Bou brûe eerder as mure

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die bou van brûe blyk vir Christenmense moeiliker te wees as wat ’n mens sou verwag. Ons is dikwels beter met mure bou. Laasgenoemde gebeur wanneer vrees oor­neem en ons mense uitsluit met ‘ons-jul­­le’ denke en optredes wat kon­­­tra-evan­gelies is.

Die kultuur van die wêreld is nou baie sterk gefokus op die bou van mure. Almal wil hulle afsluit van ander. Almal kies die hoogste gemene deler wanneer hulle besluit met wie hulle assosieer. ‘Ons mense’, ‘my mense’ word al hoe enger gedefinieer sodat ek nog veiliger kan voel tussen die eendersdenkendes, eenderspratendes, eendersdoenendes. Dit klink so gemaklik en reg. Dit is ook verstaanbaar in ’n wêreld waarin ons so blootgestel is en oorweldig word met keuses en kragte wat ons nie weet hoe om te bestry nie.

Maar nou is die evangelie van Christus kontra-kultureel, stroomop. Onder die aansporing van ons Meesterbouer moet ons al te dikwels teen ons natuurlike instink in, brûe bou en vir mense toegang verseker. Hy gebruik taal soos geringes na wie ons moet omsien, liefde vir jou vyand, vergifnis, versoening. Hy waarsku teen oordeel. Hy vat aan die uitgeworpenes en laat hulle aan hom raak. In hierdie dae is dit ’n moeilike evangelie om te volg. Die kultuur van die wêreld sleur ons mee om ons vrese te besweer, om hoë mure en skanse om ons te bou.

As jy nog altyd deel was van die hoofstroom, van die sterkes, van die in-groep, van die grootste kerk, van die boonste ekonomiese lagie, van die werkendes, van dié wat geld in die bank het, van dié wat sterk vriende op belang­rike plekke het, is die bou van brûe nog moeiliker. As jy nog nooit sistemies uitgesluit was nie, nog nooit verwerp is vanweë jou aard nie, is dit moeiliker om die brugbou-ding te verstaan en te doen. Jy bou eerder mure om jou be­voorregting te beskerm. Jy rasionaliseer jou mure. Jy gebruik wette, jy glo jy be­skerm die eer van God. Jy is so seker van jou regte en posisie dat jy sal lewe en sterwe vir jou mure.

Die vraag aan Christene is natuurlik of ons verreken wat die impak van ons uitsluitende ideologiese en kulturele mure is. In elke gemeenskap het ons oor die eeue mense uitgesluit uit die grootste en mooiste gebou in die middel van die gemeenskap. Ons het geoordeel dit is wat die evangelie van ons vra. Min het ons verstaan hoe ons mure nie net ­dooie versperrings is nie, maar lewende simbole wat verwerp, verwond en ver­neder. Verlies, vernedering en verwer­ping is in my boek die emosies wat die grootste impak op mense se psige het. Gaan hoor maar by kollega Egbert Steyn van Paterson in die Oos-Kaap wat met hulle gebeur het. Hy het die swart hoërskoolleerders wat middae op pad huis toe by hulle kerk verbyloop, inge­nooi op Vrydagmiddae. Die Vrydagbesoekers het ’n stroom geword. Toe vloei die lewende water en die Here bring hoop en maak nuwe lewensmoontlik­hede oop. Vir jare het hulle daar verbygeloop, uitgesluit van hoop.

Niemand het meer mure afgebreek as Jesus nie. Hy het die Joodse reinheidswette en hulle instandhouers doel­bewus aangevat omdat dit bepaal het wie is in en wie is uit. Hy het brûe gebou na die verworpenes en dié wat seergekry het. Trouens, Hy het nie net brûe gebou nie. Hy ís die brug tussen God en son­daars en verworpenes.

Ek het onlangs die voorreg gehad om op te tree by ’n groep mense wat hulle groep DINK noem. Baie van hulle dink anders oor die evangelie as die meeste van ons. Hulle het vrae oor geloof en die wetenskap en die antwoorde van die kerk is dikwels vir hulle onverstaanbaar. Ek het na my besoek aan hulle gedink, ja gedink en geweet daar behoort ’n brug tussen ons te wees. Ek het ook onlangs weer diepgaande gesprekke gehad met gay-gelowiges. Die mure wat tussen mense van dieselfde kerk gebou is, tussen gedooptes, tussen geroepenes getuig nie van die wyse waarop Christus ons kom leer leef het nie. Die massiewe effek van uitsluiting, vernedering en verwerping wat steeds deur hierdie ­mede-gelowiges beleef word, is pynlik en onverduurbaar. Hier ontbreek nog baie brûe na mekaar. Ek het ook gereeld die geleentheid om met swartmense te gesels oor ervaringe wat hulle van die kerk en die land het. Ek word telkens diep bewus van die letsels wat jare se uitslui­ting op hulle gelaat het. Ons bou tans op baie plekke wonderlike brûe na mekaar toe. In baie gevalle is dit stroomop vir ons en hulle, maar die pad na mekaar bied dikwels wonderlike ervarings van gedeelde hoop.

Ons moet ook die brûe tussen ge­lowiges met verskillende sienings van die Skrif oop en bewandelbaar hou. Ons mag nie mure tussen ons bou nie. Ons moet kontra-kultureel wees en nie die weg van die wêreld opgaan en mekaar verwerp of beledig of los nie. Die afgelope week se ontmoeting met ’n groep mede-gelowiges van die Hervormde Kerk was ’n heerlike brugbou-geleentheid. Ons messel aan ’n sterk oorgang na mekaar toe.

Die liefde van Jesus is wonderbaar. So het ons gesing toe ek ’n tiener was. Dit ís wonderbaar. Sy versoenende liefde het vir ons ’n nuwe lewe ontsluit, tot in ewigheid. Van die versoenende liefde van Jesus kan ons net geloofwaardig getuig deur ’n versoenende, vergewende, verstanende omgee. Dit is kontra-kultureel, maar dit is die evangelie.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.