Xenofobie: Wat verwag die Here van ons as gestuurdes?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die pruttende pot van vreemdelingehaat het weer begin oorkook: vragmotors brand, winkeltjies word afgebreek en immigrante uit Afrikalande (wettig en onwettig) vrees vir hulle lewe. Behalwe vir die skade aan die beeld van Suid Afrika en die ekonomiese impak daarvan, raak dit ook ons roeping as gestuurde mense.

In die teologie van gestuurde kerkwees is die tema van gasvryheid en om vreemdelinge te verwelkom, nogal prominent. Die frase: “Verwelkom die Vreemdeling” word baie gehoor as gepraat word oor ons roeping as gestuurdes. Gasvryheid is een van die basiese boustene van ’n lewe as God se gestuurdes.

In die Ou en Nuwe Testament word gelowiges dikwels opgeroep tot gasvryheid. Hierdie gasvryheid was nie soos ons dit deesdae verstaan nie. Dit was nie bloot om jou vriende en familie te onthaal nie. Inteendeel, dit het meestal gegaan oor vreemdelinge. Die Griekse woord philoxenia “liefde vir vreemdelinge” staan teenoor xenofobie (vrees vir vreemdelinge) en word dikwels met “gasvryheid” vertaal. In die Ou testament word Israel daaraan herinner dat hulle self vreemdelinge in ’n vreemde land was en dat hulle nie vreemdelinge mag misbruik (byvoorbeeld, deur hulle op die Sabbat laat werk) nie,

Hoe die Here wil hê dat ons vreemdelinge behandel, is bespreek in ’n baie goed gebalanseerde meningsdokument (sien onderaan hierdie berig) wat in 2015 voor die Algemene Sinode gedien het. Die hanteer die kompleksiteit van die saak: gasvryheid en die misbruik daarvan, die regte van die gasheer en vreemdelinge, kompetisie vir werksgeleenthede en werksetiek en die plig van die owerheid.

Ons vraag hier is egter: wat verwag die Here van ons as gestuurdes? As ons nadink oor ‘n lewe in die Koninkryk, kan ons nooit deel wees van haatpraatjies, die aanwakker van geweld of die verspreiding van vals inligting wat vrees en haat aanblaas nie. In die praktyke van die sondige natuur in die Nuwe Testament is dit opvallend hoeveel daarvan gaan oor vyandskap, haat, naywer, woede, rusies en gevloek. Die Here verwag van ons om met reg en billikheid op te tree en om vredemakers te wees.

Dit is sekerlik so dat die owerheid groot skuld het aan die xenofobie in die land, aan die werkloosheid en armoede wat die teelaarde is van vrees, haat en geweld. Laat dit egter so wees dat waar óns kom, ons die aangename geur van Christus versprei. Laat ons, as God se afgevaardigdes, meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, vredeliewend en verdraagsaam wees.

LEERSTELLIGE SAKE – BYLAAG 1 (2015)

XENOFOBIE IN SUID-AFRIKA

Die verskynsel van “Xenofobie” in Suid-Afrika is ʼn besondere komplekse een. Om enigsins daaroor teologies (of vanuit ʼn Christelike perspektief) te dink, is die heel eerste ding waarskynlik om die term Xenofobie semanties te beskou – om alle misverstande uit die staanspoor uit die weg te rym.

ANTIEKE AGTERGROND

Hierdie Griekse woord beteken nie die haat van vreemdelinge nie. Die koppeling van fobie aan vreemdeling dui duidelik eerder op vrees as op haat. Onderliggend aan die verskynsel van Xenofobie is dus ’n vrees-emosie: die vrees vir die andersheid; die vrees vir verdringing; die vrees vir ontneming; die vrees vir fisiese leed. In der waarheid gaan dit dus hier oor die bedreiging van die eie kultuur/gebruike; persoonlike ruimte; die ongevraagde indringing/verdringing in iemand se lewe; die indruising teen iemand se regte.

Soos in ons tyd, sou ʼn mens in die sosio-kulturele wêreld van die Bybel (veral die Ou Testament) die posisie van die vreemdeling nie sonder die belangrike antieke waarde van gasvryheid kon bedink nie. Alhoewel Bybelse Hebreeus nie ’n spesifieke term het om dié Afrikaanse woord te beskryf nie, is die Ou Testamentiese geskrifte deurspek met die waarde van gasvryheid. Wat die Nuwe Testament betref word die Griekse woord φιλοξενία “vreemdelingliefde” meermale met “gasvryheid” vertaal.

