Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die ontwikkelinge rondom die Wuhan Korona-virus gee ’n ontstellende prentjie van wat die uitdrukking “to go viral” werklik beteken. Dit gaan toe nie net oor hoe vinnig ’n video op WhatsApp en Facebook versprei nie.
Die eerste groot vraag met die uitbreek van die siekte was oor hóé die virus oorgedra word. Die oomblik toe bevestig word dat dit deur interpersoonlike kontak gebeur, is ingrypende isolasie-maatreëls in werking gestel. Sestig miljoen mense van die Hubei-provinsie is in isolasie geplaas. ’n Duisend bed-hospitaal word binne tien dae opgerig sodat siekes nie na ander stede vervoer moet word nie. Verder word beperkings op plaaslike en internasionale reise en massabyeenkomste soos sokkerwedstryde geplaas. Die belangrikste maatreël om verspreiding van die virus te keer, is isolasie.
Daar is betekenisvolle ooreenkomste tussen die groei of die beperking van hierdie epidemie en die Christendom. Die vroeë Christendom het virale groei beleef. Daar was verskeie redes hiervoor, ten minste twee het met nie-isolasie te doen:
Die grense van die Romeinse Ryk was oop en gelowiges kon maklik tussen stede en gebiede beweeg. Oral waar hulle gaan, het hulle die boodskap van die evangelie saamgeneem. Daar was nie geografiese isolasie nie.
Christene het hulleself ook nie interpersoonlik geïsoleer nie. Jesus het sy volgelinge geleer om die evangelie te deel en dit is presies wat hulle gedoen het. Hierin was die Christene anders as die Jode. Die vroeë kerk het mense van alle volke ingenooi en deel gemaak van die geloofsgemeenskap, die Jode het hulle uitgehou.
In die NG Kerk het ons met die teenoorgestelde probleem te doen: Die kerk krimp, ons impak in die wêreld verminder. Deel van die probleem is isolasie. Baie van ons praktyke isoleer onsself onbedoeld van die samelewing. Drie voorbeelde:
- Die liturgie en taal in ons eredienste is eintlik maar bedoel vir insiders, vir mense wat reeds gelowiges is en weet wanneer om op te staan en wanneer om te sit. Ons preke is vol woorde en begrippe wat bekend is vir lidmate, maar wat vreemdelinge dom en uitgesluit laat voel. Moet geen fout maak nie: liturgie is belangrik. Dit lei ’n mens om die teenwoordigheid van God te ervaar. Mense van buite wat na ’n erediens kom, wil hierdie ervaring hê. Hulle weet hulle is in ’n kerk, nie ’n fliek nie, maar hulle wil ook nie uitgesluit voel nie.
- In die meeste gemeentes is die kleingroepe ingerig vir die geestelike groei en saamwees van die groeplede. Dit is amper onmoontlik vir iemand wat nie ’n sterk Christelike agtergrond het nie om deel te word van ’n bestaande groep.
- Hoe langer iemand ’n Christen is, hoe minder nie-gelowige vriende het jy. Geleidelik word jou lewe opgeneem in die kring van mede-gelowiges. Dit is maar net hoe dit is. Die gevolg is egter dat individue ook geïsoleerd raak van die mense om hulle.
Dit is ironies dat daar soveel moeite ingaan om ’n virus wat doodmaak te isoleer, maar ons isoleer die evangelie, wat ’n lewegewende verskil kan maak, so maklik.
▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
