25 November 1957 – 1 Maart 2016
Ds Jan Ferdinand Zwiegelaar (BA, BTh) is op 25 Desember 1957 gebore te Oudtshoorn. Sy oupa was ’n ambagsman en het op Oudtshoorn gewoon. Sy vader was Marthinus Christoffel Zwiegelaar, wat die tradisie as ambagsman voorgesit het. Sy moeder was Delilah Catharina Zwiegelaar. Ferdie was die oudste kind van drie broers en een suster.
Ferdie begin sy skoolloopbaan in 1964 aan die Laerskool Oudtshoorn-Wes en is later ’n tyd lank in Hoërskool Oudtshoorn. Hierna skuif hy na die Handelskool CJ Langenhoven te Oudtshoorn waar hy in 1975 matrikuleer. Hy was hoofseun van sy skool en het ook ander leiersposisies vervul. Hy was nie gesond nie en word in matriek as diabeet gediagnoseer en het ook ’n swak pankreas. Sy vrou, Elize, skryf: “Hy het sy roeping ontvang in sy matriekjaar, maar as gevolg van ’n tekort aan finansies, het hy ’n pos aanvaar by die gevangenis. Hy is egter na een jaar medies ongeskik verklaar en moes bedank. Daarna het hy by ’n ouditeursfirma gewerk vir ’n jaar, waartydens sy roeping bevestig is. Hy het ekstra vakke geneem vir universiteitstoelating.”
Ferdie ontmoet sy vrou Elizabeth Hester (Elize) Immelman in Oudtshoorn waar sy as verpleegkundige gewerk het. Hulle is op 21 Januarie 1978 in Sutherland getroud en sy het hom bygestaan gedurende sy studies deur verskillende poste te aanvaar en die pot aan die kook te hou. Tydens sy bediening was sy aktief betrokke by die verskeie gemeentes. In Bethlehem het sy ’n sentrum vir gestremdes bestuur, asook daagliks etes voorsien aan ’n groep hulpbehoewende mense wat op ’n plot gebly het. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Christel, sendeling in Zambië; Christo, finansiële adviseur by ABSA in Bloemfontein; Ferdie, betrokke met kerkbediening in Windhoek en Tarina, rekenkundige klerk in Bloemfontein.
In 1978 vertrek Ferdie en Elize Zwiegelaar na Stellenbosch waar hy die BA (Admissie) -graad aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. In 1981 word hy student aan die Fakulteit Teologie in die Eikestad waar hy op 15 November 1984 as proponent gelegitimeer word. Sy skripsie in Diakoniologie het gehandel oor die pastorale sorg vir egpare wat die trauma van ’n miskraam deurgemaak het. Prop Ferdie ontvang gou ’n beroep en word op 9 Desember 1984 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente in Ruyterwacht-Wes. Ds RM Britz het die bevestigingsrede gelewer. Hier in die nabyheid van Tafelberg werk hy tien jaar lank en bedien die gemeente met oorgawe.
Sy vrou skryf: “Hy het ’n passie gehad vir die verlore siele en het die vermoë gehad om met enige tipe mens te identifiseer. Almal was altyd baie gemaklik met hom. Menseverhoudings en liefde vir almal was vir hom baie belangrik. Hy het geglo die liefde oorwin alles. Sy prediking was ook altyd ’n hoë prioriteit. Sy hart was sending en vernuwing in die kerk.”
In die winter van 1994 word ds Ferdie beroep na die NG Gemeente Bethlehem-Eureka, waar hy tien jaar lank werk. Hy kry op 37-jarige ouderdom ’n hartaanval wat hy oorleef. Sy vrou skryf: “Hy het altyd uitgereik na die buite-woonbuurte van die dorp se kerke. Dit was vir hom so vervullend om met elke tipe mens in ons samelewing ’n pad te kon stap. Hy was die een wat oor die pad sou stap na ’n dronk man en net daar op die sypaadjie sit en gesels. Sy gesondheid was vir hom ’n struikelblok, maar dit het hom nooit laat opgee nie. Hy het altyd opgestaan en voortgegaan met ’n glimlag. Hy was blymoedig tot op die einde.”
Ds Ferdie aanvaar op 14 Januarie 2005 sy emeritaat weens mediese ongeskiktheid op die ouderdom van 47 jaar. Hy koop toe ’n klein boerdery en padstal op ’n plaas tussen Reddersburg en Bloemfontein. Sy vrou skryf: “Hy kon nooit vrede daaroor kry nie en na baie gebed, aanvaar hy in die herfs van 2012 ’n kontrakpos as leraar in die NG Gemeente Jagersfontein. Hier langs die ou Jagersfonteinmyn en die grootste mensgemaakte gat in Suid-Afrika, werk en leef hy met oorgawe tot met sy laaste asemteug. Op 1 Maart 2016 sterf hy skielik en onverwags aan ’n massiewe hartaanval. ’n Afskeidsdiens word op 3 Maart 2016 in die NG Kerk Jagersfontein gehou en dit word gelei deur ds Eddie Botha. – Dr Gerdrie van der Merwe, VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2018 verskyn.
