Grantleigh: Vier lesse uit kunskontroversie by skool

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Toe ’n gemeentelid verlede Maandag-aand die video van pastoor Andrew Anderson oor die kunswerk van ’n Gr.12-leerling van Grantleigh skool, net buite Richardsbaai, vir my aanstuur, was ek onmiddellik bitterlik onsteld. Met geen konteks, en gesien deur die oë van die pastoor, was ek geskok oor die feit dat ’n leerling van die skool waar my eie kind skool gaan, enigsins toegelaat is om sulke blatante satanistiese kunswerke te maak, wat nog daarvan om dit uit te stal by ’n prysuitdeling! “Dit is skreiend, absoluut skokkend, amper ondenkbaar!” was my eerste gedagtes.

En duidelik was ek nie die enigste persoon wat so gedink het nie. In ’n kwessie van ’n paar minute het bykans al die Whatsapp-groepe waarop ek is (van “gemeenskaps-chat-“ tot straatsekuriteits-, kerkraads-, Bybelstudie-, manne-, fraternal- en ringsgroep) gegons en is die video, saam met die reakasie van afgryse wat dit uitgelok het, die wye wêreld ingestuur!

Ek het dadelik besef dat die voorval baie groter gaan word as wat dalk aanvanklik die bedoeling was, maar toe ek die volgende dag ’n boodskap van vriende uit Namibië ontvang wat vra of ek kennis dra van die satanistiese skool in my tuisdorp, is my vermoede bevestig.

Die beskuldigings van okkultiese praktyke wat boonop erkenning ontvang tydens die uitstalling by die prysuitdeling het kort voor lank groot golwe veroorsaak. Van ’n aanlynpetisie gerig aan die skoolhoof om op te hou om satanisme te erken tot mense (Christene) wat die skool kontak en hul misnoeë (soms met bitterlike woede en venyn) te kenne gee. Facebook, Twitter en WhatsApp … alle platforms is ingespan om in die Naam van die Here op te staan en die skool “uitmekaar te trek”, soos een pastoor in ’n wydverspreide WhatsApp-stemnota dit gestel het.

Waar my seun, ’n Gr.8-leerder by Grantleigh, nog Maandag-oggend trots gevoel het om op die Grantleigh-bus skool toe te ry, moes ek Dinsdag-oggend in die motor oppad na die bushalte toe vir hom help perspektief kry: “Onthou my kind, jy is ’n gelowige wat Jesus bely as jou Verlosser. Ons het nog nie al die inligting van wat daar gebeur het nie, maar as die mense en die media sê jou skool is satanisties, beteken dit nie jy en jou Christenvriende is dit ook nie!” Hy het dit goed verstaan, maar ek het besef wat die impak op Christenleerders van die skool het, veral toe ’n paar ouers my later die dag kontak en vra of ek nie asseblief êrens net met hulle kinders kan gesels oor die ding wat gebeur het nie. “My kind voel soos ’n verraaier en hy voel nie lekker om skool toe te gaan nie” het een ma se WhatsApp-boodskap gelees.

Intussen het die normale protokol gevolg – indringende gesprekke tussen die skoolbestuur, pastoor wat die video gemaak en versprei het, ouers tydens ’n ouervergadering en “fraternal”, sowel as die kunstenaar is gevoer. Leerders in die skool is gerus gestel dat die saak hanteer word en die skool het ’n amptelike reaksie uitgereik. Die kunswerk was deel van ’n kunsprojek van die individulele leerder en is geensins tekenend van groter okultiese aktiwiteite by die skool, soos baie geglo het nie. Die kunstenaar het ook die rasionaal agter sy kunswerke verduidelik. Volgens hom het hy bekende tonele uit die Christentradisie geneem en die tradisionele karakters vervang met hedendaagse ikone (bv Ronald McDonald) om die verbruikersmenatliteit van gekommersialiseerde godsdiens uit te beeld. Sy bedoeling was juis om te skok (wat hy baie goed reggekry het) en om te wys hoe die uitbuiting van mense deur baie georganiseerde godsdienstige groepe en TV-evangeliste ’n bespotting van Jesus maak. Hy het dit bedoel as sosiale kommentaar, maar dit was ook ’n uitbeelding van sy eie reis van gelowige tot ateïs as gevolg van sy ontnugtering deur die onegtheid van kontemporêre godsdiens.

