Wiese oor sy ‘Calvi­nistiese streep’

Lees die latere miljardêr Christo Wiese se skoolopstelle en jy kry die indruk dat die jong man diep religieus is, skryf TJ STRYDOM.


“God het dit in sy wysheid en liefde so beskik dat selfs die bedelaar kan droom dat hy ’n koning is sodat hy ook ’n lewe van weelde en rykdom kan geniet, al is dit dan slegs in sy drome,” skryf Wiese in 1958 in sy laaste jaar aan die Hoër Jongenskool Paarl.

Die opstel het die titel “Drome” en is in die skool se jaarblad gepubliseer.

Dit verklap hoe die bedrewe sakeman, nog jare voordat hy beheer oor Pep Stores (wat hy la­ter in Pepkor sal omskep) oorneem en selfs skouers met koninklikes sou skuur, ook maar ’n gewone skoolseun was met ’n Calvi­nis­tiese agtergrond.

Ander gemeentelede vertel dat hy oor die jare ’n bekende gesig in die NG Kerk Drieankerbaai is. Dit is waar hy ook getrou het.

In die 1980’s vertel Wiese in ’n onderhoud hoe hy nie met die kerk se standpunt oor apartheid saamstem nie, maar dat hy nietemin dien waar hy kan en tog ’n diaken in sy gemeente is.

Sy sê-goed het ook hier-en-daar ’n kerkverwysing in. Wiese het eers omtrent in sy veertigs pa geword. En so vertel hy hoe hy al drie keer “uit die ouderlingbank” kind moes doop – iets wat in die Kaap aanvaarbaar is, maar waaroor die mense in sy grootworddorp Upington lank sou skin­der, volgens hom.

Oor die jare het Wiese se sakeryk verstommend uitgebrei. Die geleidelike groei van Pep Stores en later Shoprite, het hom die grondslag gegee om soms waaghalsige transaksies te sluit. So het hy in die 1990’s in die bankwese ook ’n ryk opgebou en la­ter weer sy belange daarin laat vaar.

Die kern van sy bates was Pepkor – die foefielose kleinhandelaar wat oor die jare miljarde verdien het deur aan die land se armstes te verkoop. Die winkelgroep het as een van sy vyf grondleggende beginsels ook die woord Geloof.

Wiese sê in ’n onderhoud in 2015, toe hy volgens verskeie maatstawwe die rykste mens in die land was, dat hy hom nie te veel ophou met die tipe beloftes wat magnate soos die VSA se Bill Gates en Warren Buffett doen om die meerderheid van hulle fortuine aan liefda­digheid oor te dra nie.

“Ek het daardie Calvinistiese streep. So ek gaan nie regtig deel raak van die kamp wat voorstel dat jy alles weggee nie,” vertel hy aan die nuuskanaal CNBC.

Tog sê hy dat die werk­geleenthede wat sy ondernemings voorsien en die lae pryse, wat nood­saaklikhede vir armes meer bekostigbaar maak, sy vorm van filan­tropie is.

Wiese se skoolopstel uit 1958 kry dalk nuwe betekenis vir hom 60 jaar later.

“Die ryk en magtige koning kan weer droom dat hy arm en onbelang­rik is en sodoende gee God aan hom ook ’n insig in die ander sy van die lewe,” skryf die jong Wiese.

Hy verloor groot toe Steinhoff International se aandeelprys laat in 2017 ineenstort. In dié stadium was hy die grootste aandeelhouer en het hy ook groot bedrae geld geleen om verder in die kleinhandelgroep te belê. Na die ramp is hy steeds ’n vermoënde man, maar nie meer die land se rykste nie.

  • Strydom is die skrywer van Christo Wiese: Risiko & Rykdom, ’n onge­mag­tigde biografie oor die sakeman. Lees ’n resensie van die boek HIER.