Vrae oor ‘vasgelooptheid’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ursula Joubert van Bellville skryf:

Twee faktore motiveer hierdie skrywe:

  1. Die besluit van die NGK – Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslaghuwelike.
  2. My eie worsteling.

Ek wil ’n derde faktor hier byvoeg maar ek sal dit maar as ’n algemene stelling hier plaas en dit is dat alle interaksie met mekaar, op sosiale media, om ronde tafels of vanuit die kerkbanke spruit van­uit ons liefde vir mekaar, liefde vir ons kerk, maar grotendeels ons liefde en ontsag vir God en sy heilige Woord.

Wanneer ek na die redenasies en verhale van mense luister wat oortuig is dat selfdegeslagverhoudings deur God aanvaarbaar is dan soek ek, en ek glo andere soos ek na ’n plek baie diep in onsself wat so graag dit in daardie lig wil sien.

Dit is die worsteling want jy besef jy staan binne ’n bepaalde geloofsgemeenskap. Jy besef ons is in verbondenheid met mekaar, met een Gees deurdronge. Met alles in jou wil jy jou broers en susters en kinders waarsku, want jou verstaan verskil met die van ’n al hoe gro­ter­wordende gemeenskap wat die mooi­heid en reinheid van selfdegeslagverbintenisse insien. Jy word gekonfronteer met jou eie Skrifverstaan en soek half naarstigtelik na verwysings in die Bybel waar God sy stempel van goedkeuring op selfdegeslagverhou­dings afdruk, maar jy kry dit nêrens. Die druk en die pas waarteen aanvaar­ding van hierdie verhoudings in die kerk toegepas word forseer jou in ’n stilte in. Dan verstaan jy iets van die stilte wat mense wat vir jare in die “closet” was moes ervaar het. Dit is so ’n teer saak. Wat jou verder in ’n stilte wil in­dwing is die beskuldings van liefdeloosheid, homofobie en “gatekeepers” van God se genade.

Maar dis juis die liefde wat hierdie brief tot gevolg het, want êrens word iemand mislei. Dis of ons wat uit onkunde nie God se liefde verstaan nie en die Skrif verkeerd hanteer of dis diegene wat oortuig is dat hulle seksuele iden­titeit en geslag deur hulleself bepaal kan word. Die NGK noem dit ’n vasgelooptheid omdat mense oortuig is dat die Bybel hulle standpunt steun.

Hoe dan, moet ons die Skrif vertolk wat in beide testamente homoseksua­liteit as ’n sonde bestempel? Hoe is dit veroordelend as Paulus uitdruklik sê ’n homoseksuele leefstyl, onder andere is sonde? Is dit regverdig as daar na die verdrukking van vroue en slawerny verwys word as Jesus die teenoorgestelde kom bewys het? Hoekom word daar na seremoniële en burgerlike wette verwys wat of vervul of afgeskaf was in die nuwe verbond terwyl daar nêrens ver­vul­ling of afskaffing voorkom oor gewoontes of gebruike wat te make het met seksuele immoraliteit nie?

Dit is tog duidelik dat daar ’n baie hoë premie geplaas word op seksuele reinheid voor God gegewe dat die eerste mens onmiddellik sy naaktheid wou bedek nadat die sonde gepleeg is. Wie van ons staan tog onskuldig voor God in hier­die verband wat skuldig is aan wellus, sondige begeertes, voor- of na-huwelikse seks, losbandigheid, egbreek en vele ander seksuele misdrywe? Selfs om net na ’n vrou of man te kyk en te begeer is ook sonde volgens Jesus. Hoekom word selfdegeslagintimiteit uitge­sonder as rein en heilig voor God as die Bybel die teenoorgestelde sê? Verkort. – Red

Lees ook:
Verbintenisse: ‘So verstaan ons dit’
Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’