Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Koerantopskrifte die afgelope tyd is vol stories van dreigende skeuring in die kerk. Die soort woorde wat in die opskrifte en berigte gebruik is, het my besonder ontstel. Woorde soos: ’n bekgeveg in die NG Kerk, stryd en twis. Ek het in hierdie rubriek geen belang daarby om kant te kies tussen die standpunte in die gay-debat nie. Ek het wel oor die loop van jare, by ondersteuners van beide kante in die debat gehoor: “As die kerk hieroor moet skeur, dan moet hy maar skeur.” Dit laat my sidder.
As ’n mens die kerk se roeping as God se gestuurde in die wêreld ernstig neem, is die eenheid van die kerk ’n saak van dodelike erns. Dit gaan nie maar net oor skindertonge wat hulle verlustig in tweedrag en stryd nie. Dit gaan oor die getuienis oor Jesus.
In Johannes 17 skryf die evangelis oor Jesus se gebed net vóór sy kruisiging. Dit is ’n gebed vir sy dissipels en vir die gelowiges wat deur hulle woorde tot geloof sou kom. ’n Gebed vir die kerk, dus. ’n Gebed vir die NG Kerk.
Hy bid dat sy dissipels wat by Hom is, aan die waarheid toegewy sal wees, die waarheid van die woord. Hy bid nie dat God sy dissipels uit die wêreld sal wegneem nie – dit kan tog nie. Hulle is juis, soos Jesus self, na die wêreld toe gestuur. Hy vra wel dat die Vader hulle van die Bose sal bewaar.
En dan bid Jesus vir diegene wat verder tot geloof sal kom, vir die kerk. Sy groot gebed vir die kerk is vir eenheid: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U …” En twee maal sê Hy waarom die eenheid so belangrik is: “… sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
Hierdie gebed moet ons tot stilstand ruk: Die geloofwaardigheid van Jesus as God se gestuurde hang af van die eenheid van die gelowiges. Verdeeldheid en twis is nie net maar iets wat dinge in die kerk ongemaklik maak nie. Dit trek ’n streep deur Jesus.
Die NG Kerk verklaar – in ons Kerkorde nogal – dat ons “deur God Drie-enig geroep (is) om deel te neem aan die missie van God in die wêreld.” Dit is tyd dat ons hierdie roeping ernstig opneem. Hierdie roeping het konsekwensies. Om eenheid te bewaar is een van die belangrikste konsekwensies.
Ons moet eenheid soek as kerk in die lande van Suider-Afrika, as sinodes, ringe en gemeentes, in ons huishoudings en in ons huwelike. Tans praat ons dade so hard dat die wêreld nie ons mooi woorde oor Jesus kan hoor nie. Verdeeldheid in die kerk trek ’n streep deur die geloofwaardigheid van die gekruisigde Jesus.
▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
