Die kerk van Christus is sy bruid. Dit is ook sy liggaam. So intiem dink Christus oor sy verhouding en verbondenheid met die kerk. Ek is daarom baie bekommerd oor die wyse waarop ons self oor die kerk dink. Maar laat ek eers sê wat ek dink die kerk nie is nie. Die kerk is nie ’n slagveld van idees nie. Die kerk is nie ’n plek vir manipulering, drukgroepvorming, mekaar uitoorlê en -skouer nie. Die kerk is ook nie ’n plek waar ons mekaar karnuffel en sodanig druk op mekaar plaas dat ons dit vir mekaar onhoudbaar maak nie.
Nee, die kerk is die plek waar ons ons eenheid in Christus vier. Ons vier ons gedeelde verlossing in Christus. Ons vier die opstanding en die oorwinning oor die dood. Ons vier die nuwe lewe in Christus. Johannes sê dit so mooi in 1 Johannes 1: “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.” Johannes is die meester van intimiteitstaal. Hierin lê die eenheid van die kerk dat ons nie Christus afstandelik volg nie, maar in ’n intieme verhouding aan Hom en die Vader en Heilige Gees deel het, sodat ons ’n nuwe gemeenskap word, vol vreugde en blydskap. Die eenheid word verder versterk deur ons gesamentlike oortuiging dat Christus die Hoof is van die kerk, dat Hy deur sy Woord en Gees regeer, terwyl die Vader ons met sy eie hand versorg. As jy nog boonop die diepe oortuiging deel dat die inisiatief vir alle geloof by God begin, dat Hy ’n verbondsgod is, dat God ook die fontein van alle goedheid is, dat Hy die bron is van die lewe, dan kan jy nouliks van mekaar wegstaan en met agterdog van mekaar praat.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2018/05/Nelis_Profile2.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Hierdie eenheid van die kerk kan nie op die offeraltaar van strydpunte of vooroordele of ego’s verbrand word nie. Die ware eenheid van die kerk is ’n inwendige eenheid waarin God self die liefdesdinamika verskaf. Die uitwendige eenheid word op hierdie fondamente gebou. Die uitwendige eenheid van die kerk moet die inwendige dinamika van die ware kerk reflekteer, sodat die wêreld dit kan sien. Die uitwendige kerk moet die intieme verhouding van ’n bruid met haar geliefde weerspieël. Die heerlikheid van die bruid moet skyn elke keer as die sluier van haar gesig gelig word.
As ons mekaar nou manipuleer en uitskouer en wil uitoorlê, reflekteer ons iets van die ou mens wat met mag wil oorwin deur alleen die waarheid in pag te hou. Wie immers telkens glo dat hy of sy alleen die waarheid het, en afskei van hulle wat anders as jy hoor en dink, en eie ruimtes gaan soek vir die waarheid wat my magsbasis geword het, verloor so maklik die intimiteit, blydskap en vreugde van die gesamentlike deelname aan die Goddelike dans met sy bruid.
Ek is bekommerd dat die deelnemende sinodes van die Algemene Sinode se verband met mekaar by die 2019 Algemene Sinode te dun gedefinieer is. Ons gaan nie met ’n verdunde uiterlike eenheid die innige Godgedrewe dinamika met sy kerk weerspieël nie. Diep in die hart van die NG Kerk het daar fout gekom, in 1962 toe ’n Artikel 37 toegelaat is wat sinodes die opsie gee om met behoud van hulle naam en eie identiteit uit te tree uit die verband van sinodes. Die neiging tot afskeiding en selfregering is daarmee in die DNS van die kerk verskans. Nou het ons ook nog gesê dat die Algemene Sinode nie meer bindende beleidsbesluite gaan neem nie, selfs nie eens oor die Artikel 43 sake wat deur die deelnemende sinodes aan hom toevertrou is nie. Dit pas nie by ’n kerk wat bruid is en saam in Christus is en die Goddelike geluk bedink en vind nie.
Ek ondervind dit so dikwels wanneer ek by gemeentes kom hoe die vreugde in die aanbidding getuig van die innerlike eenheid met God en mekaar. Ek sien dit ook in my pastorale werk hoe mense wat diep deur die sleurkrag van die Heilige Gees in die dinamika van Vader, Seun en Gees ingeneem is, met blydskap leef. Ek sien dit ook in sinodevergaderings. Dit is nie asof daar nie in daardie sinodes en gemeentes ’n verskeidenheid van sieninge, oortuigings en lewenstyle is nie. Maar hulle blydskap is oorvloedig omdat hulle ingeneem is in die Goddelike dinamika. Tydens die pasafgelope Algemene Sinode het ons baie daarvan beleef. Daar was baie vreugde en viering, ten spyte van ons verskille. Daar is ruimte gemaak vir mekaar en besluit om mekaar se ruimtes te verdedig.
Johannes 17 volg op Johannes 14, 15, 16 waarin Johannes so betekenisgewend praat oor die eenheid van die kerk. Maar hy begin met ons “in die Vader wees en ons in Hom wees”. Daarna eers in hoofstuk 17 kom die diepe voortspruitende verbondenheid met mekaar wat sal getuig dat Christus die Here is. Ons moet hierdie logika goed bedink en dan mooi dink wat ons eintlik sê as ons verhoudings nie van innige omgee getuig nie.
▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.