“Julle moet ’n slag die goeie nuusstorie vertel – die goedvoelstories …” So hoor ’n mens gereeld wanneer iemand uitvind jy is in die kerknuusbesigheid. Veral in die NG Kerk is daar eerstens die gevoel dat die kerk veel meer uitrig as wat algemene kennis is en, tweedens, dat dit waarop die kerk se lidmate werklik trots is en waaroor hulle inderwaarheid opgewonde is, dikwels nie as nuuswaardig beskou word nie en gevolglik deur die media “misgekyk” word.
Dit mag wees. Dalk is die bril waarmee ook ons as joernaliste hier by Kerkbode na die wêreld kyk soms te beperk wanneer ons die tradisionele “nuuswaardes” opweeg en aan ’n gebeurtenis die standaard nuuskantoorvrae stel, soos: Is dit nuut? Is daar ’n mate van prominensie? Skep dit ’n presedent? Is daar konflik / emosie betrokke? Is dit kultureel relevant of voel dit ver verwyderd uit die leefwêreld van jou tipiese leser? Is dit hoogs ongewoon – moontlik tot komiese / vermaaklike graad?! Hierdie rits vrae is mos maar die ratte wat in ’n mens se kop draai om uit te werk of iets inderdaad “nuus” is. Elke basaar, gravamen, groentetuinprojek, verklaring, doop, sterfte, kollekte, bekering … dit als is belangrik maar nie als is iets waarvoor daar in papierkoeranttaal plek is of in digitale taal klieks is nie.
Die goeie nuus is ’n koerant of nuusdiens kan werk en verstel aan die lens waardeur hy kyk. Terugvoer is deel van die stuurmeganisme van ’n nuusblad; tesame met nuusinstink, ervaring en, toenemend, die “voetspoor” wat lesers op www.kerkbode.co.za laat, waar ons in detail kan sien watter stories hoe lank gelees word en selfs in watter dele van die land en deur watter segmente van ons totale lesersdemografie. Praat met ons. – Red.
