Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Carina Stander. Foto's: Hanno Coetzee

‘Bekorende’ gelykenisse

Wanneer jy die skrywer van Die Wonderwese, wat beskryf word met woorde soos “’n ver­beeldingsvlug en verbeeldingsvrug” en “genre-brekende bekoringsroman” uitvra oor haar vermoë om in haar boe­ke ’n verstommende towerwêreld te ver­woord, kom haar vele reise regoor die wêreld ter sprake.

As reisjoernalis en natuurliefhebber maak Carina Stander dit haar besigheid om gereeld ’n reis te onderneem. Die Skotse Hoogland en Suid-Amerika is net van haar vele bestemmings.

Dit mag natuurlik ook te doen hê met haar honneursgraad in beeldende kuns en ’n meestersgraad in kreatiewe skryf­werk. Op die voorblaaie van haar jongste twee boeke, en haar twee digbundels, pryk haar inksketse.

Maar, sê Carina, dit het alles by haar ouers, wat in die Waterberge woon, begin. In ’n onderhoud in LiG, Kerkbode se susterpublikasie, het Carina gesê: “Die grootste geskenk wat ek ooit by my oopkop ouers gekry het, is die genade dat hulle my toegelaat het om myself te wees. Hulle het my nooit laat voel dat ek ánders is nie. Hulle het my aangemoedig, my uit die staanspoor laat glo ek hét dit. En dit terwyl daar niemand anders in ons familie is wat ooit kuns of skryf as ’n beroep beoefen het nie.”

Hoewel Carina in die laerskool gevoel het dat daar geen waardering vir haar kreatiwiteit was nie, was dit die teen­oorgestelde tydens haar hoërskoolloopbaan. ’n Keerpunt was toe sy in matriek vir ’n kortverhaal, In ’n neutedop, deur die Congress of South African Writers bekroon is.

Carina en Gerrit by hulle kinders – Ilan op Carina se skoot en Aden wat agter staan.

Carina beskryf Die Wonderwese, die tweede in die Bergengel-trilogie so: “’n Allegorie of ’n uitgebreide gelykenis van ’n mens se groeiende gees. Soos met Christus se gelykenisse, word die woord “God” nie eens gebruik nie, maar dit wemel van verskuilde geestelike verwy­sings.”

’n Resensent op Netwerk 24 skryf: Die boek is ’n belydenis van geloof – in die krag van die woord, en die mag van die daad, ’n bekentenis van eiebelang, hebsug en magsug wat hoogty vier in die afwesigheid van medemenslikheid en sagmoedigheid.”

In dié boek is die hoofkarakter Eron Verberger op reis deur die skrywer se verbeelde wêreld op soek na die laaste “Geseëndes” by wie hy sekere gawes moet leer: afhanklikheid, ’n honger en dors na geregtigheid, die waarde van treur, die krag van ’n rein hart, sagmoedigheid, barmhartigheid en hoe om ’n vredemaker te wees.

Die Saligsprekinge is juis die “ruggraat van die verhaal”, vertel Carina wat die afgelope 12 jaar in die Tsitsikamma saam met haar programmeerder-man en twee seuns woon.

“Ons het die stad verlaat en die woud as vriend bygekry,” het Carina een maal oor die voorreg gesê om as gesin hope vryheid en die natuurskoon te kan ge­niet.

Vandag het sy een groot wens: om haar kinders so kreatief moontlik groot te maak. Elke seun het byvoorbeeld ’n boomhuis waarin daar huiswerk gedoen word.

Carina en haar man neem Aden en Ilan ook graag saam op reis. “Ons leer hulle ’n diepe bewustheid van alles wat om ons is,” sê hulle ma. “Daarom het hulle in hulle babatyd reeds elkeen ’n paspoort gehad.

“Die heel belangrikste vir ons is om Aden en Ilan se uniekheid elke dag te vier.”

En intussen werk Carina aan die laaste boek, Die Waterplek, in die trilogie wat oor sowat twee jaar verskyn.

Sy maak darem ook genoeg tyd vir ’n koppie van haar “troostee”, wat sy self brou, terwyl sy die ruie plantegroei en talle voëls en diere in haar agterplaas, aan die voet van ’n berg, geniet.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top