Boeke: ‘n ‘Lockdown’-leeslys

Ons het Kerkbode-lesers en -medewerkers gevra om bietjie te gesels oor die boeke wat hulle hoop welkome afleiding in die volgende drie weke gaan bied.

Nico Simpson, ’n digitale projekbestuurder by Bybel-Media, het ’n paar stories in gedagte: “Ek het drie halfgeleesde boeke op my lysie. Al drie gaan oor stories: die vertel van stories, die gawe van stories en die herskryf van stories,” sê hy.

Michelle Lemmer van Pretoria is dankbaar vir die vooruitsig om by boeke uit te kom wat al ’n wyle op haar bedkassie lê. Double blessing van Mark Batterson lê en wag omdat sy gevoel het die Here beplan dit vir 2020. Verder is dit The way of life van Bill Johnson oor hoe om ’n koninkrykskultuur op aarde te kweek, Jesus promise book van David Wilkinson en Crochet know-how omdat Michelle weer haar hekelvaardighede wil “opskerp”. “My Bybel en Come away my beloved is altyd langs my bed om God se stem te hoor,” vertel Michelle.

Natascha Olivier, grafiese ontwerper by Bybel-Media, vertel sy weet nie hoeveel sy gelees kan kry met haar werk vanaf die huis en kinders tuis nie, maar sy het wel ’n paar boeke op haar wenslysie. “Die Donna Tartt-boek is hoogs aanbeveel en ek wou dit al 15 jaar lank lees. Verder is die Parallel Bible my gunsteling een en Max Lucado se boeke is altyd vol inspirasie vir elke faset van die lewe.”

Liezel Joubert, wat tans saam met haar gesin na ’n Karooplaas gegaan het vir die inperkingstydperk, deel haar boeklys: “Die Bybel – want dit is my rigtingwyser. Skoenlapper van Irma Venter – nog nie begin nie maar dis aanbeveel vir iemand wat hou van fiksie. Karretjiemense het ek eintlik vir iemand anders gekoop, maar dit gaan oor die Karoo se mense en dis waar ons nou is. Die Mannheimsage wou ek koop, maar toe sê ’n vriendin ek kan hom leen. Baie interessant, want dit handel oor die leefwyse in die begin van die goudmyn-tydperk (1886) in Johannesburg.”

“Dis net my Bybel wat my eie is … Bruistablette het ek by ’n vriendin geleen asook Stormie Omartian se boek. ’n Tyd om lief te hê deur Karin Kingsbury het ek by die biblioteek gaan uitneem,” deel Theanita Johnston.

Francine Prins, LiG-tydskrif se redakteur, vertel sy het altyd “’n vrag boeke op haar bedkassie, en lees so stuk-stuk uit elke boek”. “Ek het sopas klaar gemaak met Dietrich Bonhoeffer se biografie. Dit was interessant om in hierdie tyd van COVID-19 te lees hoe sommige Duitsers teen Hitler se Third Reich geveg het, en die groot implikasies wat dit op die samelewing en hulle geloof gehad het. Daar is ’n dagboek waarin ek skryf vir ons ongebore baba, ’n boek oor breinontwikkeling van kinders en twee gebedeboeke wat ek hopelik baie in hierdie tyd sal kan gebruik. Ek sien ook uit daarna om Carina Stander se Die Wonderwese te begin lees – lekker ontvlugting!” sê sy.

Liska Nuss het ’n lang lys boeke wat wag. Mere Christianity omdat sy so baie van CS Lewis se skryfstyl hou. Mona Lisa smiles in Duits om haar “Duits te verbeter”. “One hundred years of solitude is seker toepaslik tans. Gabriel García Márquez is ook ’n fantastiese skrywer (Love in the time of cholera) en ek wil graag sy ander werke aanbeveel. Dan ook Shantaram, the spy (storie van Mata Hari) soos vertel deur Paulo Coelho, East of Eden, Elegie vir ’n onbekende en Coming to our senses vir selfverryking en om te gebruik in my daaglikse werk met mense,” vertel Liska.

Le Roux Schoeman se lysie is ook ’n mengsel van lees- en herleesprojekte.

