Narsiste in gemeentes: ‘Kerk mag nie onkundig en wêreldvreemd wees nie’

As remediërende aksies nie werk nie, moet narsistiese leiers gehelp word om hul poste te ontruim skryf Francois Preiss.


Narsisme is skerp aan die toeneem in die Westerse samelewing. Literatuur en ervaring bewys dat kerke, geloofsgemeenskappe en teologiese opleidingsentra nie gespaar word nie. Wat staan werknemers in organisasies te doen as hul leier of kollega aan hierdie patologie ly? Wat maak die medeleraar(s) en kerkrade in sulke omstandighede?

Narsiste is dikwels charismatiese leiers wat ’n kerk, groep of organisasie op ’n dinamiese manier na groot hoogtes kan lei. Narsistiese leiers se sterretjies skyn egter nie vir altyd nie. Soos Narsissus, die mitologiese figuur wat gesterf het vanweë sy beheptheid met homself, so is narsisme selfvernietigend. Die grandiose drome van mag en sukses maak dat narsistiese leiers verregaande risiko’s neem en soos Ikarus te na aan die son vlieg. So lei hubris tot ’n katastrofe vir die organisasie en tot die narsistiese leier se val.

Teen die tyd dat organisasies besef dat hulle in die moeilikheid is vanweë siek leierskap, is daar moontlik reeds onberekenbare skade berokken en moet daar ingegryp word. Dit geld veral gevalle waar die narsisistiese leier naas groot sake-foute hom of haar ook aan onetiese gedrag skuldig gemaak het.

Narsiste het ’n swak super-ego en hulle glo dat ander norme vir hulle geld as vir ander. Dit is dan ook die rede waarom hulle, al is daar groot morele oortredinge, steeds geen kapasiteit vir verleentheid toon nie. Narsiste maak hule eie reëls. Voeg dan daarby die geneigdheid van ekstreme narsiste om chaos in ’n organisasie te veroorsaak, dan raak die dringendheid om in te gryp, al hoe groter.

In ’n kerklike omgewing sal die eerste stap gewoonlik wees om met die leier gesprek te voer – individueel of in die teenwoordigheid van getuies. In die geval van ekstreme narsiste, het dit egter weinig waarde. Hulle is selfbehep, het ’n baie sterk wil, luister nie graag na advies nie en glo hulle is altyd reg. Hulle glo dat hulle “spesiaal” is en geregtig op voorkeurbehandeling. Aangesien dit ’n patologie is, is daar nie self-insig nie. Dit is hoogs onwaar-skynlik dat ’n gesprek enige langtermyn verandering teweeg sal bring.

Wanneer narsiste die wind van voor kry, is daar ook tipiese gedrag wat verwag kan word. Die persoon wat die teenstand bied, word verdag gemaak, soms uit die organsisasie uitgewerk, aangeval en verkleineer. Die narsis beroep hom of haar op bestuursliggame, die hof of die menslike hulpbron afdeling.

Alternatiewelik of terselfdertyd verval hulle voortdurend in emosionele uitbarstings van woede, trane, selfbejammering en manipulerende gedrag.

Hoe moet organisasies met hul narsistiese leiers maak?

Dit is belangrik dat narsistiese gedrag herken word. Nie alle selfgesentreerde gedrag dui noodwendig op ’n diagnose van narsisme nie. Kliniese presisie is nodig. As daardie diagnose eers gedoen is, kan verskillende strategieë probeer word om die skadelike impak van die narsistiese leier te minimaliseer.

Manfred Kets de Vries verwys in sy boek The Leader on the Coach na die “downsizing the narcissist”. Voorbeelde hiervan sluit in:

  • Versprei magte

Besluitnemingsmagte moet onder verskillende persone versprei word en maniere moet gevind word om runaway leadership te blok. Deur die nodige strukturele meganismes in plek te sit, kan die narsistiese leier in toom gehou word. Wanneer rolle uitgeklaar word, lei dit tot verdere inperking van die narsistiese leier se ambisie en hongerte na mag.

