Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chael TerBlanche van Pretoria skryf:
Na aanleiding van die besluite geneem op vanjaar se Algemene Sinode en die reaksie daarop en die moontlike wegbreuk van andersdenkendes in die Kerk, is dit dalk belangrik om te besin of die Kerk dalk verbaster het.
Volgens ds. JG Feenstra in sy boek Leer en Lewe is verbastering of deformasie in ‘n Kerk wanneer die volgende twee toestande tot openbaring kom. Eerstens kan ‘n Kerk openlik kant kies vir die verkeerde, vir die dwaling, sodat dit die dwaling offisieël vaslê. Tweedens kan ‘n gereformeerde Kerk die ampsdraers en lidmate vrylaat om te doen wat hulle wil: Hulle kan die Woord suiwer bedien, maar hoef dit ook nie te doen nie. Indien daar dan reaksie kom op grond van die Woord van die Here, word die getroue gelowiges ten slotte uitgeban omdat hulle hul verset teen menslike insettinge.
In beide gevalle is reformasie die enigste weg tot herstel.
Is dit nie die geval vandag met ons Kerk nie? Is dit daarom nie van uiterste belang om te bepaal hoe die Kerk gereformeer kan word nie, indien wel?
