31 Maart 1937 – 12 Januarie 2017
Ds Frederik Simon Vivier (BA) is op 31 Maart 1937 gebore in die distrik Beaufort-Wes. Erik se voorouers boer in die distrik in die Karoo, waar sy vader een van ses kinders en sy moeder een van dertien kinders is. Erik en sy jonger suster word in ’n ouerhuis groot waar harde werk en deursettingvermoë ’n groot rol gespeel het. Erik wou van kleins af predikant word, ’n roeping wat hom in staat gestel het om na baie opofferings sy doel te bereik en in sy geliefde Karoo die Woord te bedien.
Erik begin sy skoolopleiding in ’n plaasskool en later aan die Laerskool Loxton. In 1950 word hy leerling aan die Hoërskool Sentraal op Beaufort-Wes, waar hy in 1954 matrikuleer. In dié tyd ontwikkel daar ’n skoolkys tussen Erik en die jong Alida Esterhuizen, ’n plaasmeisie aan wie hy later verloof raak en met wie hy later getroud is. Sy studeer sedert 1957 ook op Stellenbosch en kwalifiseer as maatskaplike werker. Twee dae na sy legitimasie op Stellenbosch, tree prop Erik en Alida Vivier op 8 Desember 1962 in die huwelik in die NG Kerk Gamkavallei op Beaufort-Wes.
Daar was nie geld om te studeer nie, maar sy diep gelowige ouers het alles in hulle vermoë gedoen om te help dat hy na Stellenbosch kan gaan om predikant te word. Hier verwerf hy die BA (Admissie)-graad en kry in 1959 toegang tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Dit is ook die eeufeesjaar van die bekende Profeteskool op die walle van die Eersterivier, waar hy aan die einde van 1962 afstudeer en as proponent gelegitimeer word.
In sy studentejare het hy ’n eie fotografiese besigheid opgebou om te help om sy studiegeld te betaal. Dit het baie van sy tyd in beslag geneem, terwyl hy ook soos baie ander kweekskoolstudente busbestuurders was van die “Eksteen Busvervoermaatskappy”, wat nie net skoolkinders daagliks vervoer het nie, maar ook vakansietye toere oor die land heen vervoer het. Hy het ook die land deurkruis met Carfo films, om so ekstra inkomste te bekom.
Erik word op 6 Desember 1962 gelegitimeer en hierna los hy twee maande lank af in die NG Gemeente Aberdeen, ’n boeregemeenskap met ’n kerkgebou met een van die hoogste kerktorings in Suid-Afrika. ’n Beroep kom na die NG Gemeente Waterford, waar hy op 29 Maart 1963 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy lewer op 31 Maart 1963 sy intreepreek en hy en Alida beleef agt wonderlike jare op Waterford, ’n plaasgemeente in die Ring van Graaff-Reinet. Kort hierna word die halfeeufees van die gemeente gevier en ds Erik Vivier publiseer ’n kort gedenkboek by die geleentheid.
In die laat sestigerjare het ds Erik Vivier altyd met sy karavaan op Hartenbos gestaan en het as kolporteur Christelike boeke verkoop. Dit is hier waar die jong skoolseun, Gerdrie van der Merwe van Trompsburg, met ds Erik en Alida Vivier kennis gemaak het en so het Gerdrie se boekeversameling na elke vakansie op Hartenbos gegroei. Ds Erik het ’n belangrike werk verrig in die breë kerklike gemeenskap landswyd om Christelike boeke in die hande van kerkmense te plaas.
Op 19 Junie 1971 word ds Erik Vivier leraar van die NG Gemeente Aberdeen, waar hy en sy vrou Alida 31 jaar lank woon en werk in die Here se koninkryk. Ds Erik het altyd met humor vertel dat hy die een is met die inisiatiewe en Alida die een is met die deursettingsvermoë. Uit hulle huwelik is twee kinders gebore: Cornelius en Louisa.
Dit was mooi en goeie jare in die gemeente, waar hulle lidmate se lief en leed beleef het oor meer as drie dekades. In baie gevalle het ds Erik kinders gedoop, hulle belydenis van geloof laat aflê, getrou en weer hulle kinders gedoop in dieselfde kerkgebou op Aberdeen. Hy was baie lank die spil waarom baie dinge op die plattelandse dorpie gedraai het, daarom het hy op baie rade gedien en ’n wye invloed uitgeoefen.
Op 28 Julie 2002 lewer ds Erik sy afskeidspreek en die leraarspaar gaan vestig hulle in Beaufort-Wes, waar hulle aftree in die dorp waar albei opgegroei en gematrikuleer het. Alida skryf: “Hy het van skooldae af belanggestel in die versameling van oudhede wat hy aangekoop het. Voor sy aftrede het hy die huis langs dié van sy ouers gekoop en die twee identiese huise aanmekaar laat bou om genoeg ruimte vir sy oudhede te verseker. Ons huis was soos ’n “Privaat Museum”. Sy belangstelling in ou motors het met die jare toegeneem en hy het agtien veteraanmotors in ’n groot stoor bewaar. Ds Erik het ook ’n kamer vol miniatuurmotortjies versamel, wat hy graag aan besoekers getoon het.
Ds Erik en Alida het hulle aftrede op Beaufort-Wes baie geniet en hulle meelewende vriendskap het baie mense aangeraak. Hy het gepreek wanneer dit moontlik was en mense oor die land heen het by hulle aangery om te kuier en sy versameling te waardeer. Die laaste twee jaar het ds Erik se gesondheid geleidelik verswak en hy sterf skielik op 12 Januarie 2017. Daar word tydens sy roudiens melding gemaak van hierdie dienskneg van die Here wat ’n leeftyd lank in die Groot-Karoo die Blye Evangelie gebring het. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.