Anders as in ons Westerse kultuur waar gasvryheid in die reël teenoor jou vriende beoefen word, was gasvryheid in die Bybelse wêreld iets wat jy teenoor vreemdelinge beoefen het. Jy het jou naaste (ingroep) liefgehad en aan die vreemdeling (uitgroep) het jy gasvryheid betoon. Dit was vir die volk van die Here belangrik om beide gasvryheid en liefde uit te leef en hulle word deur die “Wet en die Profete” en die Nuwe Testament opgeroep om dit te doen. Dit, so getuig die Bybel, is deel van God se wil vir mense.

Byna reg deur die Ou Testament vind ons verwysings na die vreemdeling en dan ook dikwels saam met verwysings na die weduwee en wese, om op ʼn besondere manier te kon aanspraak maak op die sorg van die geloofsgemeenskap. En in terme van die sosio-kulturele konteks van die antieke wêreld, was daar ʼn bepaalde protokol ter sprake. Dit sou as ’n besondere eer beskou kon word as ʼn vreemdeling deur die gasheer/familiehoof in terme van sy verhouding tot die persoon, behandel/verklaar word as gas – wat dan onder bepaalde omstandighede en aan die hand van bepaalde protokol verblyfreg kon bekom.

Om dit te laat gebeur was daar in die destydse wêreld waardes wat deur onderskeidelik die gasheer en vreemdeling eerbiedig moes word.

’n Gasheer is ’n familiehoof in sy eie dorp/op sy eie stuk grond. ʼn Vreemdeling wat in “sy poorte” beland (by sy woning se ingang aankom), word deur hom ingenooi om binne te kom en/of oor te bly. Die uitnodiging sou herhaal word. Die vreemdeling se voete sou gewas word om aan te dui dat hy nou ʼn gas is. Hy sou die vreemdeling kos en beskerming verleen en hom nie uitvra nie.

Aan die ander kant is van ’n vreemdeling verwag om altyd ’n eerste uitnodiging van die hand te wys, maar om wel die tweede uitnodiging te aanvaar. ’n Vreemdeling mag slegs vir die ooreengekome tyd bly en die onus was op hom om sy vertrek aan te kondig wanneer die dae verstryk het. Sy verblyf sou by wyse van uitnodiging deur die gasheer verleng kon word. Wanneer die vreemdeling vertrek moes hy die betrokke huishouding seën.

In die reël het ’n vreemdeling vir nie langer as vier dae vertoef nie. Indien ’n vreemdeling met die verstrek van sy tyd/dae egter nie sy vertrek aankondig nie, is dit as ’n daad van konfrontasie (selfs oorlog) gesien en het so ’n vreemdeling sy regte as gas verbeur en is hy as ’n “gevaarlike vreemdeling” geag. In so ’n geval was ’n vreemdeling volledig uitgelewer aan die gasheer – selfs om doodgemaak te word.

Hier is dus meer as een “reg” ter sprake. Beide die vreemdeling en die gasheer het regte waarop hulle aanspraak kan maak. Nêrens is daar egter ʼn geval van ʼn eensydige onooreengekome reg wat die vreemdeling “in die poorte” van die gasheer het nie. Dit is iets wat beding moet word, wat nie-permanent is en wat wedersyds onderhandelbaar is binne die raamwerk van elkeen se reg.

IN ONS HUIDIGE TYD EN KONTEKS

In ons land is ons die afgelope tyd toenemend blootgestel aan gewelddadige aanvalle op nie-SuidAfrikaanse burgers. Dié optrede word in die volksmond xenofobie genoem en verwys na “vreemdelinghaat”. Hierbo het ons reeds aangetoon dat dit ʼn foutiewe hantering/persepsie van die begrip is wat eerder (behoort) te dui op die vrees vir vreemdelinge.

Daar word verskeie redes asook oorsake vir die xenofobiese aanvalle deur sommige Suid-Afrikaanse burgers op sommige nie-Suid-Afrikaanse burgers aangevoer. Alhoewel die meeste mense aandui dat daar inderdaad meer as een oorsaak vir dié ongelukkige toedrag van sake is, kan die rol van armoede en werkloosheid onder ’n (te) groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, asook ons regering se oënskynlike onvermoë om migrasie in belang van alle betrokkenes te bestuur, in die verband nie misgekyk word nie.

