Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die spook van 1862 loop weer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Algemene Sinode van 2019 is geskiedenis. Die reaksie op die besluite van die sinode het die NGK opnuut in beroering. Terwyl ’n groot groep lidmate dankbaar is oor die dapper besluite wat geneem is, is daar ’n ander groep wat meen dat besluite van die sinode die gesag van die Bybel min­ag. Gerugte van gemeentes en ringe wat hulle van die verband wil losmaak is aan die orde van die dag. Die buiten­gewone sinodesittings van Goudland Sinode en versoeke om buitengewone sinodesittings in ander streke dien as verdere bevestiging van lidmate wat hard en duidelik wil sê: “Praat help nie meer nie.”

Hierdie reaksie roep onwillekeurig een van die groot spoke van die verlede op. Tydens die sinode van 1862 is die vergadering ook bygewoon deur afgevaardigdes van buite die grense van die Kaapkolonie. Ouderling HH Loe­dolff het op grond van Ordonnansie 7 van 1843 beswaar aangeteken teen hulle teen­woordigheid. Loedolff was ’n ou­der­ling uit die gemeente Swartland en parlementslid vir Malmesbury. Die saak het in die hof beland en op 26 November 1862 het die Kaapse Hooggeregshof gelas dat die afgevaardigdes van buite die grense van die Kaapkolonie die vergadering moes verlaat. Die uitspraak het soos volg gelui: “That the said Andries Adriaan Louw be declared not entitled to sit, deliberate, and vote at the meetings of the said Synod, or to take any part in their proceedings.” Dit het die einde van een kerkverband vir die NGK beteken en het aanleiding gegee tot die ontstaan van die Sinodes van die OVS (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866). Dit sou 100 jaar neem om die verband te herstel.

Die rede vir Loedolff se beswaar weerklink soos ’n eggo deur die geskie­denis van die NGK. Loedolff was ’n ondersteuner van die liberale rigting, terwyl die afgevaardigdes uit die noorde bekend was vir hulle regsinnigheid. Die liberale rigting is daarvan beskuldig dat hulle “los en weg van die Gereformeerde belydenis” beweeg het terwyl die regsinniges hulle op die belydenisskrifte beroep het.

Die spook wat weer in die NGK loop het ’n naam – en dit is teologie. Die Algemene Sinode van 2019 word daarvan beskuldig dat besluite wat geneem is nie “Skrifgefundeerd is nie en in stryd is met ons Gereformeerde Belydenisskrif­te – NGB art 17.” “Daarom kan die Algemene Sinode nie meer vertrou word nie en moet nuwe affiliasie gesoek word as uitdrukking van kerklike eenheid.” Dit is nie die hof wat die NGK in 1862 verdeel het nie – dit was teologie – en dit is teologie wat tot ’n hernude verdeling kan lei.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top