’n Nutsman sonder nut, ’n kerk sonder mure

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Sedert die begin van die inperkings ry ek elke oggend Saldanha toe om die koerant by die OK Foods te gaan koop. Party oggende luister ek na ’n opname van die Onse Vader wat Engelette Kruger, ’n orrelis van Pretoria, vir my op WhatsApp aangestuur het.

Baie oggende wag John Mgaga vir my by die OK Foods, met ’n verfroller, of ’n saag, of iets uit sy gereedskapkis wat hy wil verkoop.

John Mgaga is ’n nutsman vir wie daar nie meer nut is nie – veral nie noudat die land tot stilstand gekom het nie. John het reeds sy hamer en twee van sy skroewedraaiers verkoop om geld vir kos te kry. Ek gee maar altyd die goed weer terug wat ek by hom koop.

’n Ander ou wou ’n vinknes aan my verkoop. Ook op Saldanha. Die ou se naam is Michael Jantjes. Hy het die vo­rige aand in ’n sloot voor die polisie­kantoor op Vredenburg geslaap, het hy vertel. Die vinknes het hy glo op Dwars­kersbos uit ’n boom gehaal. Hy kom eintlik van Namibië af. Hy wou kom werk soek op die Weskus se bote, maar nou het die koronavirus hom hier vas­gekeer.

As jy die vinknes by jou huis ophang, het hierdie Michael Jantjes verduidelik, sal daar gou vinke intrek wat soggens mooi liedjies vir jou sal sing.

Ek het die vinknes vir ’n paar rand by hom gekoop, en dit toe weer vir hom teruggee.

Ek voel al hoe meer soos daardie oom op die basaarveiling wat ’n bil­tongsnyer of ’n handgevlegte sweep koop, dan gee hy dit terug om weer op­geveil te word.

Ek het ’n foto van Michael Jantjes geneem. Op die foto staan hy op die sy­paadjie oorkant Sharky’s, met die vink­nes in sy hand. Sharky’s is nou al vir weke toe omdat die regering besluit het niemand mag warm kos verkoop nie – een van die baie dinge in die wêreld wat ’n mens nie op die oomblik kan verstaan nie.

Van John Mgaga neem ek ook omtrent elke dag ’n foto waar hy in die straat voor OK Foods staan, met die verfroller of watter gereedskapstuk hy ook al die bepaalde dag wil verkoop, in sy hand. John Mgaga word al maerder, maar dalk verbeel ek my net.

Ek neem die foto’s omdat ek bang is mense sal my eendag nie wil glo as ek hulle vertel hoe vreemd die koronavirus alles kom maak het nie.

Daar gebruik ek weer daardie woord: Vreemd. Ek gebruik dit te veel. Telkens betrap ek myself dat ek vir iemand iets sê of skryf soos: “Ek hoop jy is oraait in hierdie vreemde tyd.” Of: “Alles voel vreemd. ’n Mens weet nie mooi wat gaan gebeur nie.”

Dit is asof die woord “vreemd” knaend moet instaan om uitdrukking te gee aan die gevoel van verwildering wat ek tans beleef. Ek vermoed ander mense het dieselfde gevoelens. Dit is asof ons almal ’n bietjie vinniger in die winkels stap, een-een, terwyl ons oë mekaar bokant ons maskers vermy.

Michael Jantjes

Ek het ook ’n foto geneem van die karton met tien pakkies Peter Stuyvesant in wat ek en my vriendin Saterdag met swetende handpalms vir R650 by ’n spesifieke iemand in ’n spesifieke straat in ’n spesifieke woonbuurt aan die Wes­kus gaan koop het. Ek wonder of dit sonde is?

Nie ek of my vriendin rook nie. Ons het die Peter Stuyvesants gekoop vir haar 85-jarige ma en 86-jarige pa. Beide rook al hulle lewe lank en het die simptome van nikotienonttrekking be­gin toon. Angstigheid. Humeurigheid. Slaaploosheid.

’n Man van wie ek dit nooit verwag het nie, het Maandag vir my ’n Whats­App gestuur en gevra of ek weet waar hy mampoer kan kry. Sy wyn is op en hy het gehoor iemand op ons dorp het ’n ketel gebou en begin mampoer stook.