“In a country (and indeed larger world) that is stricken with poverty and glaring inequalities, who can take those religious leaders who rake in millions of rands of income on a regular basis seriously?”

Alhoewel mens nie kan saamstem met al die verduidelikings wat hy aanbied nie en die eksplisietheid van die kunswerke walg, is sommige van die kunswerke se rasionaal pynvol akkurate kommentaar op die kerk en sekere rigtings van moderne godsdiens. Dit praat nie die kunswerke in die uitstalling goed nie, maar party daarvan dwing georganiseerde godsdiens tot introspeksie.

In refleksie op die afgelope week en die reaksie van gelowiges in ons dorp, land en weier, moet ek erken – ek is hartseer oor die manier waarop die meerdeheid van ons plaaslike, maar ook die wyer Christengemeenskap die saak hanteer het. In ons ywer om God se eer te beskerm, is ek bevrees het ons presies gedoen waarvan ons die kunstenaar beskuldig – Jesus wanvoorgestel en bespotlik gemaak. In plaas daarvan dat hierdie jongman omring is deur gelowiges wat met liefde en deernis na hom uitreik oor sy ervaring van God en godsdiens, het hy die donker kant van gelowiges gesien. Die skool het nie daarin geslaag om hom vroeg genoeg te ondervang en hom te begelei in sy denke nie. Die Christengemeenskap het nie vir hom ’n oop deur gelaat waarin hy kon inkom, of hom enigsins vriendelik en met liefde ingenooi nie. Inteendeel, ons het die deur kliphard in sy gesig toegeklap. Ek is bevrees ons het hom verder van God af gedryf, na ’n Goddelose wêreld wat hom met ope arms ontvang!

Dalk het die tydsgees waarin ons vandag leef gemaak dat ons so reageer het. Alles waarvan ons nog altyd so seker is, raak onseker en ons voel ons wil laer trek en dit wat vir ons “kosbaar” is met alles in ons beskerm. Ons voel ons het net een van twee keuses – jy is óf TEEN hierdie bose goed (dan is jy ’n “ware Christen”), anders is VIR dit, en dan is jy ’n “Godsverraaier”!

Totdat die emosies so bietjie bedaar en die stof gaan lê. Totdat ons weer na die video kyk, maar hierdie keer nie net deur die oë van die pastoor nie, maar ook ander reaksies lees en hoor, ook die stem van die kunstenaar hoor. Dan begin mens wonder …  is daar nie ’n middelgrond – ’n derde weg nie? Ons is mos nie van gister af hier nie! Ons het mos ’n hele geskiedenis waarin ons geleer het om nie emosioneel-gedrewe te reageer en so dieselfde foute van die verlede te herhaal nie.

Sal ons, met waardevolle lesse uit die verlede, en ook met die leiding en geloofsonderskeiding van die Heilige Gees vir elke volgende onbekende tree, onthou dat ons nie nodig het om soos die “underdogs” tot die stryd toe te tree in ’n poging om God se eer te beskem nie. Ons God het mos reeds oorwin en Hy neem ons saam op sy triomftog. Ons ís “Jesus se soldaatjies” soos die kinderkransliedjie ons geleer het, maar nie deur soos Petrus ore af te kap namens Jesus nie. Jesus kom gee vir ons ’n ander voorbeeld om te volg – een waarin liefde die onstopbare krag word wat mense se lewe verander.

Sou dit nie beter gewees het as ons die energie wat gegenereer is deur hierdie insident, gekanaliseer het om in liefde na die kunstenaar uit te reik nie? Sou dit nie mooi gewees het as daar uit hierdie hele petalje ’n video die lig gesien het waarin die kunsternaar getuig van hoe hy deur die liefdevolle reaksie van die Christen-gemeenskap op sy kunswerk, weer geloof in God gevind het nie? As ek terugkyk na die afgelope week, twyfel ek of dit die uitkoms gaan wees!

