‘Ek vergewe hom,’ sê oudste van Gruwelhuis oor pa

Nadat Landi (21) en haar vier sibbe jare lank deur hulle pa, die “Springs-monster” mishandel is, vertel sy haar verhaal in ’n nuwe boek.


Landi* het pas klaar matriek ge­skryf. Haar blonde hare hang oor haar skouers, sy het ’n donker olyf­groen somersrokkie aan. Sy sit op die gras naby die swembad by haar pleeg­ouers se huis, die toonbeeld van jeug en gesondheid.

Dis sowat vyf jaar wat sy en haar sibbe nie meer in die “Gruwelhuis” aan hulle eie lot oorgelaat word nie. Sy hoef nie meer na al die “kleintjies” om te sien, planne te maak om hulle mae te probeer vol kry of hulle wonde as ge­volg van mishandeling te versorg nie.

Sy sal haar tante waar die vyf kinders net ná hulle verwydering eerste ’n hawe van betreklike normaliteit gevind het, altyd eer.

Landi onthou daardie waterskeidende oomblik in Junie 2014 asof dit gister was. Haar gedagtes neem haar nou hier op die groen gras van haar pleegouers se tuin terug na die tyd net nadat Landi en haar sibbe in pleegsorg by hulle tante in Springs geplaas is.

“My tannie was ons ma se oudste suster, maar ons het haar ‘Ouma’ ge­noem omdat sy heelwat ouer as my ma was en ook amper soos ’n ma teenoor ons opgetree het. Sy het my geleer hoe ’n ma behoort te wees. Ek en sy was nie dadelik close toe ons by haar gekom het nie, want ek het gedink ek is ’n grootmens en hoef nie na haar te luister nie. By haar het ek gehoor my pa is toegesluit.

“Omtrent twee weke nadat ons by haar gaan woon het, het my tannie in die kombuis gestaan en was ek in die gangetjie daar naby. Ek moes iets gedoen het wat haar kwaad gemaak het, ek kan nie meer onthou wat nie. Toe skree sy op my en sê ek moet in my kamer gaan sit en dat ek nie moet dink die dinge wat by die huis gewerk het, gaan hier werk nie.

“Onmiddellik was ek kwaad, maar ek het ook my alie af geskrik. Sy was besig om kos te maak, en ek het gedink sy gaan my met die pan gooi. Toe gaan sit ek maar in die kamer. Meteens het ek besef ek gaan nie hier regkom soos ek altyd reggekom het nie.

“Wanneer my pa-hulle gesels het, het ek by die grootmense gesit. Ek is nie soos die kind behandel wat ek eintlik was nie. Toe ek daar weg is, word ek skielik weer soos ’n kind behandel en wou ek dit nie aanvaar nie.”

Haar oë gesels saam. “Dit was my tannie se woorde wat hierdie totale ommeswaai in my gemoed gebring het. Ek het besef sy praat die waarheid: Dinge moet nou verander of ek gaan nêrens kom nie – ook by die skool.

“Toe begin ek moeite doen om maats te maak en ’n goeie verhouding met my onderwysers te bou. Almal het skielik meer met my gesels. Al my verhoudings het verbeter, met my tannie, my maats en onderwysers. Dit het my gemotiveer, want ek het gesien as ek verander teen­oor mense en die omstandighede rond­om my, verander en verbeter alles.”

Sy glimlag. “In die twee jaar by my tannie was sy die eerste werklike ma-figuur in my lewe, sy het my gewys wat my ma nooit kon nie: hoe om ordentlik en ’n dame te wees. Ek het nooit geleer om gepas aan te trek nie, maar sy het my touwys gemaak. Elke tweede woord wat ek gesê het, was ’n vloekwoord. Vir my was dit normaal, want my ouers en hulle vriende het so gepraat. Ek het baie gesukkel om op te hou vloek, maar my tannie het my baie gehelp.”

“Sy was ook die eerste mens vir wie ek vertel het my pa het my gemolesteer. Ek het haar vertrou en kon haar alles vertel. Sy was woedend en het gesê sy kan nie glo hy het dit gedoen nie. Dis toe dat ons polisie toe is en ek die derde verklaring afgelê het waarin ek die eer­ste keer die waarheid vertel het.

“My tannie is dood** ’n ruk nadat ons daar weg is omdat my stiefoom aan my en my niggie gevat het. Soms droom ek van haar en wanneer ek wakker word, huil ek. Ek kan nie aanvaar dat sy weg is nie. Sy was ’n verskriklike goeie mens.”

’n Vliegtuig dreun hoog verby op pad na wie weet waar.

“Ek wil vir my pa in die tronk gaan kuier. Hy was sestien jaar deel van my lewe en ek sou nie daar gewees het, as dit nie vir hom was nie. Hy het baie verkeerde dinge gedoen, maar ek wil vir hom sê ek het hom vergewe, ek mis hom en is lief vir hom. Ek wil nie eens weet hoekom hy dit gedoen het nie. Maar ek wil hê hy moet sien wie ek geword het en dat ek iets van my lewe maak, sonder dat hy ’n aandeel daaraan gehad het.

“Vergifnis het ongelooflike krag – ek het dit vir myself gedoen, nie vir hom nie. Niks gaan beter word solank ek hom haat en kwaad bly nie. Ek sal nooit so naïef wees soos om hom byvoorbeeld in die toekoms heeltemal deel van my lewe te maak en my kinders by hom te laat kuier nie. Wanneer ek eendag kin­ders het, sal my pleegouers hulle ouma en oupa wees, nie my pa en ma nie.”

Dis duidelik dat Landi haar pynlike verlede en onmiddellike toekoms goed deurdink het.

“Indien my ma met my wil kontak maak, sal ek haar laat kom, hoor wat sy te sê het en hoekom sy my wil sien. Nadat ons verwyder is, was ek aanvanklik nog bly om haar te sien wanneer ons haar besoek het. Alles het ver­ander toe sy ons pa wéér bo ons gekies en besluit het om die staat nie meer te help nie, om nie vir ons in die bresse te tree en teen hom te getuig nie. Sy is nou weer verloof aan ons pa se neef, dit is dus die tweede keer dat sy ’n man bo ons kies.”

Met ’n besliste gebaar asof sy pas ’n streep onder ’n hoofstuk in haar lewe getrek het, pluk Landi ’n grasspriet en suig nadenkend daaraan.

“Die heel eerste keer in my lewe voel ek dat ek ’n toekoms het. Dit gaan ’n goeie toekoms wees en ek gaan dit aangryp. By my ouers het ek geen toekoms gesien nie. Ek het gedink ek gaan my sussies en boeties grootmaak, tien teen een ’n kind van my pa dra en dié ook moet grootmaak.

“En as my ouers oud word, sal ek natuurlik na hulle moet kyk.

“Vandag besef ek hoe skeef ons lewe in die Springs-huis was. Dikwels wonder ek wie hulle kinders so ’n lewe sou toewens. En hoekom ’n mens die patroon van mishandeling in jou eie kin­derlewe, as volwassene teenoor jou eie kinders sou herhaal.”

  • ’n Verkorte en geredigeerde uit­trek­sel uit Huis van gruwels (LAPA Uitgewers).

*Slegs Landi se voornaam word ge­bruik weens die feit dat haar sibbe nog min­derjarig is en hul­le iden­ti­teit kragtens die Kin­derwet beskerm moet word.

**Die tannie is aan natuurlike oorsake dood, onder meer hartprobleme.