Kerkbode (KB): Daar was ’n gemoedelike atmosfeer toe die moderamen van 3-5 Maart in Benoni vergader het. ’n Atmosfeer wat die koerantleser wat meer van twis en onmin te hore kom, dalk sal verras. Hoe werk dit? Hoekom is daar hierdie oënskynlike teenstrydigheid?
Nelis Janse van Rensburg (NJ): Die lede van die ASM is goeie geloofsvriende. Die ASM bestaan uit 50 lede. Daar is uiteraard meningsverskille oor sake, maar ons diep verbondenheid aan Christus is die fondament van ons goeie verhoudings. Agterdog het die laaste tyd plek gemaak vir toegeneentheid en omgee. Dit is altyd lekker om te sien hoe bly die lede is om mekaar by die vergaderings te ontmoet. Ons is ’n gelukkige span bymekaar.
KB: Die agenda is byna 100 blaaie … die ding het behoorlik ’n pens en skouers! Is hierdie soort byeenkomste werklik effektief?
NJ: Lede van die ASM kom verteenwoordig nie hulle sinodes in die ASM nie. Hulle kom verteenwoordig die belang van die koninkryk en kerk in Suider-Afrika. Artikel 43 van ons kerkorde dui die Algemene Sinode se take aan. Die werk is baie ekumene, publieke getuienis, teologiese opleiding om maar net enkele take te noem. Ons taakspanne bring uitstekende verslae na die vergadering. Met dit alles word die sinodes ondersteun en word daar namens sinodes werk gedoen waar sinodes dit nie alleen kan of wil doen nie. Die ASM se vergaderings is dinamies en baie stimulerend.
KB: Goudland, wat in die nuus was oor hulle betalings aan die AS terughou, het laat weet hulle sal weldra weer betaal maar hulle het ook onthul dat hulle tot die stap gedwing is deur enkele groot gemeentes wat daardie stap op hulle beurt geneem het, wat die streeksinode se finansies tot so ’n mate destabiliseer het dat hulle hulle sinodekantoor se deure moes sluit. Hoe interpreteer jy hierdie benadering deur gemeentes wat ontevrede is met die AS se 2019-besluite?
NJ: Ek kan natuurlik vir jou sê, dis tegnies verkeerd en hulle kan en behoort dit eintlik nie te doen nie. Maar ek dink ons moet hoor wat die gemeentes vir ons sê. Hulle kry swaar met die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings en hulle wil dit duidelik laat hoor. Maar nie ver van al hierdie gemeentes en mense nie is daar mense wat die Skrif anders as hulle verstaan. Dis mense wat net so ernstig is oor die gesag van die Skrif. Tydens die Algemene Sinode het ons die respek wat die onderskeie groepe vir mekaar se integriteit het, gehoor. Daarom kon ons die twee ruimtes binne die kerk skep, vir beide oortuigings. Ons het onderling begin ooreenkom om alles moontlik te doen om diegene wat van jou verskil se ruimte te beskerm. As ons mekaar hiermee kan vertrou, kan ons ver kom.
KB: Julle het twee gaste ingenooi dié week by Benoni: Ds Rudi Swanepoel en dr Danny Titus. Wat het jy by elk gehoor?
NJ: Rudi het sterk klem gelê op die versoeningsrol van gemeentes in hulle gemeenskappe. Hy daag gemeentes uit om oor grense heen verhoudings te bou en breër en meer insluitend oor kerklidmaatskap te dink as wat ons tradisioneel gedoen het. Ons werk tans aan ’n nuwe kerkorde wat juis die insluiting van mense wil bevorder. Dr Titus het ons onder meer aangemoedig om die gedeelde verhale van verskillende rasse en groeperinge van mense in Suid-Afrika te vertel. Ons verhale is baie meer vervleg as wat ons laat blyk. Dis wanneer ons ontstaansverhale oorvertel dat ons ontdek hoe naby ons eintlik aan mekaar is. Dr Titus het enkele stories vanuit die slawetyd vertel om ons historiese verbintenisse te illustreer. Beide toesprake het ’n sterk versoeningstema gehad. Die toekoms van die kerk is beslis gebou op die evangelie van genade, versoendheid en insluiting, met inagneming van ons taal en kulturele verskeidenheid.