In ’n gesprek die afgelope Sondag met jongmense van ons gemeente, waarvan ’n aantal van hulle leerders is by Grantleigh, het ons vir mekaar gesê dat ons die lesse uit hierdie insident wil vasknoop:

  • In ’n post-Christen generasie is dit meer belangrik as ooit dat Christene geloofwaardig moet leef, self lief wees vir God en leef soos mense wat deur Hom liefgehê word.
  • Wees op en wakker vir dinge rondom jou waaroor die Heilige Gees jou onrustig maak, en reageer daarop. Maar vra Hom om jou te help HOE om rég te reageer!
  • Voordat jy reageer, wees ook bewus van jou eie vooroordele wat kan maak dat jy dink jy tree namens God op, terwyl jy dalk eerder namens jouself, jou groep of jou eie ego optree.
  • In plaas van betrokke raak by smeerveldtogte en die sensasie van onpersoonlike sosiale media en “slactivism”, kry eerder eers al die feite voordat jy iets “post” of aanstuur. Maak eerder jou hande “vuil” deur in liefde uit te reik na die “geïndentifiseerde oortreder/skurk”. Kyk in sy oë, hoor sy storie en vra jou gedurig af: “Wat wil Jesus hê moet hier gebeur?”.

By ’n plaaslike fraternal-byeenkoms hierdie week was almal (plaaslike pastore vanuit die breë spektrum van denominasies) dit eens:

  • Die kunswerke het aanstoot gegee en ten spyte van die grondwet se “vryheid van spraak/uitdrukking” en die kunstenaar se verduideliking, was dit nie te verwagte van ’n skool wat ’n Christen etos aanhang nie. Die skool (en ander soortgelyke skole) moet gaan herbesin wat die verskil is tussen ’n “Christen skool” en ‘n “Christen-gebasseerde skool” en wat dit in praktyk beteken.
  • Die wyse waarop die pastoor sy misnoeë te kenne gegee het (met ’n video op sosiale media), het egter net soveel skade gemaak. Matteus 18-riglyne moes eerder gevolg gewees het.
  • Gesprekke tussen die skool en plaaslike kerkleiers het alle partye weereens laat besef hoe belangrik gesonde en oop kommunikasie-kanale tussen plaaslike opvoedingsinstansies en kerke is. Die uitloop is ’n ope brief vanaf ons fraternal aan alle skole in ons omgewing wat hulle uitnooi om met ons in gesprek te tree wanneer daar ooit by hulle twyfel is oor sake wat moontlik ’n impak kan hê op die Christen-gemeenskap in die breë.
  • Met lesse geleer vanuit hierdie insident, stel die fraternal ook vir onsself ’n soort van SOP (standaard operasionele prosedure) op om ons te help om in die toekoms sulke situasies beter te hanteer, met suggesties aan ander geloofsgemeenskappe / fraternals oor die res van die land om dieselfde te doen in hulle omgewings.

Die gesonde verhoudinge binne ons fraternal het die hantering van hierdie saak baie vergemaklik, en ons kon ons byeenkoms afsluit met ’n gebed vir die skool, die leierskap en onderwysers, die leerders, die kunstenaar en ons gemeenskap, waarin ons die Here gevra het om hierdie insident ook ten goede te laat meewerk.

  • Ds Rupert de Koning is leraar by NG gemeente Meerensee in Richardsbaai, KZN.

5 thoughts on “Grantleigh: Vier lesse uit kunskontroversie by skool

  1. Louis Blignaut says:

    Baie dankie vir die perpektief. ek glo egter die skool moes die objek van ons protes gewees het nie die kind nie. Hulle verteenwoordig n waardestelsel wat hulle moes beskerm.