  • Soek die skadu

Beheerliggame van organisasies moet die skadukant van leierskapsgedrag kan raaksien. Dit veronderstel kennis van ‘n kliniese benadering tot organisatoriese probleme. Deur monitering moet toegesien word dat die narsistiese nie hul organisasies na ‘n afgrond toe lei nie. Dit vra nogal baie van werknemers, want hulle moet hul baas se narsisme erken en daar rondom werk.

  • Probeer help

Bestuursafrigting kan voorgestel word. Dit kan ’n opdraende stryd wees aangesien narsiste nie daarvan hou dat ander hulle mentor nie. Hulle hou daarvan om in beheer te wees. Narsiste kan nie en wil nie die pyn van selfondersoek deurstaan nie. Die gedagte dat hulle nie volmaak is nie, is vir hulle ondraaglik.

  • Die rol van ’n sidekick

Michael Maccoby meen dat sommige narsiste ’n sidekick kan kry. Die ridder, Don Quichot is ’n klassieke voorbeeld van ’n narsis en dromer wat uit voeling was met die werklikheid, maar wat gereeld van rampe gered is deur sy mede-avonturier en agterryer Sancho Panza. Veral narsiste wat grotendeels ’n visioenerende leier is, kan baatvind by ’n sidekick wat goed is met operasionele bestuur en implimentering van die visie. Dit vra egter ’n baie besondere mens om ’n sidekick te wees. Die sidekick moet die narsistiese leier help om in kontak met die realiteit te bly, aangesien narsiste se fantasieë hulle op verre verbeeldingsvlugte neem. Die sidekick moet boonop die insig en wysheid hê om die narsis te bestuur. Die sidekick kan ook meer as een persoon wees.

Die gevaar is egter dat die sidekick saam begin knoei. Narsistiese leiers is geneig om adjudante om hulle te vergader en hul vuilwerk vir hulle te doen.

  • Stuur vir berading

Sielkundige terapie kan aangebied word. Dis egter hoogs onwaarskynlik dat ’n narsis vrywillig vir berading sal gaan. Narsiste sien hulself as onfeilbaar en sien ander mense as die rede vir hulle probleme. Die meeste narsiste sal waarskynlik baie selektief wees in die inligting wat hulle deel of verdraaide waarhede meedeel.

As geen een van bogenoemde remediërende aksies werk nie, is daar eintlik net een ding om te doen. Narsistiese leiers moet gehelp word om hul poste te ontruim. Die hulp van ’n arbeidsprokureur of ’n kerklike regskenner kan ook ingeroep word. Mooi praatjies sal nie help nie. Dit kos gesag sterker en magtiger as die narsistiese leier om sy dienste te beëindig. Dis dan nie ’n tyd vir bang wees vir die narsistiese leier se dreigende houding nie. Dis tyd om op te tree. Hiervoor is wysheid en goeie tydsberekening nodig. Die psigiater Scott Peck sê in sy boek People of the Lie dat hierdie leiers met “raw power” verskuif moet word.

Al die raad hierbo, geld vir beide die kerk en die organisasies daarbuite. Die kerk mag nie onkundig en wêreldvreemd wees nie. Die een groot verskil is egter dat die kerk ook ’n skepping van die Heilige Gees is wat met geloofsonderskeiding, baie gebed en ’n diepe afhanklikheid van God hierdie tipe probleem moet hanteer. Verder moet daar nie vergeet word dat ons in ’n geestelike stryd betrokke is nie. Die moeilikste is om alles met liefde te doen. Die kerk bly immers ’n liefdesgemeenskap.

  • Francois Preiss is opleidingskonsultant: Leierskapsopleiding by HOUSE OF LEARNING.
    Kontak hom by francoispreiss@gmail.com