vergeet het van die Heilige Gees.

Ons kerk het ’n baie sterk Woord-gesentreerde teologie en spiritualiteit en daar is niks verkeerd daarmee nie. Lie­wers só as die vreemde uitsprake wat mense soms in die naam van die Heilige Gees maak. Aan die ander kant kan ons nie praat van die heropneem van ons roeping as gestuurde kerk sonder om die Heilige Gees baie ernstig op te neem nie.

Wanneer Jesus die dissipels uitstuur, onderstreep Hy dat die Heilige Gees hulle bekwaam sal maak om hulle roeping te realiseer: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees …”

Ek wonder soms of ons nie die Heilige Gees vergeet juis omdat ons nie ons roeping as gestuurdes ernstig opneem nie. Solank jy gemaklik in jou eie kokon leef, het jy nie juis die krag en toerusting van die Heilige Gees nodig nie. Dit stel nie eintlik uitdagings nie en jy voel jy kom heel goed reg, dankie.

Wanneer ons egter intensioneel deel word van God se sending, raak jy baie gou bewus dat hierdie ding te groot is vir ’n mens om op jou eie te doen. Die Nuwe Testament herinner ons op verskillende maniere daaraan dat gestuur­de mense die Heilige Gees nodig het. Die Gees rus ons op verskillende manie­re toe vir ons roeping:
Geloofsonderskeiding is ’n fundamentele konsep vir ’n gestuurde lewenstyl. Dit beteken dat jy in geloof kan onderskei waar God aan die werk is en hoe jy daarby kan aansluit. Dit vra dat die Heilige Gees jou oë en verstand sal oopmaak om op ’n nuwe manier te dink en te kyk.

Daar is nie ’n enkele resep of handboek wat vir ons sê hoe ’n gemeente in sy eie omgewing betrokke moet raak nie. Missionale betrokkenheid is altyd kontekstueel en vra vir buitengewone wysheid. Hierdie wysheid is ’n gawe wat die Gees gee.

Om oor grense te gaan en nuwe dinge te doen, vra waagmoed en dapperheid. Die Heilige Gees het van die begin af mense dapper gemaak om te doen en te sê wat nodig is.

Jesus waarsku sy dissipels dat hulle teenstand moet verwag, dat hulle in moeilike situasies en selfs in vervolging sal kom. In hierdie soort situasie het ’n mens nie rympies of reseppies nodig nie, maar die vermoë om God se liefde en waarheid in die situasie in te dra. Jesus belowe dat die Heilige Gees in sulke situasies die regte woorde sal gee.

Gestuurde mense kan nie anders nie as om te onthou om die Heilige Gees te onthou.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.