Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Christo Benadé, leraar van NG gem Suider-Strand, skryf via Facebook:
In tye waar ons kerk worstel met die spanning tussen eenheid en verskeidenheid het ek ervaar wat dit beteken dat die Here sy kerk saambind as ’n eenheid met ’n verskeidenheid gawes. ’n Familielid van ons was ernstig siek in ’n hospitaal in Amanzimtoti. Sy is ook later oorlede in die hospitaal.
Daar was ’n groot behoefte aan geestelike ondersteuning. Ek vat toe ’n kans en kry die nommer van ds Marius Schoombie van NG gemeente Suidkus. Hy was dadelik bereid om te gaan en het verantwoordelikheid geneem om met die familie kontak te maak. Sy ondersteuning het baie beteken vir die gesin in die hospitaal en ook na die dood van hulle geliefde.
Dis lekker om te weet daar is kollegas oor die land wat ’n roeping het vir die koninkryk. Wie se eerste vraag, nie is: “Is dit ’n gemeentelid?” nie.
Ek het weer die waarde besef van ’n denominasie, ’n kerk waarvan ek deel is wat versprei is oor die land. Kollegas vir wie dit minder belangrik is aan watter kant van die kas ek staan, maar wel my roeping vir die nood van mense deel.
Dankie, Marius, vir jou oop hart en vrygewigheid met jou tyd. Dankie, Suidkus-gemeente, dat julle leraar die vryheid het om ook sy roeping in die koninkryk te vervul.
