Eredienste en saamtrekke steeds taboe

Daar is g’n rede om te glo dat die Suid-Afrikaanse regering binnekort sy standpunt oor die verbod op godsdienstige saamtrekke sal wysig nie, volgens dr Gustav Claassen Algemene Sekretaris van die NG Kerk. 

In sy gereelde nuusbrief op die NG Kerk se webwerf verwys Claassen na die onsuksesvolle poging van ’n “Moslemgroep” om toegewings rondom die viering van Ramadan via die hof te bekom. “Die uitkoms (van die aansoek) is vir ons en ander geloofsgroeperinge baie belangrik en bring duidelikheid oor die feit dat kerklike byeenkomste nie gou toegelaat sal word nie,” aldus Claassen. 

In sy buitengewone omvattende skrywe vroeër die week, skryf Claassen: “Die hof het verwys na die Zion Christian Church wat hulle byeenkoms tydens Paasfees gekanselleer het, kinders wat nie skool toe kan gaan nie, besighede wat gesluit word, die informele indiensnemingsektor van die ekonomie, en so meer.”

Terwyl sommige Suid-Afrikaners dit as vanselfsprekend sal beskou dat eredienste nie te midde van die risiko’s rondom die verspreiding van Covid-19 mag plaasvind nie, het die drukgroep Freedom of Religion South Africa (For SA) op 14 Mei ’n media-verklaring uitgereik waarin hulle vra dat die regering regulasies wat die godsdiensgemeenskap betref, moet heroorweeg. Michael Swain, uitvoerende hoof  van FOR SA, het onder meer na ’n hofuitspraak in die deelstaat Kentucky in die VSA verwys as deel van ’n pleidooi om groter buigsaamheid. “If social distancing is good enough for Home Depot and Kroger, it is good enough for in-person religious services which, unlike the foregoing, benefit from constitutional protection,” lui die aanhaling wat Swain gebruik.