Sowat 160 kongresgangers van 13 verskillende lande het ’n vierjaarlikse kongres oor die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer op Stellenbosch bygewoon om sy lewe en teologie te bespreek en met hedendaagse wêreldkwessies in verband te bring.
Die ongeveer 80 bydraes het gewissel van klimaatsverandering tot migrasie, van armoede tot rassekwessies en van tronkteologie tot musiek. Aartsbiskop Thabo Makgoba, proff Wolfgang Huber, Pumla Gobodo-Madikizela, Terence Lovat en drr Nadia Marais, Teddy Sakupapa en Reggie Williams was die ses hoofsprekers.
“Dit was goed om te beleef hoe verskillende generasies by Bonhoeffer se lewe en werk aansluiting vind en dit steeds as ’n ryk teologiese bron sien vir die interaksie met die brandende uitdagings van ons dag,” het prof Robert Vosloo, professor in Sistematiese Teologie aan die US en voorsitter van die organiseringskomitee, na afloop van die kongres gesê.

Bonhoeffer, ’n uitgesproke teoloog oor dissipelskap in die sekulêre wêreld, is ’n week voor Adolf Hitler se selfdood, vir vermeende hoogverraad in Flossenbürg gehang, luidens die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie. Sy teologiese werke het ’n invloedryke rol in die Suid-Afrikaanse bevrydingsteologiese-beweging teen Apartheid gespeel.
Ook in die gehoor by hierdie 13de Internasionale Bonhoeffer-Kongres, was prof Allan Boesak. Nes Bonhoeffer, het Boesak ongeregtigheid in sy eie omgewing raakgesien, verstaan en daarop met dade gereageer, het dr Henco van der Westhuizen op die eerste dag van die kongres van die podium gesê. Van der Westhuizen wou daarmee wys hoe konkreet die invloed van die bekende Duitse kampvegter teen Duitse Nazïsme op die Suid-Afrikaanse konteks was en steeds is.
Die senior lektor in Historiese en Sistematiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, het die raakpunte tussen Bonhoeffer se teologie en dié van Boesak, bekende swart-bevrydingsteoloog en voormalige moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, as onderwerp vir sy bydrae gekies by hierdie saamtrek wat van 19 tot 23 Januarie by Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie plaasgevind het.
“’n Belangrike dryfkrag agter Boesak se teologie, nes dié van Bonhoeffer, is die ervarings en standpunte van onderdruktes in die samelewing,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen het ’n frase uit een van Bonhoeffer se gedigte, “Christene en Heidene”, as vertrekpunt in sy argument gebruik om die teologie van Bonhoeffer in gesprek met Allan Boesak se teologie te bespreek. Hy het Bonhoeffer se woorde, “Christene staan by God in God se uur van rou”, sorgvuldig in verband met Boesak se werk bespreek.
Beide Bonhoeffer en Boesak beklemtoon volgens Van der Westhuizen dat gelowiges in die hier en nou, in gehoorsaamheid tot Jesus, standpunt moet inneem vir geregtigheid. Dié standpunt, leer Boesak by Bonhoeffer, beteken dis noodsaaklik om te staan waar jy nie noodwendig wil nie, maar moet.
Dit is ’n unieke oomblik wanneer gelowiges ongeregtigheid in die samelewing raaksien, verstaan en daarop met dade reageer, aldus Van der Westhuizen.
Só sê ander in die gehoor
Ashwin Thyssen, MTh-student
Die kongres het die ruimte gebied om ernstig te reflekteer oor die vele uitdagings van ons tyd. Dis wat Bonhoeffer relevant maak in en vir ons tyd; sy teologie het ten diepste geworstel met die morele vrae van sy tyd, en dit bied ons inspirasie hoe om so te doen in ons tyd en konteks.
Whitney Muller, 4de jaar-student
Ek is jammer om dit te sê, maar Bonhoeffer se nalatenskap gaan nie deur ’n joernaal, werksgemeenskap of konferensie voortgesit word nie, maar slegs óns dade. Bonhoeffer het sy eie etiek deur sy dade beliggaam. En dáárom wil ek vir julle, as Bonhoeffer-geleerdes, aanmoedig om Bonhoeffer ernstig op te neem.
Dewald Jacobs, 4de jaar-student
Bonhoeffer se lewe en bereidwilligheid om met daad op te tree, inspireer ons om in ons eie konteks vandag dieselfde te doen.
Jayson Gribble, 4de jaar-student
Bonhoeffer daag ons uit om ten alle tye getrou te bly aan ons geloof. Ons, as die komende generasie, moet vanuit ons oortuiging die waarheid in volle liefde praat. Hoe ons ‘praat’ moet ook ons aksies beïnvloed.
Zimkitha Ludonga, Nagraadse Diploma in Teologie-student
Bonhoeffer daag vir mý as teoloog uit om nie stil te bly nie. Apartheid en rassisme is lewendig in Suid-Afrika, maar meeste teoloë is stil oor die ongeregtigheid. Bonhoeffer het opgestaan vir die gemarginaliseerdes in Duitsland. Teoloë moet harder begin praat oor die ongeregtighede in Suid-Afrika.
Louis van der Riet, PhD-student
Bonhoeffer se nalatenskap is nie ’n sisteem, bloudruk of resep nie. Bonhoeffer se lewe en teologie nooi ons eerder uit – en dáág ons uit – om weer en weer te vra hoe ons geloof vandag grondvat.