  1. DIE OPWEEG VAN DIE REGTE VAN VERSKEIE GROEPE VAN MENSE IS HIER TER SPRAKE.

1.1 Die regte van die Suid-Afrikaanse burgers In hierdie geval om nie verdring te word nie, dat hulle nie ten koste van buitelanders hulle werk moet/mag verloor nie. Hier is die regering waarskynlik die sterkste te blameer omdat, veral ten opsigte van Zimbabwiërs, weinig of selfs geen instromingsbeheer toegepas is sedert die ineenstorting van ons buurland se ekonomie onder die huidige president nie.

1.2 Die regte (regverdige behandeling) van buitelanders Talle meningsvormers en analiste wys ook op ’n algemene gebrek aan werketiek, lae produktiwiteit en hoë of onrealistiese looneise onder baie Suid-Afrikaners. Die Engelse woord “entitlement” word dikwels gebruik om hierdie ongesonde gesindheid (reg) uit te druk. Argumente met die strekking dat vreemdelinge in die reël meer hardwerkend, meer produktief en minder gierig is, kom in talle ontledings van die huidige vlaag van vreemdelingehaat ter sprake. Ook die “vreemdelinge” het dus regte.

1.3 Die regte van werkgewers Om “ander mense” (buitelanders) in die plek van Suid-Afrikaanse burgers in diens te neem ten einde produktiwiteit te handhaaf en die land se ekonomiese groei te stimuleer, is ter sprake.

1.4 Die regte van Suid-Afrikaanse burgers … wat ter wille van beter lone en werksomstandighede protes aanteken terwyl werkgewers goedkoper buitelandse werknemers in diens neem – selfs ten koste van werksekuriteite van SA-burgers.

1.5 Suid-Afrikaners se reg tot sosiale ondersteuningsdienste Die probleme ten opsigte van die druk wat dit plaas op Suid-Afrika se sosiale stelsels waartoe sy burgers reg het, soos onder andere hospitale, skole, behuising, water en elektrisiteit en die werkloosheidversekeringfonds, behoort ook verreken te word.

  1. ʼN GESONDE WERKSETIEK AS CHRISTELIKE DEUG

In die lig van ’n sterk afwysing van luiheid wat ons in die Bybel vind, behoort ons as Suid-Afrikaanse gemeenskap, veral as Christene, mekaar aan te moedig om ’n gesonde werksetiek en vlak van produktiwiteit te handhaaf terwyl ons as kerke en regering gierigheid onder ons mense konsekwent moet uitwys en teenstaan.

Maatskappye/werkgewers moet op meer as net winsgrense ingestel wees, terwyl werknemers op meer as net hoër salarisse ingestel behoort te wees. ’n Gesonde werksetiek sluit ’n balans tussen arbeidstrots en vergoeding in. ’n Gesonde ekonomiese stelsel skep ruimte vir ’n balans tussen wins en sosiale verantwoordelikheid.

  1. OOK ONS IS/WAS VREEMDELINGE

In Suid-Afrika het die meeste van ons al in ons land se geskiedenis tot ’n mindere of meerdere mate vervreemding beleef en was ons aan die genade van ander uitgelewer. As gelowiges en geloofsgemeenskappe behoort ons nie te vergeet dat ons en alles wat ons het (ook ons land) ’n gawe uit God se hand is nie.

Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om sigself te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon. Hierdie boodskap moet sonder huiwering en met oortuiging verkondig én konkreet geleef word.

  1. TOEPASSING VAN KONTROLE (WETTE) IS REGERING/OWERHEID SE ONVERVREEMBARE PLIG

Dit is ons regering se konstitusionele verantwoordelikheid om ’n verantwoordbare, menslike en duidelik omskryfde beleid tov nie-burgers se beweging oor ons land se grense en die uitoefening van hulle regte in ons land te hê – én om hierdie beleid nougeset en ondubbelsinnig toe te pas. Hierdie wet/beleid moet die belang van ons land en sy mense dien, sonder om enige burger of besoeker se regte en/of menswaardigheid aan te tas.

Ook hierdie boodskap moet met oortuiging aan die staat deurgegee word as ’n openbare getuienis van ons geloof as Christene.