Van die NG Kerk se voorste denkers oor ekologie het hul steun geskenk aan emeritusaartsbiskop Desmond Tutu en die klimaatsaktivis Al Gore se standpunt teen die gebruik van fossielbrandstowwe en die impak daarvan op armer lande in die suidelike halfrond.
“Die morele oortuiging wat Tutu en Gore onderstreep, is dat daar nie wins te make behoort te wees uit ’n saak waarby niemand baat nie,” het die ekologiekenner ds. Anton Doyer by navraag aan Kerkbode gesê. “Klimaatsverandering bring die integriteit van die skepping en die lewenskwaliteit van die aardbewoners, huidig en toekomstig, ernstig in gedrang,” aldus Doyer.
Dit kom na Tutu en Gore in ’n gesamentlike verklaring gewaarsku het dat voortgesette belegging in fossielbrandstowwe ongeregtigheid vererger.
“Fossil fuels drove northern hemisphere industrialisation and development, but it was relatively poorer southern hemisphere nations that could least afford to mitigate the impacts of climate change and would bear the highest costs,” luidens ’n verklaring wat in Januarie uitgereik is.
Die NG Kerk maak sedert 2015 erns met die kwessie van fossielbrandstowwe, brandstof wat deur natuurlike geologiese prosesse vir duisende jare gevorm is en steenkool, natuurlike gas, olie en petroleum insluit. Dis ook verlede jaar by die Algemene Sinodesitting bespreek.
Ernst Conradie, professor in godsdiens en teologie by die Universiteit van die Wes-Kaap sê dat die verbruikersklas klimaatsverandering aandryf terwyl die middelklas en die armes daaronder ly. Tutu en Gore se verklaring moedig organisasies en regerings aan om verantwoordelik in die nuwe dekade op te tree deur toenemend in hernubare energiebronne te belê.
“Any organisation committed to operating responsibly in this new decade has a moral imperative to stop participating in financing the destruction of human civilization’s future, and to instead invest in renewable sources of energy. That is particularly important for institutions that aspire to provide leadership in our society and to become a part of the solution to the climate crisis,” luidens die verklaring.
Fouché de Wet, predikant by NG Pretoria-Oos en ook lid van die Algemene Sinodale Taakspan Ekologie, sê die NG Kerk se ekologiese sensitiwiteit het al baie verbeter. De Wet brei uit: “Ons kry dit reg om ons profetiese stem te laat hoor. Natuurlik is dit steeds ʼn uitdaging om met ekologiese integriteit te leef. Dis noodsaaklik om nie net op papier omgewingsvriendelik te lyk nie, maar te dóén wat ons op papier sê ons gaan doen”.

Ek kan regtig nie anders om te wonder wat die ng kerk in hierdie deel van die dorp soek nie. Dis n onderwerp wat se geloofwaardigheid so vol gate geskied is en Al Gore het dit sommer self gedoen met vals propaganda. Mense het Jesus nodig meer as ooit. Is dit enigsins prioriteit by die ng kerk en verstaan die ng kerk die belangrikheid hiervan? Jesus is die oplossing vir alles. Om dit te begin begryp , begin by nederigheid.
Wat het die kerk met ekologie te doen? Christene weet reeds dat ons die omgewing moet oppas (Genesis). Niemand dink besoedeling is aanvaarbaar nie. Die ENIGSTE werk vd kerk is om die Evangelie te verkondig en dié wat swaarkry te help (terwyl die Evangelie verkondig word). Kyk hoe die beurtkrag die ekonomie benadeel, veral vir arm mense en entrepreneurs met klein besighede. En ons moet mínder fossiel brandstof gebruik? Julle somme werk nie. Julle wil mense ophef met wat…onbetroubare energiebronne? Ons mag nie steenkool gebruik nie maar ook nie silwerskoon atoom energie nie. As die mense regtig bekommerd was oor die natuur, en armes wil ophef, sou hulle atoomkrag voorgestaan het. Maar dit gaan nie régtig daaroor nie, gaan dit? Climate change en social justice is gekoppel aan ‘n goddelose wêreldsiening. Die kerk mis die hele punt met hierdie soort aktivisme omdat hulle nie hulle Bybels ken nie en omdat hulle Bybelprofiesie ignoreer. Weet julle dan nie dat alles, met die natuur en sonde, net erger en erger gaan word voor die wederkoms nie? Of glo ons nie meer in ‘n fisiese wederkoms nie…