Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

'Die hoofdoel met die aanbieding van hierdie program in gevangenisse is om aan die gevangene wat ’n klaarblyklike mislukte eerste begin in sy of haar lewe gehad het, met ’n nuwe begin te help," vertel ds Jannie Booysen. Foto verskaf

Arbeidsbediening: Nuwe begin vir gevangenes

“It taught us how to live a life without harming other people or doing crime …”

“All of these that I have learned are going to be my tools that I am going to use to change my life … that I will make good choices in life.”

Só skryf van die jeuggevangenes van Korrektiewe Dienste te Brandvlei wat vroeg vanjaar die Bright Star-lewensvaardigheidskursus bygewoon het. Bright Star is ’n lewenstylprogram wat uit drie modules bestaan. Dit fokus op selfkennis, verhoudings en leierskap en word deur vyftien lewensvaardigheidstemas tydens die aanbieding verduidelik en vasgelê.

Lees ook: Maksimum genade

Ds Jannie Booysen, pastorale werker van Arbeidsbediening en ook fasiliteerder van die gewilde Bright Star-program, het dit vanjaar vir ’n tweede keer in Malmesbury aangebied. Hy word bygestaan deur Lene November, medefasiliteerder van Arbeidsbediening Kaapstreek.

Arbeidsbediening is ’n nie-winsgewende organisasie wat die boodskap van Christus na werkplekke neem en beide werknemers én werkgewers geestelik bedien. In die geval van Korrektiewe Dienste het hulle bediening in plaas van net die bewaarders en oorsieners van gevangenisdienste egter oorgespoel na die geestelike behoeftes van die gevangenes.

Lees ook: So help mentors gevangenes

November het in 2018 ’n sterk behoefte begin ervaar dat Arbeidsbediening deur die Here geroep word om ook na die gevangenes uit te reik. Iets wat spesifiek in Lukas 4:18-19 deur Jesus versoek is.

Sy vertel: “Nadat ek in 2018 met ds Glenda Fredericks, kapelaan van Korrektiewe Dienste in Brandvlei kontak gemaak het, het die wiele vinnig begin rol en is die eerste Bright Star-kursus in Oktober 2018 aan 25 jeuggevangenes van Korrektiewe Dienste, Brandvlei aangebied. Daarna het dit vinnig versprei na aanbiedinge by Korrektiewe Dienste in Malmesbury waar 25 Medium B-gevangenes die kursus voltooi het, toe weer Brandvlei waar 25 jeugdiges dit bygewoon het en toe 25 Maksimum B-gevangenes by Malmesbury. In Januarie vanjaar het daar al 100 gevangenes sedert 2018 die Bright Star-kursus voltooi.

Booysen brei uit: “Arbeidsbediening se hoofdoel met die aanbieding van hierdie program in gevangenisse is om aan die gevangene wat ’n klaarblyklike mislukte eerste begin in sy of haar lewe gehad het, met ’n nuwe begin te help. Dit word gedoen deur evangeliese beginsels aan hulle te leer en hoe hulle Jesus Christus kan leer ken as hulle persoonlike Verlosser. Hulle word tydens hierdie kursus begelei hoe om deur die Gees van Christus ’n nuwe lewenstyl volgens Galasiërs 5:22 te kies en te handhaaf.”

Om die ys te breek

Dit is egter nie maklik om die gevangene se vertroue sommer dadelik te wen nie; die meeste van hulle kom uit agtergronde waar verwaarlosing, swak verhoudings en wantroue aan die orde van die dag is. Booysen vertel: “Die aanbieding word ingelei met wat die kursusgangers van die kursus verwag; dit help gewoonlik om die ys te breek. Tydens ons aanbiedings sal ons ook altyd die gevangene se opinie en gevoelens respekteer. Hulle weet ook hulle kan my vertrou met hulle mededelings en dat ek dit nooit met ’n ander groep sal deel nie.

“Dit is aangrypend as jy hoor hoe hierdie kursus gevangenes gehelp het om hulle lewensdoel te ontdek; hoe hulle nuwe waardes vir hulle lewe aanneem, besluit om te werk aan swak verhoudings en begin strewe na uitnemendheid.”

En wat beteken hierdie aanbieding vir julle as fasiliteerders? November vertel: “Ek ontdek elke keer opnuut hoe God in liefde uitreik na mense wat Hom só nodig het. Ek besef elke keer hoe sleg die gebrek aan kennis en lewensvaardighede vir mense is, maar ook die seëninge van heling en herstel.”

“Al bogenoemde aanbiedinge was eerste aanbiedinge, maar sal almal opgevolg word,” vat Booysen saam.

“I know now that there’s hope for everyone that is struggling to live a positive life and I truly believe that there is hope … I’ve learned to take responsibility for my life and to put my priorities first,” skryf een van die gevangenes na een van Arbeidsbediening se aanbiedinge.

  • Kontak Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top