Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Dan is hulle daar: die ibisse. Laag kom hulle oor die huise se dakke uit Swartriet se rigting gevlieg, asof hulle die seën op die dag kom uitspreek – reeds die tiende dag wat ons almal tuis moet bly," vertel Dana Snyman in dié rubriek.

Palmsondag: Soos Noag, soos Jona …

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Laatmiddag stap ek uit in my klein voortuin. Die honde draai om my. Hulle wil gaan stap, maar ons mag nie gaan stap nie. Dit het ’n oortreding geword om buite jou erf te wees.

Ek gaan sit op die bankie teen die muur. Ek kan nie die see sien nie, maar ek kan die geruis van die see hoor, en kort-kort die dowwe slag wanneer die water teen die rotse by die visfabriek slaan. In die lug is die geil reuk van verrotte seebamboes. Nȇrens is iets wat beweeg nie. Ek voel soos Noag op die dek van die ark.

Nȇrens in die land het mense vandag saam in ’n kerkgebou gesit nie. Op baie plekke in die buiteland was dit dieselfde. In Spanje. In Italië. In Amerika. Oral geld maatreëls wat mense belet om in groepe byeen te kom – alles om te probeer verhinder dat die Covid 19-virus verder versprei. ’n Vriendelike omhelsing het ’n moontlike doodsvonnis geword.

In die koerant was vanoggend ’n opskrif: “Die helfte van die wȇreld moet tuisbly”. Toe onthou ek weer hoe oorlede Pa of Ma – meer dikwels Pa – my soms, toe ek ’n kind was, vies na my kamer gestuur het wanneer ek ongehoorsaam was of orig geraak het wanneer mense by ons gekuier het. “Kamer toe!” sou Pa beveel en gang-af beduie. “Kamer toe!”

Dit was jou straf: In jou kamer moes jy gaan nadink oor wat jy verkeerd gedoen het. Daar, alleen, moes Pappa se stout seuntjie tot inkeer kom.

Dit voel onwerklik: In New York, die stad wat nooit slaap nie, is die strate nou stil terwyl ek hier op stil Jacobsbaai sit. In Madrid is dit stil. In Londen stil. Elke dag sien jy die beelde van leë strate en kantoorblokke oor die televisie.

Ons is kamer toe gestuur. Ons is saam met Jona in die walvis se ingewande.

Vanoggend het ek vir ’n ruk voor my rekenaar gesit en soek tussen al die virtuele kerkdienste wat op die internet aan die gang was. Een predikant staan op die grasperk voor ’n kerkgebou en preek. ’n Ander een is in sy sitkamer, met skuins agter hom teen die muur ’n skildery van ’n leeumannetjie onder ’n doringboom.

Daardie pastoor wie se hemp so styf oor sy gegimde bo-arms span vergelyk die virus met die Bybelse plae wat Egipte getref het. “It’s the finger of God!” bulder hy oor sy leë ouditorium uit. “We’re experiencing God’s anger!”

Ek weet te min van God af om te weet of Hy ons met hierdie virus wil straf. Ek is skepties oor mense wat met te veel selfvertroue en bombasme oor God se bedoelinge praat.

Het ons nie miskien hierdie virus oor onsself gebring nie? wonder ’n mens.

My honde het hulle versoen met hulle lot. Twee van hulle lȇ nou op die stoep, die ander een is by my voete, kop op die pote. ’n Slak sukkel teen die tuinmuurtjie uit.

Die aarde, sȇ die wetenskaplikes, is ’n lewende geheel. Alles is verbind aan mekaar, en afhanklik van mekaar: Lug, water, grond, die plante, die insekte, reptiele, die diere; en ons, die mens. Alles een. Wat met ’n vlooi of ’n olifant gebeur, raak ook my op ’n manier.

Maar ons met ons onbeperkte begeertes en grenslose drome het die ewewig wat tussen alles behoort te bestaan, ernstig versteur. Ons wat knaend soos ’n bedorwe kind net meer wil hȇ, hȇ, hȇ. Nog motorkarre, nog rooivleis, nog ’n skivakansie.

