2019 was vir meeste Suid-Afrikaners en Namibiërs ’n moeilike jaar. Werkloosheid, armoede, geweld en ’n uitmergelende droogte bring ons letterlik op ons knieë.
As dagbestuur van die ASM is ons
- baie bewus dat lyding in talle gestaltes in Suider-Afrika ernstige afmetings aanneem. Geweld teen vroue, kinders, landbouers- almal broos en blootgestelde mense- is maar enkele voorbeelde;
- diep onder die indruk van die omvangryke impak van die droogte op mens en dier, maar ook op voedselsekuriteit en die ekonomie;
- dankbaar vir die hulp uit die burgerlike samelewing en ons gemeentes aan die droogtegeteisterdes in ons lande.
Ons wil langs hierdie weg
- almal aanmoedig om voort te gaan met die verlening van hulp en ondersteuning aan mense in nood;
- almal oproep om te bid vir uitkoms. Die Here is immers ons toevlug. Sy deernis en trou strek veel verder as wat ons kan dink of begryp. Laat ons ons verootmoedig voor die Here met ‘n verwagting dat Hy in hierdie dae vir elkeen van ons op besondere maniere kan oproep tot diensbaarheid, bemoediging, voorbidding en nuwe toewyding aan Hom.
Ons versoek hiermee dat julle gemeente tydens die komende Adventstyd sal bid vir mense in nood, spesifiek ook vir diegene wat ly as gevolg van die droogte.
En mag die Kerstyd dan vanjaar nuwe lewegewende uitkomste bring. Mag die hoop van God wat in die wêreld van mense vleeslik intree, dan vir ons nuut of hernuwend laat onthou dat God ons steeds lief het en sy doel met ons wil bereik.
Gustav Claassen
(namens dagbestuur van die ASM)
29 November 2019
Geborg
