Virtueel trou is nie perdekoop nie

Ek wil nie die troukar omgooi nie, maar hoe fasiliteer ons huwelikseremonies in ’n grendelstaat met inperkinge? Verskeie paartjies het in ’n rekordtyd ’n seremonie gereël voor die inperkings geïmplementeer is, terwyl ander bruidspare die fases van inperking om bid. Paartjies en huweliksbevestigers regoor die wêreld het kreatief op hierdie uitdaging gereageer: ’n Huweliksbevestiger in Italië het onder in die straat gestaan en ’n paartjie op ’n balkon in die huwelik bevestig. ’n Ander huweliksbevestiger van die Verenigde State het weer vanuit sy venster op die derde verdieping uitgehang en ’n paartjie getrou. In lande waar beweging meer beperkend is, is daar paartjies wat trou aan mekaar via sosiale media beloof, met gaste in deftige trouklere en heildronke.

In ons huidige praktyk van huweliksbevestiging verteenwoordig die meeste predikante die staat en die kerk, maar dit was nie altyd die geval nie. Die vroegste aanduidings van ’n huweliksbevestiging dui op ‘instemming’. Aanvanklik was dit die instemming van die ouers in ’n patriargale stelsel, en eers later ook die instemming van die bruidspaar. Hierdie instemming is as wetlik en bindend beskou. Dit het waarskynlik deels met die beskerming van ‘eiendom’ en ruiltransaksies te make gehad, alhoewel daar natuurlik ook verliefde paartjies deur die eeue was soos Jakob en Ragel. Die Katolieke kerk het eeue later die huwelik as ’n sakrament verklaar en dus die rol van die kerklike bevestiging ’n vereiste gemaak.

Met die reformasie word ’n doelbewuste keuse gemaak dat die huwelik nie ’n sakrament is nie. Luther en Calvyn het ook bygedra tot ons kerk-en-staat-verhouding in terme van huweliksbevestiging. Luther het die huwelik as ’n funksie van die staat beskou. Calvyn het egter gemeen dat beide die staat en kerk ’n rol het om te speel, naamlik die wetlike registrasie deur die staat en die predikant (God se verteenwoordiger) wat ’n huwelik seën. In vandag se tyd doen die meeste predikante beide funksies tydens een seremonie waar ons liturgie begin met die bewuswording van God en ’n gemeenskap se teenwoordigheid (wat die preek insluit). Dit word gevolg deur die wetlike bevestiging en dan feesviering tydens die onthaal.

Predikante se primêre rol in huwelikseremonies is die liturgiese fasilitering van twee mense wat aan mekaar, voor God en hulle gemeenskap, trou beloof. Die wetlike aspek is teologies en liturgies sekondêr hieraan. Daarom kan predikante steeds hulle primêre rol in huwelikseremonies te midde van beperkinge op samekomste in die fases van grendeltyd vervul. Die huidige ritueel van huwelikseremonies (bewuswording van God en ’n gemeenskap se teenwoordigheid, wetlik en feesviering) kan in die fases van grendeltyd van mekaar losgemaak word en in verskillende rituele fases gefasiliteer word:

  1. Bewuswording van God en ’n gemeenskap se teenwoordigheid

Hou ’n virtuele huwelikseremonie met die paartjie se gemeenskap wat ook inskakel. Hierdie seremonie is soortgelyk aan die eerste gedeelte van ’n trouliturgie. Dit behels: die bewuswording dat God mense bymekaar roep, ’n kort preek, gevolg deur die paartjie wat aan mekaar trou beloof.

  1. Wetlike bevestiging

Wanneer die inperkinge dit toelaat, bevestig die huwelik wetlik. Die wetlike aspek van die huwelik moet sover moontlik toegepas word. Dit bied in ons konteks verdere wetlike beskerming.

  1. Onthaal (feesviering)

Die meeste bruidspare wat in hierdie grendeltyd sou trou het reeds vir ’n onthaal, trourok en fotograaf betaal. Reël ’n feestelike seremonie vir wanneer die onthaalplek weer ’n datum beskikbaar het. Die paartjie kan byvoorbeeld steeds hulle trouklere dra en foto’s neem. By hierdie geleentheid kan die bruidspaar ook hulle eie beloftes aan mekaar voorlees, ’n ritueel saam doen, of seënbedes lees. Familie/vriende word by die liturgie betrek en die liturgie kan selfs deurlopend in die onthaal, alles in een ruimte, plaasvind.

Paartjies kan ook, wanneer die beperkinge dit toelaat en indien hulle dit verkies, eerder ’n kleiner/intiemer seremonie hou wat die wetlike aspek insluit.

Die feesviering van huwelike, waar vriende en familie saam kuier, is egter nie ’n hedendaagse verskynsel nie (dink maar aan die troue in Kana waar Jesus water in wyn verander het). Huwelikseremonies gaan waarskynlik anders lyk in die volgende paar maande, as gevolg van ekonomiese omstandighede. Miskien ontdek ons opnuut die eenvoud van trou aan mekaar, voor God en ons gemeenskap, beloof.

Deur die eeue was daar nie ’n vaste model van huwelikseremonies nie. Dit het al verskeie vorme aangeneem en ontwikkel. Die ruimte waarin huwelike bevestig word het verander vanaf ’n familie-aangeleentheid na die kerkgebou en vandag spesiale huweliksonthaalplekke. Waarom dan nie ook ’n virtuele ruimte nie? Om te trou is egter nie perdekoop nie en selfs virtuele huwelikseremonies moet met erns benader word.

  • Ds Anandie Greyling is predikant by NG Doornkloof Familiekerk in Centurion en het ’n passie vir liturgie en rituele.

2 thoughts on “Virtueel trou is nie perdekoop nie

  1. Muller Oosthuizen says:

    Dankie Anandie
    Dis letterlik so eenvoudig soos jy dit beskryf.
    Ons jongste dogter trou vandag oor digitale verbindings heen … dis “HUL datum” soos hulle beplan en gedroom en betaal het.
    Die papierwerk van die staat is ‘n rubberstempel wat baie eenvoudig “eendag” afgehandel kan word. Die party wat so vrek baie geld kos, kan ook “eendag” gedoen word. Of glad nie – dit raak in nuwe perspektief ‘n nulligheid.

  2. Ronel Myburgh says:

    Goeie dag – ons dokter (proponent) sou komende Sondag trou … ons het wel navraag gedoen en binnelandse sake wil nie eens vir ons predikant n register gee nie … nou moet ons seker maar wag tot hulle een dag die troue wel kan hou

Comments are closed.