‘Ons moet liefde in morsige plekke uitleef’

Vir ds Almatine Leene was predikantwees in Suid-Afrika ’n reis na die “kern van die evangelie”. Nou staan sy graag met haar “voete in die modder”, het sy aan Conette le Roux vertel.


“In Suid-Afrika kon ek die eerste keer preek … al was dit in ’n ouetehuis.”

Ds Almatine Leene vertel hoe sy as Nederlander haar doktorsgraad in teologie aan Stellenbosch kom doen het, en nooit weer permanent na haar geboorteland teruggekeer het nie.  

Vandag is die 35-jarige blondekop ’n NG predikant. Ons gesels ʼn paar weke gelede tydens middagete by die Algemene Sinode in Benoni waar sy ’n afgevaardigde was.

Sy lag gedurig en praat gemaklik en sonder voorbehoud. Kort-kort stop iemand langs ons tafel om dankie te sê vir die oggend se openingsboodskap. Haar boodskap was dat ons ander hoër as onsself moet ag. Sy het ook die hutsmerk #imstayingintheDRC voorgestel en sinodegangers uitgedaag om eengesind met God se liefde te wees, ten spyte van verskille.

Vroeër het die moderator oor Almatine, nadat sy die opening hanteer het, aan sinodegangers gesê: “Ons beskou haar nie meer as invoerproduk nie, maar as uitvoerproduk.”

Hieroor lag sy en haar ligblou oë blink. “Ek het Nelis se woorde baie waardeer.”

Maar, sê sy, die wins is hare. Sy vertel Suid-Afrika het tot dusver so baie vir haar beteken. 

Almatine, wat tans leraar by die NG gemeente Stellenbosch-Wes is, is die afgelope sewe jaar hier predikant. Tot twee jaar gelede het haar kerk in Nederland nie vroue in die amp toegelaat nie, sê Almatine.

Behalwe vir dié groot geleentheid wat sy in Suid-Afrika gekry het, het dit ook soveel “teologies” vir haar beteken, vertel sy.

“Suid-Afrika se armoede, diversiteit en kwesbaarheid het my soveel geleer. ’n Tehuis waar ek eenmaal, dalk tweemaal ’n maand kom het my intens bewus van God se aanwesigheid gemaak. Hier lê arm mense wat oud is of selfs jong mense wat gestremd of baie siek is. Sommige van die mense lê al 20 jaar op hulle rug. Wanneer ek preek is daar dalk vyf mense in die gehoor en die ander luister oor ’n luidspreker vanaf hulle kamers. Elke keer as ek daar gaan preek kry die saligsprekinge ’n nuwe betekenis vir my. Geseënd is dié wat hoe afhanklik hulle van God is …”

Ds Nelis Janse van Rensburg het by die Algemene Sinode oor Almatine gesê: “Ons beskou haar nie meer as invoerproduk nie, maar as uitvoerproduk.” Maar die wins is hare, sê sy. Foto: Le Roux Schoeman

Maar ’n gebeurtenis by dieselfde tehuis, wat net voor Kersfees afgespeel het, het haar “die kern van die evangelie laat besef”.

“Ek het die dag nagmaal bedien. Terwyl ek besig was om die tekens te gee het ’n vrou uit die gehoor uitgeroep: ‘Ek wil badkamer toe gaan!’ Ek het toe gestop en ’n suster geroep om haar badkamer toe te stoot. Daardie byna bisarre oomblik het my laat reflekteer oor wat ons eintlik met heiligheid bedoel. Wat as ’n ‘heilige’ oomblik deur die mens se basiese behoeftes versteur word? Ek het besef Jesus het gekom in ’n morsige plek. In ’n stal. Dit het my geleer wat Jesus se koms eintlik vir ons wou sê. God is die heilige want hy is vol liefde. Hy maak ons heilig deur sy liefde en ons moet dit uitleef na die plekke wat morsig is. Ek het altyd gedink heiligheid beteken jy moet wegbly van sonde en morsige plekke. Die oomblik het my geleer dis juis nié dit nie.”