Ek is verbaas oor die hoeveelheid goed wat ek elke dag in die asdrom smyt. Die vrou wat my huis skoonmaak, mag nie in hierdie grendeltyd kom werk nie. Opeens is ek in beheer van my eie vullis: plastiekhouers, -bottels en -sakke. ’n Halfgeëete aluminiumbakkie macaroni-en-kaas. Twee onklaar gloeilampe. ’n Gebreekte gordel.

Oral in my huis is die bewysstukke van ’n onnadenkende verbruikerslewe: drie skeermesse in die badkamerkassie, ’n kasvol hemde waarvan ek net die helfte dra, twee ou selfone in die bedkassie se laai. In die mandjie langs die TV-stel is agt of nege van hierdie afstandbeheergoeters – selfs vir die videomasjien en DVD-speler wat ek nie meer het nie.

Die ys in die Noordpool smelt, in Australië was apokaliptiese brande, eilande van plastiek dryf in die see, en op Kenhardt in die Boesmanland het dit nege jaar laas ordentlik gereën. Miskien moes hierdie virus kom om die ewewig te probeer herstel.

Die son sak agter die huise oorkant die straat in. Die aalwyne in die bedding se skaduwee raak al bleker, en verdwyn. Die lug begin gloei: eers silwer, dan al rooier.

Dan is hulle daar: die ibisse. Laag kom hulle oor die huise se dakke uit Swartriet se rigting gevlieg, asof hulle die seën op die dag kom uitspreek – reeds die tiende dag wat ons almal tuis moet bly. Ek verbeel my ek kan die suising van hulle vlerke deur die lug hoor. Al verder vlieg hulle weg. Teen die muurtjie beur die slak steeds boontoe. In die honde se drinkbak dryf ’n helder halfmaantjie.

Na Pasternoster se kant toe sal die ligtoring by Cape Columbine heelnag die donker oor die see wegvee.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

9 thoughts on “Palmsondag: Soos Noag, soos Jona …”

  1. Estie Neethling

    Mooi, Dana. So doen ons almal introspeksie in hierdie moeilike onwerklike tye. Sterkte daar in Jacobsbaai. Ek sit ook hier buite my huisie in die lenteaand in Engeland en ruik die bloeisels, en luister na die stilte en die voels wat wil gaan slaap.

  2. Henda Oosthuysen

    Dana skryf altyd tot in my siel in.. Dankie Dana.. Jy bly my gunsteling..

  3. Cassie Carstens

    Dankie Dana vir hierdie hartroerende maar waar artikel.y seun het dit vir my aangestuur.y sklaag daarin om ons gedagtes net weer bietjie los te maak en te sien hoe ons die aarde straf met ons veeleisende lewensstyle. Ek wens ek kan jou ontmoet sodat ons lekker op die stoep kan sit met ‘n glasie en ons gedagtes met mekaar te kan deel. Dis sal ons siele oneindig Ryker maak sodat ons net weer kan besef daar is ander rondom ons wat dit nie kan ervaar nie. Dis ‘n Godgegewe vreugde. Nogmaals dankie ou vriend en mooi loop.

  4. Jean Erasmus

    Ja Dana, jy het ‘n gawe om te verwoord wat so baie van ons ervaar. Ons diere is almal baie rustig, asof ook hulle weet dis ‘n tyd vir stilraak……..behalwe wanneer ons eenmaal in die oggend en eenmaal in die middag op en af huppel in ons pypsteel-oprit…….Sterkte aan almal, mag elkeen in Sy Rus wees; mag ons elkeen die Rustigheid van Abba ervaar in hierdie tyd – to rest in You, Abba Father, is to be content and know that I know: You are in charge of everything happening. Amen

  5. Baie dankie vir die voorreg dat ek steeds jou Kerkbode boodskap kan lees. Nou dat ek dit nie meer IN die kerk kan sit en lees nie (darem nie terwyl Francois preek nie!), doen ek dit nou in my huis agter die rekenaar. Dit bly ‘n voorreg en dankie vir al jou insig wat jy so mooi in woorde kan omsit!

  6. Maretha vd Westhuysen

    Dana, die verwoording van sovele van ons se eie gedagtes. Hoe moeilik ookal vir die mens, die aarde het die rus nodig.

Comments are closed.

Scroll to Top