  2. Laurie Gaum says:

    Dis merkwaardig om te sien hoe vinnig daar gespring word vanaf ‘n bepaalde beeld waaroor afleidings gemaak word wat dit verteenwoordig, tot om ‘n skool te brandmerk as ‘satanisties’ – alles in die ekstreme: dis wit of swart; in of uit…
    ‘n Christelike waardestelsel kan tog boonop nie uitsluit dat daar (in hierdie geval ook legitieme) kritiek teen daardie waardestelsel ingebring word nie?

  3. Herman says:

    Ek is bevrees dat die paternalistiese blikhoek van hierdie artikel nie die christen se reaksie behoort te wees nie.

    Ek is self ‘n predikant en meen dat die enigste reaksie kan en behoort te wees om die “boodskap van die kunstenaar(Wat dit terloops nie vir openbare uitstalling bedoel het nie.) te hoor, te oorweeg en indien ons wil daarop, die boodskap natuurlik, te reageer.

    Om steeds te meen dat die kunstenaar begelei moet word asof ons sensuur van kuns voorstaan en hom as mindere in die gesprek beskou is juis die teenoorgestelde van wat behoort te gebeur.

    Ons het die Evangelie, die opdrag om dit te verkondig en uit te leef. Daarmee kan ons die persepsies wat die wêreld oor ons het herstel en doodleef.

  4. Thea says:

    Al die matriek kuns leerlinge het dieselfde opdrag gekry. My kind is ook in n Curro skool en hulle matrieks se kunswerk oor dieselfde tema verskil hemelsbreed. Dit is die plig van die kuns onderwyser om vir kind regte leiding te gee. Dit bly on -aanvaarbaar dat n Bybel opgeskeur word . Dit is sy keuse as hy n Athese wil wees . Dit gee hom nie die reg om Christen geloof sonder respek aan te spreek nie. Dit was ook die Skoolhoof se plig om te sorg dat die skool se Etos gerespekteer word en daar het hy/sy nie gedink voordat kunswerke uitgestal was nie.

  5. Bets Steenkamp says:

    Wanneer ek na die persoonlikhede van Jesus se dissipels kyk, is daar maar min van hulle wat altyd op ń aanvaarbare manier, vlgs die skrywer, opgetree het. Jesus het keer op keer hulle gedrag verander of gekorrigeer. Jesus was, ís en sal altyd as Hy sou wou, instaat wees om dissipels te kies wat sg. korrek kon optree. Persoonlik is ek dankbaar dat Hy ‘feilbares’ gekies het want weet jy, ek val in daardie groep.

    Voordat ek die pastoor kritiseer, wonder ek hoe ek sou optree as ek die Godslasterlike voorwerpe moes sien? Let asb. op dat ek dit geensins eers as kuns klassifiseer nie.
    In nabetragting, ja, ń meer taktvolle hantering/ benadering sou meer gewens wees máár ek sien in sy ontsteltenis ook sy liefde vir ons God. Die pastoor, ons broer in geloof, het nie stilgebly nie – ‘die oor is afgekap’.

    Ons almal gaan op ons knieë staan en verantwoording doen – iets waarna ek gladnie uitsien nie maar Goddank, Jesus gaan daar wees. Dankie vir die empatie teenoor die ateïskind maar wat van al die ander kinders wat beïnvloed en beseer is deur sy/haar optrede? Wie weet wat is die permanente skade wat plaasgevind het in jong kinders?
    Tog ironies dat lastering teen ons almagtige God ‘verdra/geregverdig’ word maar behoede die mens wat ń uitstalling sou doen omdat hy/sy lgbtqi sou wou aanspreek omdat ń kind dit nie verstaan of daarmee sou saamstem nie – sien asb dat ek dit níe in hoofletters skryf nie.

    In Jesus se kort tyd op aarde het Hy ‘aardskuddend’ opgetree: twee vbe; die vrou by die put máár, Hy het ook ń sweep gevleg.
    Ek sien uit na die tyd wanneer ek tenvolle gaan verstaan. Mag ons God en Vader ook hier die Heler wees en ons, as Sy kinders, ons nie ‘vir Hom skaam’ hier op aarde nie.

Comments are closed.