Op persoonlike vlak het sy Frederik Bester, haar “boerseun van Malmesbury”, tydens haar studies in Stellenbosch ontmoet. “Liefde met die eerste oogopslag,” lag sy. Maar haar verliefdheid het later plek gemaak vir eensaamheid toe hulle verhouding vir ’n tydperk verbreek is.

Almatine onthou: “Dit was ’n baie slegte tyd. Maar tog geseënd omdat ek veral in daardie tyd so afhanklik van God was. Ek het ure gebid en uit my Bybel gelees. God het vir my gesê ek sal hom terugkry die dag as ek hom regtig in God se hande los.”

Sowat ’n jaar later het hulle weer begin uitgaan en vandag is hulle getroud en het twee seuntjies, Sebastiaan (5) en Gideon (2).

‘Voete in die modder’

Sy vertel hoe sy die afgelope jaar juis baie reflekteer het oor haar jare lange reis in Suid-Afrika. “Suid-Afrika het my gehelp om nie te vra wat kan ék bied nie, maar wat kan ek ontvang. En ek het soveel meer ontvang as wat ek in SA kan beteken. Ek dink dit help as ons daardie uitgangspunt het. Terselfdertyd moet ons gehoorsaam aan die Here wees, want hy is in beheer van jou roeping. Vir my is my roeping om dominee te wees en God het dit vir my in Suid-Afrika moontlik gemaak.”

Almatine is ook uiters dankbaar dat sy steeds nie haar verbintenis totaal met haar geboorteland gebreek het nie. Sy beskryf dit so: “My voete is in Suid-Afrika in die modder waar my pastorale praktyk is. In Nederland gee ek klas, neem ek deel aan debatte en skryf boeke en vir tydskrifte.”

Toe sy besig was met haar doktorsgraad aan Universiteit Stellenbosch (US) het ’n “klein gereformeerde universiteit” in Nederland vir haar ’n pos as dosent aangebied. Groot was haar verbasing toe hulle bereid was om haar, terwyl sy nog aan haar doktorsgraad gewerk het, ruimte gegee het om elke twee maande Suid-Afrika te besoek. Toe sy uiteindelik haar bedanking indien na haar graad afgehandel was, het die Nederlandse universiteit haar weereens verbaas. Tot vandag toe is sy in hulle diens en gaan Almatine eenkeer ’n jaar vir sowat vyf weke om klas in Nederland te gee.

Volgens Almatine het haar betrokkenheid in beide lande dit vir haar moontlik gemaak om byvoorbeeld aan die debat oor vroue in die amp in Nederland deel te neem omdat sy afstand gehad het. Sy vertel dit was makliker omdat sy in Suid-Afrika in ’n konteks was waar sy “omarm en erken” is. Vroue in die amp was ook gedeeltelik die tema van haar doktorsgraad. En toe die sosiale probleme in SA ook vir haar te veel geword het, kon sy gereeld in Nederland gaan “rus” en weer perspektief kry.

Die wisselwerking en kennis van beide lande is ongelooflik, getuig sy. Sy verduidelik: “In Nederland was ek in ’n gereformeerde laer- en hoërskool. Dit het my baie opgewonde gemaak oor kerk. Die status-ding bestaan ook nie in Nederland nie. Ek het ook geleer om hard te werk – sedert 14-jarige ouderdom het ek Saterdae in winkels gewerk of huise skoongemaak.

“Maar in die NG Kerk het ek weer ruimte beleef. Die NG Kerk is gerig na buite. Ek het ook geleer jou konteks is jou bediening.”

Haar situasie was ook nie altyd net positief nie. “Soms het ek soos ’n vreemdeling in Suid-Afrika gevoel. En wanneer ek weer vir ’n kort tydperk in Nederland is voel ek selfs daar ook nie tuis nie. Dit beïnvloed jou identiteit.”

Nou, vertel Almatine, is sy “op ’n goeie plek”. “Ek probeer myself daaraan herinner dat ek nou twee tuistes het. Nederland en Suid-Afrika.”