The sportswriter deur Richard Ford. ’n Sportskrywer met ’n ryk binnelewe en genuanseerde liefdeslewe deel insigte soos hierdie, op bl 59: “At this moment it may be of interest to say a word about athletes, whom I have always admired without feeling the need to be one or take them at all seriously, and yet who seem to me as literal and within themselves as the ancient Greeks (though with their enterprises always hopeful). Athletes, by and large, are people who are happy to let their actions speak for them, happy to be what they do. As a result, when you talk to an athlete, as I do all the time in locker rooms, in hotel coffee shops and hallways, standing beside expensive automobiles – even if he’s paying no attention to you at all, which is very often the case – he’s never likely to feel the least bit divided, or alienated, or one ounce of existential dread. He may be thinking of a case of beer, or a barbecue, or some man-made lake in Oklahoma he wishes he was waterskiing on, or some girl or a new Chevy shortbed, or a discothèque he owns as a tax shelter, or just simply himself. But you can bet he isn’t worried one bit about you and what you’re thinking.”

Kortom, ’n lekker slim leesboek … anders as:

Rant – The oral biography of Buster Casey deur Chuck Palahniuk.

’n Mens dink nie aan Palahniuk as iemand wat spanningsvlakke laat daal nie. Die skrywer het bekendheid verwerf as iemand wat die maag met die pen kan laat draai. “67 people fainted as I read my horror story,” het hy in 2005 aan Telegraph-lesers vertel oor sy openbare voorlesing van die storie Guts. Maar die boek Rant is aktueel. Daar is nie Koronavirus hier ter spake nie, wel epidemiese hondsdolheid. Ek wil weer hierdie skrywer se verbeeldingsvlug gaan verken. “Edgy” is deel van die pakket met Palahniuk en hierdie boek is eksperimenteel – dalk soms steurend so. Ek het met ’n eerste lees (dit het in 2007 verskyn) kwaai vasgeval en die boek laat vaar. Dit is wel waar ek die eerste keer met die konsep van “patient zero” kennis gemaak het. Onaangename kennis, wil ’n mens sê en vra vir iets bietjie meer stigtelik.

So, Clayton Christensen en twee medeskrywers se sagteband met die min-vir-verbeelding-titel van How will you measure your life?

Christensen is wys en het volop ervaring in die sake- en akademiese leefwêreld. Nou delf hy dieper en kyk hoe strategiese beginsels agter sakesukses op die gesinslewe van toepassing is. Die toon van die boek is taamlik “gentle”, maar tog ferm en soms ’n bietjie meerderwaardig; asof alle teenspoed in die lewe herlei kan word na een of ander taktiese fout; of erger nog: asof alle geluksalige uitkomste in die gesinslewe herlei kan woord na ’n slim “wedstrydplan” vir die lewe. Maar goed, die boek laat ’n mens dink en besin. Hy haal CS Lewis aan wat skryf: “The safest road to Hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts.”

Gepraat van titels wat die omvang van die boek volledig omarm! Hier is Dirty, sacred rivers: Confronting South Asia’s water crisis deur Cheryl Colopy.

’n Boek oor berge, riviere, toilette en – nie dat ons dit tans juis nodig het nie – ’n herinnering aan die feit dat die aardbol kreun onder die las van haar bewoners. Daar is bewyse dat daar reeds 5 000 jaar gelede sittoilette en gesofistikeerde dreineringstelsels bestaan het in hedendaagse Pakistan, skryf Colopy. “The history of toilet and sanitation throughout the world has been very up and down … Well-off people usually managed something functional and aesthetic for their own needs, from Knossos to Rome. But poor people have generally had to make do with open fields or streets.” In Europa het dit bygedra tot die dood van tienduisende mense aan cholera. Dit is “sobering” leesstof wat die soms vaagomlynde onderwerp van “die ekologie” uit sy abstraksie pluk tot ’n staanplek ongemaklik naby aan die lyf.

En laastens, Giovanni Boccaccio se The Decameron (vertaal deur GH McWilliam vir ’n Oxford University Press-reeks met ’n pragtige omslag en indeks vir die byna 700 bladsye in sagtebandformaat). Die uitgangspunt van die boek (storievertellers maak beurte om mekaar te vermaak terwyl ’n plaag mense genadeloos afmaai buite die mure van hulle vermaak) het my jare gelede as eksoties en vergesog getref. Nou het die geskiedenis ons ingehaal.

  • Deel gerus jou leeslysie met lesers in die kommentaarafdeling hieronder indien jy al die pad tot hier gevorder het met hierdie artikel. – Red