Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (1959-2020), hier agter die kansel afgeneem tydens 'n kerkviering in Belhar 2019. Foto: Le Roux Schoeman

Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (60) sterf: Sy was ‘ma’ vir vele

“Ons hart is gebreek,” het dr Llewelyn MacMaster gesê oor die afsterwe vanmiddag van prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, ’n geliefde en gerespekteerde kerkleier.

MacMaster, moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland, het vroeër die dag nog aan besorgdes via Twitter laat weet: “Haar toestand is steeds kritiek, maar stabiel …”

Maar kort voor 15:00 het hy via ’n Facebook-videoboodskap die nuus gebreek dat Plaatjies-Van Huffel oorlede is. Sy was 60.

“Sy het die kerk op soveel vlakke gedien – selfs wêreldwyd is sy erken vir haar leierskap. As VGKSA treur ons oor ’n pionier wat groot werk gedoen het,” het MacMaster gesê.

Meer besonderhede oor die oorsaak van haar dood was nie ten tye van publikasie bekend nie.

Plaatjies-Van Huffel was die eerste vroulike leraar in die VGKSA, het MacMaster gesê. “Ons gaan jou mis, Mary-Anne, “ma”, jou voorletters het so beduidend geword, want jy het ’n ma vir vele geword. (Jy het) omgesien na soveel jong dominees – veral vroulike dominees – maar ook studente. As kerk en as sinode – sy was deel van ons moderamen – betreur ons die dood van Mary-Anne Plaatjies … Ons bid dat God ons sal help om haar nalatenskap te eerbiedig.”

  • Dié berig is ná publikasie aangepas.

Meer oor ‘Ma’ Plaatjies-Van Huffel

PLAATJIES-VAN HUFFEL, MARY-ANNE (1959-2020) is met ds David van Huffel van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) getroud. Ná die verwerwing van haar BTh (Hons) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, word sy in 1991 die tweede vroueproponent in die destydse NG Sendingkerk. Die volgende jaar word sy in Robertson-Oos as die eerste vrouedominee in die hele NG Kerkfamilie georden.

In 2002 word sy as aktuarius van die VGKSA se Sinode Kaapland verkies, later as moderator van dié streeksinode en uiteindelik as moderator van die Algemene Sinode van die VGKSA – almal eerstes vir ’n vrou in hierdie kerk. Sy word ook adjunk-president van die Wêreldraad van Kerke met verantwoordelikheid vir Afrika.

Vir haar meestersgraad ontwikkel Plaatjies-Van Huffel ’n multi-dissiplinêre benadering tot die rehabilitasie van prostitute, en in 2003 promoveer sy aan die Universiteit van Suid-Afrika in die sistematiese teologie (dogmatiek) oor Vroue in die teologiese antropologie in die Afrikaanse gereformeerde tradisie. Haar promotor was ’n ander bekende vrou in kerklike kringe, prof Christina Landman. Dié studie behels ’n poststrukturele en feministiese benadering tot vroue in die Afrikaanse gereformeerde tradisie. Dit lewer ’n belangrike teologiese bydrae tot die wêreldwye debat oor poststrukturalisme. Daarin daag sy Afrikaanse gereformeerdes uit om hulle eie mensbeskoulike voorveronderstellings tot tekste wat hulle lees, krities te ondersoek. Mettertyd behaal sy ook ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria in die kerkreg en word professor in kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch. – Pieter Fourie. | Bron: Christelike kernensiklopedie 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

6 thoughts on “Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (60) sterf: Sy was ‘ma’ vir vele”

  1. Pikes Swarts

    Aan Dawid en familie

    Ons deel die hartseer met julle. Alle sterkte.

  2. Prof Dr CD van der Westhuizen

    My deepest condolences to your family and may God comfort them in this sad time of bereavement. RIP MA Plaaitjies Huffel

  3. Andrew Bruintjies

    Dawid baie sterkte in hierdie tyd van jou smart en pyn. Onthou God is in beheer!. Hy is God Immanuel!
    God altyd by jou.
    Ek sal Mary-Ann altyd as ‘n oud klasmaat onthou wat ‘n groot liefde vir haar Heer en medemens gehad het. Haar mooi nagedagtenis sal altyd deur baie onthou word.

  4. Dirk en Rina

    Baie baie sterkte Dawid… ons bid vir jou??? She was one of a kind?? Alle eer kom die Heer toe✝️✝️ Dirk en Rina

  5. My sincere sympathy and love to the Plaatjies and van Huffel families.

Comments are closed.

Scroll to Top