Iemand op ons dorp het inderdaad begin mampoer stook en ek kon die man help om ’n klein botteltjie mampoer in die hande te kry. Iemand anders maak weer pynappelbier.

In die laaste ruk het ek myself knaend daaraan herinner dat Jesus se eerste wonderwerk was om op die bruilof in Kana water in wyn te verander. Dalk het Jesus dit gedoen om te verhinder dat van die bruilofgangers vinnig wyn by daardie jare se weergawe van ’n smok­kel­kroeg gaan koop. Ek kry deesdae al sulke vreemde gedagtes.

Dit kan nie maklik wees om nou ’n predikant te wees nie, met die kerke wat gesluit moet bly.

Ek glo nie ek het al ooit na die Onse Vader buite ’n kerkgebou geluister nie. Nou ry ek baie oggende deur Saldanha se vreemde strate en luister hoe Engelette die Onse Vader in die NG Elarduspark in Pretoria speel. Ek kyk na John Mgaga en Michael Jantjes met sy vinknes op die sypaadjie, en na die rye mense by die kliniek agter Spar, terwyl daardie magtige klanke in my bakkie weerklink, en dan voel dit vir my of die hele wêreld skielik ’n kerk is, en dis mooi en goed so.

8 thoughts on “’n Nutsman sonder nut, ’n kerk sonder mure

  1. Wilna de Klerk says:

    Fantasties en ‘n ware opsomming van die snaakse (eintlik geskiedkundige) tye waarin ons leef. Hier op ons dorp is ook Johns en Michaels maar gelukkig ook Engelette. Hulle sê “what comes round goes round” so die huidige sal ook verby gaan. Almal moet net vasbyt.

  2. Danie Strydom says:

    Pragtig geskryf, Dana. My hart breek as ek dink aan mense wat nie weet waar vandag se stukkie brood vandaan sal kom nie. Dan besef ek opnuut as ons nie hande uitsteek na mekaar en mekaar dra nie gaan niemand van ons aan die einde hiervan iets hê om oor te droom nie.

  3. Andre says:

    Mooi storie. Deel as die weergawe van Engelette met ons

  4. Maritha Hamman says:

    Ai Dana, my hart pyn sommer vir al die verlorenes in ons samelewing. Vir al die moeders wat vandag Moedersdag moet vier sonder n drukkie van hulle kinders…vir mense wat nie meer weer wátter kant toe nie en vir trane wat stilweg vloei…

  5. Tilla says:

    Stof tot nadenke.
    Die hele wereld is Kerk!

  6. Petro Pentz says:

    Sjoe Dana watter spesiale boodskap!!
    Ja daar is mense wat honger is en nie kos kry nie. Wat gewoond was om te werk vir kos op die tafel.
    Dit is vir hierdié mense wat ek jammer kry, wat nie gewoond daaraan is om te bedel nie.
    Ek sluk baie swaar aan my eie bord kos as ek sulke stories lees.

    MAG iemand raaksien dat daar ook in Saldanha nood is, en dat diegene wat gewoond was om vir hulself te sorg weer hul werk kan hervat!!

    Groete uit die Strand
    Petro Pentz
    Admin Beampte
    NG Gemeente Suider-Strand (Grendeltyd)

  7. Theuns says:

    Dana, ek lees al lank jou stukke. Ek beny jou vir jou oë en siel wat alles om jou so mooi, korrek, diep en met gevoel kan raaksien en dit dan weerens met soveel eerlikheid kan weergee!
    Daar is in elke dorp menigte mense soos John en Micheal (in alle kleure van die reenboog) maar net so is daar ook gelukkig baie soos Engelette (ook in alle kleure van die reenboog) wat help met iets te ete, te drink en iets vir die siel ook. In die “vreemde” tyd is dit juis die Engelette’s wat die “kerk” na John en Micheal (en ons) toe vat!
    Dalk het ons dit al die tyd verkeerd gedoen om te wag dat mense kerk toe kom?

  8. Retief Marais says:

    Die hele wereld is inderdaad kerk, sommiges moet nog Jesus, wat vir almal gesterf het, ontmoet en glo soos Thomas, en bely my Here en my God.

Comments are closed.